Hoe snaaks dit ook al mag klink, is dit waar dat te veel godsdiens ‘n slegte ding kan wees.

Só het ds Wynand Fourie, leraar van Windhoek Wes en Nuwe Testament dosent by NETS, sy aanbieding oor die Hebreër-brief begin met ‘n aanhaling van Tom Wright, die bekende Nuwe Testamentikus. Wynand het opgetree by die winter-predikantekonferensie van die Namibiese dominees.

Hebreërs is geskryf vir gelowiges wat “te godsdienstig” geword het. Wright noem hulle Jesus-en Christene. In Hebreërs is daar sprake van Jesus-en-engele, Jesus-en-Moses, Jesus-en-priesterskap.

Die oorspronklike lesers het dit moeilik gehad. Hulle het vervolging ervaar in die vorm van beledigings, openlike spot en daar is op hulle besittings beslag gelê.

In ‘n poging om self hierdie ongemaklike situasie te probeer “bestuur”, het die gelowiges in die “koppel-tekens” begin “belê”.

Die Hebreër-brief vee hierdie koppeltekens uit. Die fokus word weer helder: Dit is wat God in Jesus gedoen het wat saak maak. Christus is regtig genoeg!

Die bekende Afrikaanse teoloog Stephan Joubert, sê oor Hebreërs: “Hebreërs is ‘n aangrypende maar ingewikkelde boek wat op unieke manier nadink oor die aard, funksie en impak van Christus se sterwe en opstanding en die implikasies hiervan vir sy kerk in terme van hulle verlossing en etiese gedrag.”

Met hierdie fokus het Wynand die dominees gehelp om die “slap hande en lam knieë” (Heb 12:12) weer op te tel en met nuwe moed vreugde in die bediening te vind.