Header

Jaargang 17 - Uitgawe 15/2020 - Woensdag  22 April 2020

ngkn@ngkn.com.na

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• SPESIALE berigte rakende die CORONA VIRUS

• Nuusbrokkies

• Familie-nuus

• Op die radio...

• Publikasies

• Voorbidding

• Vakatures en ander advertensies

• Giggel

---

Hulpmiddels vir pastorale versorging tydens Covid-19 inperking

Covid-19 het ons leefwêreld skielik en dramaties verander. Kerke en gemeentes moes vinnig aanpas by ‘n manier van saamwees en bediening wat vreemd is aan ons verwysingsraamwerk. En dit lyk asof dit ‘n meer blywende impak sal hê as wat ons nou kan dink of verstaan.

Predikante, pastors, het skielik te make met heel nuwe uitdagings wat aanpassings gevra het. Sommiges was al daar en ander is nog aan die aankom!

Groot aanpassings oor die hoe van pastorale werk is op ons af geforseer. Die groter uitdaging is waarskynlik die al groter wordende uitdaging om nuwe antwoorde te gee op al moeiliker vrae. En om terselfdertyd ook te antwoord op eie vrese, kommer en onsekerhede. 

Ook vrae oor God en lyding is skielik meer dringend en baie minder teoreties. CLF het ons gehelp met sewe onderwerpe – ongelukkig net in Engels aan ons verskaf. Hulle wil die kerk hiermee bystaan – vir meer gratis of bekostigbare materiaal – besoek www.clf.co.za Om die dokument af te laai, gaan na https://clf.co.za/christian-resources/ of klik op die prentjies hieronder om elke dokument individueel te kry.

TEMA 1: Dr Gideon van der Watt dink na en deel oor die moeilike teologiese vraag van God versus die bose.

TEMA 2: Prof. Jan-Albert van der Berg deel twaalf pastorale sleutels vir die tyd van inperking – grondlyne vir ‘n gesonde pastorale benadering.

TEMA 3: Dr. Juanita Meyer hanteer die al meer relevante fenomeen van rou-smart en die noodsaak om verlies te hanteer en verwerk. Sy help met die herontdekking van die klaaglied – met verwysing na die boek Klaagliedere. 

TEMA 4: Ds Dawid Mouton gee praktiese advies oor die bystand aan mense wat slagoffers is van gesin- en geslag geweld, wat ‘n saak van kommer geword het in hierdie tyd. 

TEMA 5: Dr Gideon van der Watt deel gedagtes oor die algemene uitdagings waarmee pastors te kampe het gedurende die inperkings en  gee ‘n paar praktiese voorstelle hieroor

TEMA 6: Dr Gustav Claassen kyk na wat gebed eintlik is: ‘n intieme gesprek met God, wat naby is. Hy gee ook praktiese wenke.

TEMA 7: Covid-19 herinner ons nie net aan lyding nie, maar ook van God wat saam met ons ly, en herbevestig die sentrale belydenis van ons geloof: die opstanding van Christus. Dr Stephan van der Watt help ons om te herontdek wat dit vir ons beteken dat Jesus Christus opgestaan het en lewe, en sit op die troon van God. 

Nuusbrokkies

Met die dat byeenkomste nie moontlik is nie, trek baie gemeentes noustrop, ook omrede baie mense minder of geen inkomste kry nie.

Daar is sommige gemeentes wat nie kan byhou met eweredige bydraes nie. Dit het 'n aanrol effek het op programme soos Kunene vir Christus, Degnos, Wildernis Terapie, Huis Maerua en Erongo Social Services wat baie afhanklik is van die sinode se subsidie. Van die werkers het eers laat salarisse gekry en van die programme is benoud oor die mees basiese uitgawes wat dalk nie gedek gaan word nie.

Daar is party gemeentes wat sny aan salarisse en sukkel om hul verantwoordelikhede van lopende uitgawes te dek. Kom ons onthou ons gemeentes in die tyd en vind maniere om ons bydraes by hulle uit te kry!

---

Wat van die kinders in lockdown?

Windhoek gemeente se sendelinge in Kambodja, Mordegai en Toinette Rossouw wat in Siem Riep woon en werk het 'n tekening aangestuur. Hul seun Anton (14) het dit 'n maand gelede gemaak met die Corona virus in gedagte en die beskremende klere wat hy voorstel mens moet dra!

Talle kinders is besig om aanlyn onderrig te kry - dit is nogal 'n uitdaging! Ons bid vir ons kinders en ouers in die tyd! Ons dink ook aan die onderwysers en lektore wat leerders en studente moet help om aan te gaan met hul werk.

Ons dink ook aan die leerders wat nie die aanlyn leerprogramme kan volg nie, vanweë 'n gebrek aan die nodige toerusting en toegang tot die internet!

---

Vlugtelinge trek swaar

Die program om vlugtelinge by te staan is byna op haar knieë! Gewoonlik verdien hulle deur hulle projekte genoeg geld om die nuwelinge en die wat sukkel te ondersteun en te onderhou. Volgens Freddy Murinde het die inperkingsbevel al hulle projekte tot stilstand gedwing.

Die projekte verseker dat die wat werksaam is selfonderhoudend kan wees. Uit winste wat hulle korpratief deel, help hulle dan die ander. Ongeveer $100,000 word maandeliks so gespandeer.

Nou is daar geen inkomste nie.

Die eerste respons was om soveel as moontlik van die wat buite die Osire kamp gewoon en werk het, terug te skuif. Ruim 90% is so teruggeskuif. Dit plaas groot druk op die World Food Programme van die VN, maar ten minste kry inwoners daar genoeg kos vir 'n halwe maand elke maand. Die res raap en skraap Freddy en sy medewerkers bymekaar.

Die grootste uitdaging is die 200 huisgesinne wat hulle nie na die kamp kon skuif nie en ook sonder inkomste is. Die mense kwalifiseer nie vir die staatshulp wat uitgedeel word nie, en is prakties sonder heenkome.

Ricky (foto) is aan die stuur van sake in die Vlugtelingkamp en doen maatskaplike opheffingswerk en koordineer die ondersteuning in die kamp.

Freddy is werksaam wyer in die land - hulle versorg die vlugtelinge wat veral in Katima Mulilo vasgevang geraak het agv 'n reisverbod op hulle. Die is reeds ingestel met die afkondiging van die noodtoestand meer as drie weke gelede.  Aangesien daar geen ander hulp vir hulle is nie, moet die program daar voorsien in die behoeftes van die nuwe aankomelinge.

As jy wil help om die mense se lot te verlig kan jy finansieel bydra daartoe. Klere vir beide geslagte en alle groottes (van babas af) is nodig en met die naderende winter veral warm klere, beddegoed, komberse, skoene.

Kontak Thijs hieroor by E-pos: alg.sekr@ngkn.com.na of skakel 0811243641.

Christus Kirche help haweloses in die stad

Die Duits-Lutherse gemeente Windhoek het finansieel bygedra om te haweloses te bedien. Die hulp word gebruik om die mense wat in die Thinus Bakkes Oornagskuiling gehusives word te onderhou en in die projek om kos aan haweloses in die middestad te verskaf. 

Op die foto staan Mariet wat vir die Thinus Bakkes skuiling  kook, met van die voorraad wat deur die Immanuel Lodge afgelewer is - lidmate van die Christus Kirche.

WELKOME REëN!

Reën - al gaan dit mét hael gepaard - is baie welkom!

Die fotos het letterlik ingestroom op die face book bladsye die afgelope week. Wyd verspreid - Usakos, op pad na Terrace baai, Sesriem se canyon wat loop, in die noordweste, oral is daar berigte van reën.

Oral is daar plekke wat lekker en welkome reën gekry het.

Ons dink aan die plekke waar dit nog nie gereën het nie en bid saam met hulle vir uitkoms.

Familie-nuus

Hulle verjaar

• Thinus Coetzee, Maltahöhe 23/04 +277326715828   thinuslandie@hotmail.com

• Peet van Zyl, Gobabis 23/04  081-1247785  peet.eden@gmail.com

• Sharné van der Walt, Windhoek Wes  26/04  081-4474082  sharne@ngwes.com

• Vian du Plessis, Walvisbaai 28/04  081-8379884  viandup@gmail.com

Feldmuis wens hulle elkeen baie geluk!

Op die radio...

Maak dit asseblief bekend in die gemeente?

Onder die Kameelboom

Thijs kuier die week saam met dr De Wet Strauss van Academia en prinsipaal van NETS. Die teks waarna gekyk word, is 1 Petrus 2:18-25. Luister eerskomende Sondag om 12:00 (of Dinsdag 28/04 om 09:30) en kuier saam met ons weer op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303; OF op Potgooi

https://www.k7.com.na/potgooi/#1479900125305-ea521c4e-ddb7 

---

Nuwe Publikasies

In dié tyd van afsondering waarin gesinne saam is, is hierdie produkte ideaal om almal sinvol besig te hou. Daar is aktiwiteite vir die kleinspan en Bybelstudies vir ouers en die res van die gesin.

Kinderpret: Speelleer-aktiwiteitsboek oor die Ou Testament (Gratis)

Hierdie speelleer-aktiwiteitsboek bevat 50 selfdoen-aktiwiteite oor belangrike tekste in die Ou Testament van die Bybel. Deur hierdie aktiwiteite ontdek kinders op ʼn prettige manier die 50 belangrikste verhale in die Ou Testament. Die aktiwiteite sluit in ontdek-die-verskille, inkleurprente, vind-die-paadjie en kleur-volgens-die-nommers-in. Speel-speel leer ken kleuters en kinders baie van die verhale wat deel van ons geloof vorm. KLIEK HIER OM 15 AKTIWITEITE GRATIS AF TE LAAI

Daniël (Gratis)

Die boek Daniël is egter nie net vol onvergeetlike heldedade nie. Dit is geskryf om gelowiges aan te spoor om in moeilike tye op God te bly hoop. Daarom vleg daar een element soos ’n goue draad deur al hierdie verhale: Daniël en sy drie vriende se onwrikbare vertroue op God.

KLIEK HIER OM GRATIS AF TE LAAI

Voorbidding

Bid vir Sirië

Die land se voortslepende burgeroorlog het dit in ’n beroering gelaat, en Christene spring nie die algemene lyding vry nie. Verder is hulle nog meer kwesbaar wanneer magte wat vyandiggesind is teenoor Christenskap aan bewind is in hul tuisstreke. Selfs in die meer stabiele gedeeltes van Sirië ervaar Christene wat Islam verlaat het, druk en diskriminasie van hul gemeenskappe. 

Dokters sonder grense rapporteer dat die katastrofale situasie in die grootste deel van die land verergre en meer kompleks gemaak word deur die Covid-19 pandemie. Die virus het sy kop uitgesteek en die vrees is dat dit dalk vinnig mag versprei en die fasiliteite is reeds oorbevraag.

Klik hier om meer te lees, en om nuttige gebedskyfies af te laai, sodat jy saam met ons kan bid vir ons broers en susters in Sirië.

---

JONGSTE NUUS

Iranese Gelowige se besluit om in Iran aan te bly en vervolging te verduur, inspireer ander.

IRAN - 'n Christin in Iran wat na 'n afgeleë woestyn gehuggie gestuur is om daar sy dae te slyt, nadat hy 'n sewe jaar gevangeniskap uitgedien het, is hartlik deur die plaaslike Muslims verwelkom. Dit blyk in 'n nuwe YouTube onderhoud.

Lees verder

---

Vakatures en Ander Advertensies

Lewensreg Woonstelle in Schanzenoord beskikbaar

Lewensreg op 2 slaapkamer woonstel op 6de vloer te koop teen 1 miljoen NAD of naaste aanbod.

• Kontak Frans du Toit by 081 261 7405 of fdutoit321@gmail.com vir besonderhede 

• Kontak ons gerus as u gemeente of bediening 'n vakature wil adverteer. Thijs van der Merwe by 081 124 3641 of alg.sekr@ngkn.com.na vir besonderhede 

Giggel

---