Ons bid vir Belize:
Oppervlakte 22,965 vk. km. Dit is 'n Karibiese kus-enklawe wat aan Guatemala en Mexiko-grens. Dit het die wêreld se tweede grootste koraalrif.
Bevolking: 399,598 (Julie 2020 geskat – World Factbook.)
Dit was die setel van verskeie ou Maya-statstate wat teen die einde van die eerste millennium begin taan het.
Die Britte en Spanjaarde het die streek in die 17de en 18de eeu beset. In 1862 word dit as deel van Honduras 'n Britse kolonie. Dispute oor grondgebied tussen die VK en Honduras het die onafhanklikheid van Belize vertraag — wat uiteindelik in 1981 gebeur. Aanvanklik weier Guatemala om Belize se onafhanklikheid te erken. Dit het eers in 1992 gebeur, en hulle is steeds in ‘n dispuut oor die grens.
Swak ontwikkelde infrastruktuur lê ekonomiese groei aan bande, maar dit is tog relatief welvarend. Inkomste kom hoofsaaklik uit ekotoerisme wat die grootste verdiener van valuta is. Daarna volg suiker, piesangs, sitrus, marineprodukte en ru-olie. Die VSA se hulpverlening is 'n groot deel van die invloei van kapitaal.
Deelname aan die dwelmhandel van Mexiko en Suid-Amerika, buitelandse skuld, werkloosheid onder veral die jeug en die hoë MIV / vigs-infeksiekoers is redes tot kommer.
Die monetêre en fiskale beleid lei tot 'n groeikoers van 4% tussen 1999 en 2007, waarna dit tot rondom 2% per jaar val, wat groot druk op die ekonomie plaas. Nogtans het dit die hoogste gemiddelde inkomste in die streek
Alhoewel Belize die derde hoogste inkomste per kapita in Sentraal-Amerika het, wys die gemiddelde inkomstesyfer 'n groot inkomsteverskil tussen ryk en arm. 'n Sleuteldoelstelling van die regering is steeds om armoede en ongelykheid met die hulp van internasionale skenkers te verminder. Hoë werkloosheid, 'n groeiende handelstekort en swaar buitelandse skuldlas, is steeds kommerwekkend. Belize ondervind voortgesette druk van stygende regeringskuld en 'n groeiende handelswanbalans.
Grootste godsdiens
Die Christendom is die grootste godsdiens met 83,94% van die bevolking. Van hulle is 18,8% evangelies-gesind. Hulle groei ook die vinnigste, naamlik teen 4,8% per jaar, teenoor die ander Christen-groepe wat met 1,9% groei.
Uitdagings wat aangepak moet word:
a) Wydverspreide wettisisme in kerke, in teenstelling met ware geestelike transformasie. Bid vir herlewing en 'n heilige ontevredenheid met die geestelike status quo. b) Pastore word ooreis, met 70% van pastore wat gedwing word om meer as een werk te doen. Hulle besef die groot behoefte aan opleiding, maar afstand en koste verhinder gesentraliseerde, formele opleidingsprogramme. c) Belize is 'n "oor-geëvangeliseerde" nasie met min ware dissipels en min vrugte. Die kerklike denominasies maak aanspraak op die grootste gros van die bevolking, maar slegs 10% van die bevolking woon eintlik gereeld eredienste by, wat daarop dui dat nominalisme 'n probleem is, selfs onder evangelies-gesindes. d) Kerklike en geestelike eenheid voer 'n opdraande stryd teen die beduidende kulturele en kerklike diversiteit. Hindernisse tussen kerke is groot en aanhoudend. Bid vir inisiatiewe wat hierdie mure sal afbreek en Spaans-, Engels-, Duits- en Maya-sprekende gelowiges bymekaar sal bring. e) Die mense wat minder bereik is, het 'n duideliker en meer kultureel-toepaslike bediening nodig. Dit sluit in die Garifuna, Maya's, Indiane (byna geheel en al Hindoe of Muslim) en Chinese.
Belize is sekulêre staat met godsdiensvryheid. Die inwoners is hoofsaaklik belydende Christene, maar nominalisme en sinkretistiese tendense is algemeen. Spaanse immigrante met hulle bygelowe, die Maya's met hulle onderliggende heidense bygelowe en die Garifuna met hulle swartmagie, bevestig die nood aan 'n kultureel-sensitiewe aanbod van die evangelie ten einde werklike transformasie na vore te bring.
Godsdiensverdeling: Christen 90,95%; Bahaí 2,88%; Hindoe 2,3%; Jode 1,08%; spiritiste 1,03%; nie-gelowig 0,83%; Muslim 0,58% en Boeddhiste 0,35%.
Loof die Here vir: 'n Vyfvoudige groei in die getal gemeentes sedert die 1960's asook die groei in Evangelies-gesindes wat geleidelik gegroei het vanaf 4,6% in 1960 tot 19% in 2010.
Bid vir: 1 ‘n Kultureel-relevante en sensitiewe evangeliese getuienis onder die mense wat neig om nominale Christene te wees, bygelowig of basies heidens is. Onder hulle is die Spaanse setlaars, die Maya's en die Garifuna. Talle nedersettings benodig kerkplanting.
2 Die evangeliese kerke. Hulle het bestendig gegroei van 4,6% in 1960 tot 14% in 2000. Nietemin staan hulle voor uitdagings: a) meer voltydse werkers; b) beter opvolging van evangelisasiewerk; baie raak verlore as gevolg van 'n gebrek aan opvolgaksies.
3 Eenheid in die liggaam van Christus — kulturele diversiteit en 'n verskeidenheid van kerklike denominasies maak eenheid en gedeelde doelwitte 'n bykans onhaalbare ideaal.
Bid vir a) die Mennoniete-gemeenskappe van Duitse afstammelinge wat baie na binne gekeer is en hulle eie dialek praat — bid vir herlewing in dié gemeenskappe; b) effektiewe meelewing tussen Engels- en Spaanssprekende gelowiges in nasionale inisiatiewe vir die Koninkryk.
4 Die minder bereikte groepe: a) Maya's — daar is slegs ‘n paar gelowiges onder hulle; b) Garifuna — animistiese tendense onder hulle veroorsaak dat die evangelie slegs op klein skaal onder hulle posgevat het ; c) Chinese — hulle groei deur immigrasie in getalle, maar daar is bykans geen Christelike getuienis onder hulle nie; d) Indiërs — hoofsaaklik Muslim en Hindoe, vir ‘n effektiewe evangeliese getuienis onder hulle.
• Bronne: Patrick Johnstone en Jason Mandryk se Operation World, CIA Factbook en BBC News service; WorldOmeter