Header

Jaargang 16 - Uitgawe 24/2019 - Woensdag 17 Julie 2019

ngkn@ngkn.com.na

Roeping 2017 is die roetekaart vir ons kerk-wees die volgende paar jaar in Namibië.

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Familie-nuus

• Op die radio...

• Voorbidding

• Vakatures

• Giggel

Nuusbrokkies

Help shack-bewoners só teen die koue en reën!

'n Maatskaplike werker het ons met hierdie maklike praktiese wenke gehelp om 'n verskil te maak aan shack-bewoners se lot - en dit kos amper niks! 

Jy kan leë plastiek hondekos-, selfs katkossakke, vir shack-bewoners gee. Maak die sakke bymekaar en stuur dit met iemand wat in die omgewing woon waar daar shacks is om uit te deel.

Die droë kossakke wat van sterk plastiek gemaak is, kan effektief gebruik word om shacks meer waterwerend te maak en sommer boonop warmer ook. Dit kan gebruik word om in die gaatjies en skeure ingedruk te word om die shacks digter toe te maak.

Dit kan ook tussen die plate ingeskuif word – baie plate is tweedehands en het gate. So sal dit die verhoed dat die reënwater in hul wonings indrup.  Hulle gaan moontlik die toekomstige somerreëns meer geniet as voorheen.

As jy dalk stene of pavers het wat rondlê tuis wat in jou pad is, kan dit ook so geskenk word – vir vele gebruike. Stene kan gepak word om die water by shacks se ingange weg te keer. Dit kan ook binne gebruik word om die vloeroppervlakte te verbeter. Dit kan geplaas word sodat die meubelment nie nat of klam word nie.

Gemeentes kan dit as lekker missionale projek aanvoor. Gemeentelede kan aangemoedig word om die materiaal af te laai by die kerk. Gemeentes kan dit dan by (‘n) informele nedersetting(s) afgee. Werk sommer saam met die kerke wat in die plekke werksaam is – en maak dit ‘n lekker saamwerk projek.

Lidmate kan ook as spanne saam ingaan en met hul gereedskap arm mense help om die materiaal effektief te gebruik.

---

Ek nooi jou saam op 'n Gebedsreis

EERS: Ons sien om ons die nood van mense om meer te bid. Omstandighede dring ons op ons knieë. Kom ons begin by onsself en gebruik die gebed wat ons ontvang het as riglyn, die Ons vader.

LAAT U NAAM GEHEILIG WORD: Ons lees by baie teoloë dat hierdie bede dui op ‘n ambivalensie. God se Naam word op plekke geheilig en op ander plekke nie.  Ons raak daarom daarvan bewus dat hierdie gebed van ons gevra word, juis omdat dit nie oral so is nie. Daar is ruimtes in hierdie lewe waar God se Naam nie geheilig word nie. Die ironie is dat ons daardie ruimtes altyd buite onsself sien. Daardie ruimtes kan ook in onsself en ons eie kringe bestaan. Daardie ruimtes bestaan ook  in die geloofsgemeenskappe.  Ons moet dus eers by onsself begin voordat ons dink aan al die ander sondaars.

GEBED Word eers weer stil in jouself. Word bewus van die heiligheid van God. Dink aan Moses se ervaring van die heilige grond waarop hy gestaan het toe hy te naby aan God gekom het. Dan kan ons nie anders as om bewus te raak van die onheilige grond in onsself en in ons eie kring nie.

Wanneer ons dan aan die woord kom in ons gebed, laat ons bid dat Sy Naam in onsself en in ons eie kringe geheilig sal word. Dan kan God my gebruik in Sy oproep dat Sy naam in al die ruimtes wat Hy geskep het, geheilig sal word.

Dit kan moes ook wees dat God ons in ‘n smeltkroes plaas sodat ons in ons eie bestaan en in ons eie kringe weer bestek opneem. Heilig ons inderdaad Sy Naam?

Juis omdat ons dit nie altyd doen nie, word hierdie bede ‘n daaglikse smeekgebed

---

Help die Argief om ons geskiedenis op te skryf...

Die NG Kerk Argief het met ‘n projek begin waar die geskiedenis van die NG Kerk, sy gemeentes en predikante opgeteken word. Hierdie inligting word aangeteken op ‘n webblad waar dit vir die breë publiek beskikbaar gestel word. Besoek gerus www.gemeentegeskiedenis.co.za

Op hierdie webwerf sal u drie afdelings van inligting sien, nl Stigtingsdatums van alle NG gemeentes wat ooit bestaan het, ‘n blad per gemeente waar daar ‘n foto van die kerkgebou geplaas word, ‘n kort opsomming van die geskiedenis van die gemeente, ‘n lys van dogtergemeentes en ‘n lys van predikante wat in die gemeente gedien het. Die derde afdeling is biografieë van predikante wat in diens van die Kerk was. Kyk gerus na die inskrywing van Durbanville as voorbeeld. Op die oomblik word die lewensketse wat in die NG Kerk Jaarboek verskyn het geplaas. Dit sal mettertyd uitgebrei word na alle predikante wat al in diens was of is. 

Hoe kan u help? Stuur asb ‘n mooi foto van u kerkgebou, ‘n lysie van die predikante wat daar diens gedoen het en/of ‘n kort geskiedenis van u gemeente (sowat 500 woorde) en stuur dit na argief@kaapkerk.co.za Ons gee graag volle erkenning aan skrywers en fotograwe. Sodoende kan u ook ‘n bydrae maak om die databasis so volledig moontlik te maak. Stuur asb ook enige aanbevelings en regstellings na die adres.

---

Sop om hongeriges te voed - haal af by Suiderhof

Vanuit HelpLift Suiderhof het ons ‘n groot skenking gekry van soppakkies – hoofsaaklik “Chakkalaka” en “Chilli” geure. Vanuit ons projekte kan ons dit nie vinnig genoeg opgebruik nie en ons wil graag die ander NG Gemeentes nooi om sop te kom haal vir hulle barmhartigheidsbedienings, dit is vir ons belangrik dat dit verniet weggegee moet word, en nie verkoop moet word nie.

 Belangstellende gemeentes en welsynsorganisasies kan kontak maak met ons koster, oom Johan Erasmus (085 561 1899) om ‘n afspraak te maak om dit te kom oplaai so gou moontlik. Ons beperk dit op die oomblik tot 30 bokse (1800 pakkies) per organisasie. Bring asb jou eie helpers saam om die sop te laai. Dit is ook nie moontlik om sop uit te hou vir organisasies nie, so hoe vinniger dit opgelaai word hoe beter.

---

Dollars vir sending

---

Help noodsaaklike dienste - ondersteun O'Shoppi

O'Shoppi is die plek waar jy jou gebruikte goedere kan afgee en daarmee die werk van die maatskaplike werkers kan ondersteun. Tans is die programme waar ons die hulp van maatskaplike werkers nodig het onder groot finansiële druk. Die sinode kan nie die werk befonds nie. As daar nie dringend geld kom hiervoor nie, sal die werk - wat nie deur enigiemand anders gedoen word nie - doodeenvoudig verlore gaan.

Daar is drie programme wat op die oomblik nog so diens lewer. Tog is daar nog behoeftes in die land vir sulke poste waaraan die staat se maatskaplike dienste nie aandag gee nie. 

Die eerste program is Huis Maerua, waar kinders wat weggeneem is van hul ouers deur die hof versorg word. Dan ook die Wildernis Terapie program wat goeie resultate lewer met ontwrigte kinders. Laastens die Erongo Social Services wat aan die kus maatskaplike dienste - waar veral kinder- en armsorg aandag kry.

Laasgenoemde het oornag 'n gedeelte van hul staatsbefondsing verloor, wat 'n groot gat in hul begroting tot gevolg het.

O'Shoppi - in Olympia se Lolo Park koopsentrum waar Woermann en Brock is - is die adres waar jy jou bruikbare gebruikte items kan afgee om hiervoor verkoop te word. Hulle doen ook veilings waar hulle op kommissie basis goedere namens die publiek opveil. Die eerste hiervan is op Saterdag 27 Julie om 09:00 op die parkeer terrein voor Woermann in Olympia.  

---
---

In LiG se Augustus-uitgawe  … 

Sprankel Rina Hugo, en haar twee kinders, Anri en Riaan, op die voorblad. Rina het pas haar 70ste verjaarsdag gevier.

Die krieketskeidsregter, Marais Erasmus, gesels met ons – sy gesin wen elke keer die loot. En plattelandse vroue vertel hoe hul drome anderkant die dorpsgrense vlerke kry. Lees ook die 10 vat-dit-rustig-wenke om die platteland tot in jou huis te bring.

Ons ondersoek die effek van emigrasie op dié wat agterbly.

Stephan Joubert help ons om “laat u koninkryk kom ...” beter te verstaan. Ons skryf ook oor die vroue in Jesus se lewe.

Leer jou kind speel-speel van woorde, en gee vir hom ‘n lewenslange voorsprong. Kry ook raad vir jou huwelik – as jou salaris groter as jou man s’n is.

LiG – vol inspirasie wat jou geloof verdiep, en jou lewe verryk.

Om nog van LiG se puik Christelike inhoud te lees, besoek www.lig.co.za

---

Lees in die Kerkbode van 19 Julie ...

waar TJ Strydom skryf oor Christo Wiese se 'Calvinistiese streep'.

Johann Symington praat oor die lewe en geloof in Tokio, Japan. En ons voorbladstorie gaan oor 'n gemeente in Pretoria wat mediese sorg aan ryk en arm verskaf deur die nuwe Tshwenyega-kliniek.Lees 'n volledige onderhoud met die projek se touleier.

Lees ook: Die oud-Springbok Theuns Stofberg het 'n nuwe loopbaan gevind wat jou dalk mag verras.

Ons spog ook met ’n nuwe Kerkbode-app vir Android en Apple-fone, wat waarde toevoeg tot die Kerkbode-ervaring en nie die bedoel is om die papierproduk te vervang nie. Trouens, dis ’n verryking van die stories en lesersbydraes wat ons steeds met trots in gedrukte formaat in die voorportale van byna 400 gemeentes aflaai.

Kry die skakel na die app-winkel op Kerkbode se tuisblad: https://kerkbode.christians.co.za/

---

Aftree-woonstel in Windhoek

In Schanzen-Oord, Windhoek, is die lewensreg op 'n eenslaapkamer woonstel beskikbaar teen N$770,000 of naaste aanbod.

Kontak Frans du Toit by 081 261 7405 vir besonderhede.

Familie-nuus

Hulle verjaar tot volgende week...

• Leon Fourie (Outjo): Vrydag 19/07; 081-2558683;     leonkalahari@gmail.com  

Op die radio...

Maak dit asseblief bekend in die gemeente?

Onder die Kameelboom

Met die huwelik as beeld wys Hosea dat ons verhouding met God eksklusief en jaloer is. Clem Marais en Thijs van der Merwe gesels oor Hosea 1 wanneer hulle Onder die Kameelboom kuier. Kuier gerus Sondag om 12:00 (of Dinsdag om 09:30) saam op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303. 

---

Voorbidding

Ons bid vir Israel

Area 20,700 vk km; 'n verdere 7,540 vk km van die Wesbank, Gaza en die Golan Hoogtes is sedert 1976 onder Israel se beheer. Dit is die enkele grootste rede vir konflik tussen Israel en haar bure.

Bevolking 8,424,904 (Julie 2017 geskat)

Die stigting van die moderne staat van Israel in 1948 het 'n einde gemaak van 1,900 jaar van Joodse diaspora. Vyf oorlë in 1948, 1956, 1967, 1973 and 1982-85 met die omringende state hou hulle op 'n gereedheidsgrondslag. Militêre terugslae in Lebanon met die onttrekking wat daarop volg in 2000, en die groeiende druk van die Palestyne in burgerlike onrus, die sg. intifada en terrorisme uit die geledere van Islamistiese groepe (veral Hamas and Hizbollah) het Israel se stamina getap.

Die gemeenskap is diep verdeeld oor die kwessie van die vredesproses, bewoning van tradisionele Arabiese grondgebied deur Jode, die toekoms van Jerusalem en die Golan Hoogtes.

Die ultra-orthodokse Joodse Haredi minderheid het oor die afgelope dekades die hef in die hand want nie een van die groter partye kan sonder hulle hulp 'n regrering vorm nie. Hulle misbruik die situasie om hul saak te bevorder wat dinge verder vertroebel wat internasionale verhoudings betref.

Premier Benjamin NETANYAHU lei die regering sedert 2009; en het die huidige sentraal-regse koalisie gevorm na die 2015 verkiesings maar verkiesings vir die wetgewende vergadering kan nie later as November 2019 gehou word nie.

Sterk pogings van die VSA en VN om die vredesproses aan te moedig, het min sukses. Die mees onlangse pogings om te onderhandel en ‘n finale oplossing te beding het in 2013-2014 plaasgevind.

Ondertussen stroom immigrante – veral Jode – die land in. In 2016 byvoorbeeld het 28,600 nuwe immigrante aangekom in Israel.

Die ekonomie het in die laaste 25 jaar ‘n dramatiese transformasie ondergaan, gelei deur baanbrekerswerk in gevorderde tegnologie sektore. Aflandige gas in die Mediterreense see in die Tamar en Leviatan gas velde plaas Israel in die sentrum van ‘n streeksgasmark.

Die groei in die ekonomie word egter aan bande gelê deur werksmag probleme en hoë lewenskostes wat die koste van arbeid aanjaag. Tog is dit ‘n moderne, gesofistikeerde industriële staat.

Die grootste beperkende faktor is die skaarste aan water.

Alle godsdienste word die vryheid gegun om in hulle tradisionele gemeenskappe te werk, alhoewel Christen Jode se regte ontken word.  Vervolgingsindeks: 65ste in die in die wêreld. Jode 75.4%; Muslim 16.7%; Nie godsdienstig 3.81%; Ander 1.9%; Christene 2.04%

Loof die Here vir: Die groei in getal van wedergebore gelowiges uit Joodse geledere. Messiaanse Jode het gegroei van 250 in 1967 tot 7,000 in 2000, en begin al meer aanvaar word as deel van die hoofstroom Joodse gemeenskap. Daar is ook 'n standhoudende groei in Arabiese Christene oor die afgelope 40 jaar.

Wêreldwyd is daar 'n betekenisvolle respons onder die 15 miljoen Jode; ongeveer 132,000 was reeds in 2000 aan Messiaanse gemeentes verbind en nog 200,000 aan gewone nie-Joodse kerke.

Tree in vir: 'n Geweldige toevloei van nuwe immigrante Jode na 1989 veral uit die oosblok lande en Ethiopië word deur baie gesien dit as die vervulling van profesieë van die herstel van die volk. Tog keer die meeste terug as ateïste of as agnostici. Tree in vir die nasie se geestelike herstel in en deur die Messias, Jesus Christus.

Die intense konflik met die Arabiese bure moet dringend bygelê word. Bid dat daar 'n volhoubare regverdige oplossing gevind sal word; bid vir versoening en vrede.

Vyandiggesindheid tussen Jode en Christene is 'n struiklelblok wat oorkom moet word. Bid dat die evangelie verstaan sal word as die vervulling van die hoop en verwagting op die Messias. Bid ook vir vryheid vir die Messiaanse Jode om hulle geloof as Christene uit te leef.

Die Christelike kerk is gefragmenteer wat enige eenheid bedreig en die getuienis ondergrawe. Bid dat daar groter eensgesindheid sal kom tussen gelowiges van verskillende agtergronde en dat die Here se gebed in Johannes 17 bewaarheid sal word as getuienis vir die hoogs gefragmenteerde Joods gelowiges.

Groter eenheid tussen Joodse en Arabierse Christene – as die groepe mekaar kan vind sal dit ‘n groot impak kan maak op die verdeelde nasie waar mense groepe op mekaar neersien, mekaar verag en selfs openlik haat. Selfs Christene is skuldig hieraan. Bid vir diep betekenisvolle versoening en eenheid.

Bronne:  Patrick Johnstone en Jason Mandryk se Operation World en CIA Factbook 

---

Vakatures

Algemene Bestuurder ORSO.

Hiermee stel ORSO die pos as Algemene Bestuurder beskikbaar vanaf 1 Maart 2020

Die persoon sal verantwoordelik wees vir die bestuur van Oude Rust Oord sowel as Schanzen Oord.

Kwalifikasies:  B Com graad, of gelykstaande opleiding en ervaring,  is n vereiste  met verkieslik n MBA, of diploma in besigheidsbestuur.

Die kandidaat moet beskik oor die volgende eienskappe

Baie goeie mense verhoudings,

Beskik oor ten minste 5 tot 10 jaar bestuurservaring , verkieslik binne die welsyn bedryf.

Vertroud wees met personeel bestuur sowel as finansiële bestuur. 

Vergoeding:  Onderhandelbaar.

Sluitings datum: 15 Oktober 2019.

CV’s kan gestuur word aan rustoord@mweb.com.na,  of per hand afgelewer word by Oude Rust Oord in Beethoven straat Windhoek Wes, of gepos word aan “Die Bestuurder, Oude Rust Oord, Posbus 20543 Windhoek.

Vir verdere navrae kan u Mnr Schalk van der Merwe skakel by tel 061-227023

Of Ds R.Becker by    0811228112.

---

MEDE-LERAAR: NG GEMEENTE SWAKOPMUND 

In biddende afhanklikheid van die Here word aansoeke ingewag vir die pos van mede-leraar

GEMEENTEPROFIEL:

• ‘n Plattelandse, kusgemeente, geleë in die middedorp van Swakopmund met ongeveer 1500 lidmate.

• Verskeie voorbereidende-, laer- en hoërskole, asook aftree-oorde, wat ‘n goeie balans tussen jeug en ouer volwassenes skep.

• Aantal aktiewe bedienings onder leiding van gemeentelede.

KANDIDAAT:   

• Sal verantwoordelikheid aanvaar vir funksies/pligte soos uiteengesit in Art 9 van die Kerkorde.

• ‘n Sterk gereformeerde teologiese uitkyk met spesifieke klem op die suiwerheid van die leer soos verwoord in die kerk se belydenisskrifte.

• Die suksesvolle kandidaat moet ‘n gestruktureerde, gedissiplineerde persoon wees met ‘n warm, nederige persoonlikheid en verkieslik tussen 35 – 45 jaar oud wees.  Hy/sy moet met persone van alle ouderdomme kan saamwerk, maar moet oor ‘n besondere vermoë beskik om die hoërskool jeug en jonger mense tussen die ouderdomme van 19 – 35 jaar te bereik en deel te maak van die gemeente.

• Moet ‘n passie hê vir die bediening van die Woord en ‘n entoesiasme vir die opbou van die gemeente deur persoonlike kontak.

VERGOEDING: 

‘n Onderhandelbare vergoedingspakket volgens die Sinodale skaal en ander voordele en riglyne word aangebied. Kandidate word daarop gewys dat die gemeente nie oor ‘n pastorie beskik nie, maar dat daar in die vergoedingspakket voorsiening gemaak word vir ‘n behuisingstoelaag om die bekleër in staat sal stel om ‘n eie woning te bekom indien hy/sy wou.

AANSOEKE:

• Aansoeke moet vergesel word van ‘n volledige CV, minstens twee onlangse getuigskrifte en die name van vier referente.

• Sluitingsdatum: 31 Julie 2019 @ 12:00.

• Kandidate moet beskikbaar wees vir ‘n onderhoud indien daartoe versoek.

• Voorkeur sal gegee word aan `n Namibiese burger.

RIG AANSOEKE AAN: 

DIE VOORSITTER: PRE-ADVIESKOMMISSIE

NG KERK SWAKOPMUND

E-POS:  fralo777@gmail.com

Giggel

Hartlike groete uit die Sinodale Kantoor in Windhoek,