Klik hier om die nuusbrief eerder op die internet te lees.

BY DIE VERLIES VAN TWEE GROOT GEESTE

Hendrik van Zyl en Jan Woest

– Dr André Olivier Moderator skryf

Binne enkele weke uit mekaar, het ons vir Hendrik van Zyl en Jan Woest verloor. Hulle het, soos ons graag sê, ons vooruit gegaan. Beide van hulle is onnatuurlik vroeg van ons weggeneem. Hendrik, nadat hy met kanker geworstel het, en Jan na sy skietongeluk.

Hulle het baie in gemeen gehad. Beide is gebore Namibiërs. Beide het diep spore in die kerk getrap op gemeentelike vlak, maar ook breër in die kerkverband. Beide het hulle diep ingegrawe op die terrein van teologiese opleiding. Beide was boerseuns in hulle harte. En, beide was besonder nederige mense, ten spyte van die feit dat hulle die benaming “groot geeste” verdien het. Of, sou hulle twee gesê het: deur genade geword het.

Gepraat van “geword het”. ‘n Gesegde wat my by bly is die woorde: “The man I have become”. Kan natuurlik man of vrou wees. Hoe is ons deur die Here, die lewe en ons keuses gevorm om te wees wie ons uiteindelik word. Hoe bereik ons die Here se bestemming met ons lewens? Ons is dikwels soos ‘n vis in ‘n brander wat geskuif word deur die golf, terwyl ons dink dit is deur ons inspanning.

Beide Hendrik en Jan het die mense geword wat deur die Here beskik is om, in hulle uniekheid, te ontwikkel totdat hulle hulle “eie mense” geword het wat ‘n leidende profiel in die lewe van die kerk en hulle mense ingeneem het. Hulle is gevorm deur die Here in hierdie land en sy omstandighede tot die mense wat hulle hier was.

Waarheen gaan ek hiermee?

Wanneer sulke groot bome val, val die skaduwee wat hulle gebied het, en die vrugte wat hulle lewens gedra het grootliks weg. Dan beleef almal naby hulle verlies. Ons ervaring was dat ons almal verlies gely het, en dan treur ons. Ons treur omdat ons liefhet en verloor het.

Ons het nie iets verloor nie, maar mense wat in die kern van ons geloofsgemeenskap in die sentrum gestaan het.

Daar is nou ‘n groot gat. ‘n Gat aan die afwesigheid van geliefde persone, maar ook aan teologiese en- geloofskrag. Daar is ook ‘n gat aan korporatiewe geheue. Beide Jan en Hendrik het gegroei saam met die kerk se groei, en gelewe saam met die lewe van die kerk op hierdie stukkie aarde.

Die gemis, en die gat en die treur is so groot omdat ons land uniek is.

Ons is ‘n klein sinode in ‘n groot land met altyd beperkte kundigheidsvlakke. Ons het twee werklike kundiges op hulle onderskeie terreine verloor. Maar, baie meer as dit, ons het nabye vriende en kennisse verloor met wie ons nou’ saamgewerk het, en wie ons goed geken het.

Met hierdie skrywe gee ek erkenning aan almal se treur en verlies.

Moenie dat ons daaroor spring nie, maar laat ons vir ‘n oomblik hierby stilstaan. In ‘n boek wat einste Jan vir my aanbeveel het, en wat ons ‘n jaar lank in die gemeente behandel het, word die kritiese stelling gemaak: “Die Here is in alle dinge teenwoordig, kyk hoe Hy in alle dinge teenwoordig is”.

Hoe is Hy teenwoordig in die verlies van hierdie twee besondere predikante en mense? Miskien vir ons elkeen anders. Elkeen sal die Here se stem op ‘n eie manier hierin hoor. Dit kan dalk wees dat ons in die eerste plek dankie sê vir die jare wat die Here hulle aan ons elkeen geleen het.

Dankie vir hulle invloed op ons eie lewens, die samelewing en die kerk.

Maar ons hoor ook die Here sê, dat hy ons vir mekaar gegee het.

Ons moet hierdie kosbare skatte, mekaar, diep ag en waardeer terwyl ons mekaar het. Ons mag nie toelaat dat enige negatiewe krag of mag of by-sake hierdie diep bande aantas nie. Dit is mos juis Jesus wat ons leer van die eenheid onder gelowiges in Johannes 17. Moet ons nie ook hierin hoor dat ons die lewe hoog moet ag terwyl ons dit het nie.

Matteus 5 leer juis dat die lewe belangriker is as wat ons aantrek of eet. Hoor ons nie ook die Here sê, terwyl julle die kans het om die lewe te leef moet julle sulke spore trap waarop ander sal kyk en sê, dit was goed, want dit was op die spore van ons Meester.

Dit het ook te doen met hoe ons doen-funksies ontwikkel het, maar het veral te doen met watter soort mense ons geword het. Word ons al meer soos ons Meester? Ons twee geliefde broers het so baie van ons Meester vertoon dat ons dit nie kon miskyk nie.

Jy alleen sal weet hoe die Here vir jou teenwoordig is in die verlies van twee van ons hooggeagte en geliefde kollegas.

Ons eer hulle nagedagtenis en dra hulle geliefdes gereeld op aan ons Hemelse Trooster. Kom ons omhels mekaar solank ons mekaar nog het.