VAN DIE KOLLEGAS Sê…
Evert Strydom: Jan was so naby aan my hart... in 'n tyd toe dit moeilik gegaan het was hy daar en het my baie bemoedig en gehelp. Hy kon so fyn en welsprekend met woorde omgaan! En as jy vra hoe dit gaan dan was dit: deur die genade vorentoe!!
Zack Pienaar: Hemelse Vader dit is so ‘n sad dag in die lewe van ons kerk. Ons het nie woorde nie net trane, ons is gebreek Here, stukkend en so verward, alles is so onwerklik, Here ons is diep geskok en ontnugter. Ek weet nie wat om te sê nie. Here wees ons genadig. Ons Vader wat in die hemel is vat tog net die Woest familie en druk hulle vas teen U bors want op hulle eie is hulle nou te swak, mag U troue liefde hulle regop hou. Ek bid dit in die Naam van die God wat omgee en sorg. Amen
Hanno Visser: Ons staan op die skouers van reuse en binne die verhaal van die NG Kerk in Namibië sal Dr. Jan as een van die reuse onthou word. Mag die diepte, rykdom en omvattendheid van God se genade nou ook vir Nicolene, sy seuns en naby geliefdes op hierdie pad bystaan!!
Ernst Coetzee: “Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie.” PSALMS 116:15 baie sterkte en mag die Here se nabyheid julle troos
Thijs Van der Merwe: 'n groot boom het geval. Ons dank die Here wat ons as NG kerk en as mense deur Jan se gawes geseën het. Mag die Here sy nagedagtenis eer. Mag Hy Sy vrede gee vir Nicolene, sy kinders en almal wat naby aan hom was.
Elsabe Horn: Ai, ons is saam met julle baie hartseer en verslae. Baie sterkte
Hendrik Koekemoer: Baie sterkte, julle.
Sharne Vd Walt: Ek is jammer julle... Dis vir my egter mooi hoe almal se liefde vir Jan gemaak het dat ons hande vat met bloedskenk vir die mense, en dit sy lewe mooi afrond vir wie hy was en sy hart vir sy medemens. Die Here maak soveel mooi uit diep hartseer. Dankie Thijs dat jy ons op hoogte gehou het
Hierop skryf Johannes Maritz: Soos ons vriend Jan sou sê: Manne-broers en Susters, ek wil saam met Helena stem en ook dankie sê vir almal se reaksie. Ek dink dat ten spyte van die hartseer, het daar in die afgelope twee dae iets baie mooi na vore gekom. Jan sou dankbaar en trots wees op die gesindheid van sy kollegas.
Uit ander oorde:
Hi Thijs... Marlize van Richardsbaai: Ek wil net sê baie baie jammer en baie sterkte vir die groot gat wat oom Jan se skielike afsterwe in jou, en julle Sinode se lewens gaan los. Kollegas is, net soos hier by ons in Natal, méér as net kollegas en mense wat maar net in verskillende gemeentes werk,... HULLE IS FAMILIE! En daarom is dit eintlik 'n baie naby familielid van wie julle afskeid neem! Weet net ek, en ons klompie hier in Natal dink aan en bid vir julle!
Ansie – skriba van Okahandja gemeente skryf: Baie hartseer vir ons gemeente. Hy het die laaste jare voordat Ds. Johannes gekom het, 'n kosbare pad met ons gemeente geloop. Ons het gister al gesels oor die boodskappe wat ons so goed onthou en die manier wat hy met die gemeente tydens 'n diens gepraat het, so of hy met elkeen persoonlik gesels.
Nico van der Westhuizen: My hart is nou so seer oor my OU BUURMAN soos ons mekaar genoem het sedert ons saam in 1977 op Stellenbosch aangekom het. Ons het goeie herinneringe wat ons saam kan dra oor die besondere vriend. Ons bid dat Nicolene en die kinders in die tyd die hand van die Here sag op hulle sal voel en dat sy teenwoordigheid sal troos. Nic en Riana (Steytlerville)
Braam Grobbelaar: Ai dit is die tweede leraar vriend in die afgelope maand wat oorlede is. Ek sal vir Jan mis elke slag as ek Namibië besoek het het ons saam koffie gedrink sy deernis en omgee wat ek by Jan beleef het was vir my uitstaande beeld wat ek sal onthou
Leon Husselman VGK: My innige simpatie aan die familie en die NGKerk Namibië en die kerk van Christus. 'n Seder het geval... julle het 'n staatmaker verloor. Ons bly in gebed vir julle. In verbondenheid
Tienie van Rensburg: My ou maat. Ek gaan bitter moeilik hieroor kom.
Johnny Nel: Ons diepe Medelye, bly ek kon ook vir Dr Jan Woest op persoonlike vlak ken en bietjie met hom saam werk vanuit VGK geledere.
Prof Fanie Snyman: Woorde skiet te kort... ons verloor 'n bekwame teoloog, 'n deurleefde gelowige en ek verloor 'n vriend.
Annes Nel: Ons onthou Jan, ons kollega en vriend met liefde. Ons bid vir Nicolene en die seuns.
Pieter van der Walt hoof van Navorsing van die Weskaapse en Algemene Sinode skryf: ek voel stil en hartseer vanoggend. Jan was waarlik ‘n menslike mens. Ek praat later vanoggend met Heerden (Van Heerden Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake) - Jan het vir ATLAS ongelooflik veel beteken. Sterkte met alles daar.