Header

Jaargang 17 - Uitgawe 19/2020 - Woensdag  20 Mei 2020

ngkn@ngkn.com.na

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Familie-nuus

• Op die radio...

• Publikasies

• Voorbidding

• Vakatures en ander advertensies

• Giggel

Nuusbrokkies

---

Johannes Maritz van Okahandja gemeente en ondervoorsitter van die Namibiese Sinode se moderatuur se vrou Mariaan is ernstig siek.

Sy het van erge hoofpyne gekla en toe sy vinnig begin agteruitgaan, het Johannes haar hospitaal toe geneem in Windhoek waar dit geblyk het sy het 'n massale infeksie in die brein. Gisteraand is twee shunts geplaas om die vog op die brein te dreineer. Sy is tans in die intensiewe sorgeenheid en is kritiek. Ons dink aan haar, hom, die kinders en klein kinders.

PLAATJIES-VAN HUFFEL (61) STERF: SY WAS ‘MA’ VIR VELE

19 Mei 2020Le Roux SchoemanIn MemoriamNuus*

“Ons hart is gebreek,” het dr Llewelyn MacMaster gesê oor die afsterwe vanmiddag van prof Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, ’n geliefde en gerespekteerde kerkleier.

MacMaster, moderator van die VGKSA Streeksinode Kaapland, het vroeër die dag nog aan besorgdes via Twitter laat weet: “Haar toestand is steeds kritiek, maar stabiel …”

Maar kort voor 15:00 het hy via ’n Facebook-videoboodskap die nuus gebreek dat Plaatjies-Van Huffel oorlede is. Sy was 61.

“Sy het die kerk op soveel vlakke gedien – selfs wêreldwyd is sy erken vir haar leierskap. As VGKSA treur ons oor ’n pionier wat groot werk gedoen het,” het MacMaster gesê.

Meer besonderhede oor die oorsaak van haar dood was nie ten tye van publikasie bekend nie.

Plaatjies-Van Huffel was die eerste vroulike leraar in die VGKSA, het MacMaster gesê. “Ons gaan jou mis, Mary-Anne, “ma”, jou voorletters het so beduidend geword, want jy het ’n ma vir vele geword. (Jy het) omgesien na soveel jong dominees – veral vroulike dominees – maar ook studente. As kerk en as sinode – sy was deel van ons moderamen – betreur ons die dood van Mary-Anne Plaatjies … Ons bid dat God ons sal help om haar nalatenskap te eerbiedig.”

Feldmuis betuig ons meegevoel - ook van die NGKN - met haar familie, en ook kerkfamilie - veral die lidmate en predikante van die VGK in ons land met die verlies.

MEER OOR ‘MA’ PLAATJIES-VAN HUFFEL

PLAATJIES-VAN HUFFEL, MARY-ANNE (1959-2020) is met ds David van Huffel van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) getroud. Ná die verwerwing van haar BTh (Hons) aan die Universiteit van Wes-Kaapland, word sy in 1991 die tweede vroueproponent in die destydse NG Sendingkerk. Die volgende jaar word sy in Robertson-Oos as die eerste vrouedominee in die hele NG Kerkfamilie georden.

In 2002 word sy as aktuarius van die VGKSA se Sinode Kaapland verkies, later as moderator van dié streeksinode en uiteindelik as moderator van die Algemene Sinode van die VGKSA – almal eerstes vir ’n vrou in hierdie kerk. Sy word ook adjunk-president van die Wêreldraad van Kerke met verantwoordelikheid vir Afrika.

Vir haar meestersgraad ontwikkel Plaatjies-Van Huffel ’n multi-dissiplinêre benadering tot die rehabilitasie van prostitute, en in 2003 promoveer sy aan die Universiteit van Suid-Afrika in die sistematiese teologie (dogmatiek) oor Vroue in die teologiese antropologie in die Afrikaanse gereformeerde tradisie. Haar promotor was ’n ander bekende vrou in kerklike kringe, prof Christina Landman. Dié studie behels ’n poststrukturele en feministiese benadering tot vroue in die Afrikaanse gereformeerde tradisie. Dit lewer ’n belangrike teologiese bydrae tot die wêreldwye debat oor poststrukturalisme. Daarin daag sy Afrikaanse gereformeerdes uit om hulle eie mensbeskoulike voorveronderstellings tot tekste wat hulle lees, krities te ondersoek. Mettertyd behaal sy ook ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria in die kerkreg en word professor in kerkgeskiedenis en kerkreg aan die Teologiese Fakulteit, Universiteit Stellenbosch. – Pieter Fourie. | Bron: Christelike kernensiklopedie 

* Oorgeneem uit Kerkbode

---

Handige hulpbron vir gemeentes

Nico Mostert van NG Kerk Vrystaat skryf: “Hierdie tye van afsondering, humanitêre krisisse en hulpverlening plaas ons almal in ongekarteerde vaarwaters! Hier vanuit die Sinode Vrystaat, in samewerking met Wes-Kaap en Bybel-Media, het ons ’n praktiese “toolkit” vir gemeentes saamgestel vir gebruik tydens krisistye soos nou met COVID-19. Ons raak ook al hoe meer daarvan bewus dat hierdie krisismomente nie meer die uitsondering op die reël is nie, maar amper die reël begin word. Dit bring ons as kerk by die vraag: Hoe help ons mekaar om kerk te wees binne ons gemeenskappe (en ook in Suid-Afrika) in krisismomente? Wat staan ons te doen? Hoe help ons plaaslik, maar hoe help ons ook daar waar groter nood en minder hulpbronne is?"
Uit hierdie vrae het die “toolkit” die lig gesien om gemeentes se betrokkenheid by hulle gemeenskappe in krisismomente te help rig. Die idee is nie om al die antwoorde te gee of om al die hulpbronne te lys wat beskikbaar is nie. Ons wil wel gemeenteleiers en lidmate bemagtig met iets in die hand waarmee hulle hul roeping om kerk te wees, in krisistye kan uitleef.
Gebruik hierdie skakel om die “toolkit” af te laai. Gebruik asseblief die artikels, webwerfskakels en video bydraes en moedig gemeentes aan om dit te gebruik. Lewer gerus julle eie bydraes en deel julle stories onder Aksie

Familie-nuus

Hulle verjaar

• Marco Koch, Eros  26/05  081 488 3195 marco2koch@gmail.com

• Anita Jooste, Otjiwarongo 30/05 067-304339 hectorjooste@otjiweb.com

Feldmuis wens ons moderator van harte geluk!

Ds Lukas Coetzer kom die week onder die mes vir 'n kolostomie omkering - ons is saam met hom dankbaar dat dit nou gedoen kan word. Ons bid vir spoedige herstel.

Op die radio...

Maak dit asseblief bekend in die gemeente?

Onder die Kameelboom

Thijs kuier die week saam met dr De Wet Strauss van Academia en prinsipaal van NETS. Hulle gesels oor die betekenis van Pinkster met Johannes 20:19 - 23 in gedagte. Luister eerskomende Sondag om 12:00 (of Dinsdag 26/05 om 09:30) en kuier saam met ons weer op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303; OF op Potgooi

https://www.k7.com.na/potgooi/#1479900125305-ea521c4e-ddb7 

Nuwe Publikasies

Aflaaibare PDF-boeke vir Pinkster NOU beskikbaar.

Die Gees maak alles nuut

PDF-PRYS: R60,00

Individuele Bybelstudies plus ses byeenkomste vir kleingroepe.

Het jy al ervaar dat ’n nuwe intrekker plekke in jou bekende omgewing besoek waarvan jy nie eens geweet het nie? Of het jy al in ’n toerismegids of -tydskrif gelees oor plekke waar jy reeds was, maar dan kan jy nie glo wat jy alles gemis het terwyl jy daar was nie? Ons dink dit kan ook met die boek Handelinge gebeur as ’n mens net die moeite wil doen om ’n bietjie dieper te delf. Daar lê ’n ongelooflike reis voor!

KOOP AFLAAIBARE PDF HIER

Agente van die Gees

PDF-PRYS: R40,00

Op reis deur Handelinge

Gaan saam op reis deur die boek Handelinge, en ontdek op die voetspoor van die vroeë kerk hoe God sy kerk – dit is óns – vandag nog in hierdie wêreld lei en gebruik. (Her)ontdek só jou roeping as ’n agent van God se Gees – om Jesus se verlossingsboodskap uit te dra en die wêreld ten goede te verander. In hierdie 12 studies lei Jaco Thom kleingroepe om te gesels oor hoe die Gees ons toerus en ons sy agente maak om die verlossingsboodskap van Jesus uit te dra en die hele wêreld ten goede te verander.

Gaan saam op hierdie opwindende reis deur Handelinge en (her)ontdek jou roeping as ’n agent van God se Gees hier op aarde.

KOOP AFLAAIBARE PDF HIER

KERKBODE-NUUS

Geroep om ’n verskil te maak 

“Op ’n dag het ek só verlang na die Kaap, maar toe voel ek of die Here vir my sê, maak die geboue jou berge, embrace wat voor jou en by jou is en leef in die nou,” vertel Leona Pienaar, hoof uitvoerende beampte van MES in hierdie onderhoud met Jaco Strydom. Lees meer...

 

Nog 'n manier om Kerkbode elektronies te lees:

Terwyl eredienste steeds verbied word, versprei ons Kerkbode ook in gedrukte formaat as e-koerant by hierdie skakel: https://kerkbode.christians.co.za/e-koerant/

LiG-NUUS

In LiG se Junie-uitgawe – wat tans te koop is – kry ons inspirasie en bemoediging uit mense se verhale.

Heinz en Aletté Winckler vertel van hul beloofde dogtertjie, Alannah. Klik hier om na die video te kyk. 

Dr Michael Mol vertel hoe hy sy deel doen in die Covid-19-gevegslinie.

En ’n paar vroue vertel watter wyshede hulle deur die jare oor ma-wees geleer het.

’n Oud-onderwyseres getuig hoe sy vreugde vind, al is daar elke dag nog ’n stukkie van haar verlam.

Sukkel jy om jou kinders hulle skoolwerk tuis te laat doen? Gebruik hierdie wenke om hulle vaardighede speel-speel te ontwikkel. Wonder jy of jy te veel druk op jou kind plaas? Kenners gee raad.

Kry oulike idees vir vlerksleep, soos aan die begin van julle huwelik.

Ontdek dat Jesus veel meer as ons Verlosser is. Hy is baie, baie meer.

Om in te teken op LiG, klik hier. 

CLF se aanlynwinkel is oop

Ons is baie bly om u mee te deel dat ons aanlynwinkel oop is!
En, u kry 20% afslag op al ons produkte gedurende die grendeltydperk!
Besoek ons aanlynwinkel vandag nog en kry Christelike boeke wat u geloof sal groei en versterk, veral gedurende hierdie ongekende tye en reg vir die winter.
Rus uself en u kinders toe met geloofsvormende materiaal, Bybels en nog baie meer.
Besoek ons aanlynwinkel hier - https://clf.co.za/shop/

Voorbidding

Bid vir die Irak

Die self-geproklameerde Islamitiese Staat (IS) in Irak se territoriale nederlaag het die vlakke van vervolging in dié land verminder. Hul ideologie het egter agtergebly en Islamitiese ekstremisme is steeds ’n probleem in Irak. Baie militante het weer met die bevolking saamgesmelt. Dreigemente van ekstremistiese groepe maak dit moeilik vir terugkerende Christene om veilig te voel.

Klik hier om meer te lees, en om nuttige gebedskyfies af te laai, sodat jy saam met ons kan bid vir ons broers en susters in Irak.

Vakatures en Ander Advertensies

Lewensreg Woonstelle in Schanzenoord beskikbaar

Lewensreg op 2 slaapkamer woonstel op 6de vloer te koop teen 1 miljoen NAD of naaste aanbod.

Kamers beskikbaar in Schanzen – Oord se Sorgeenheid vir versorging van belệende of ander persone wat versorging nodig het. 

Ons bied 24 uur per dag volle versorging met 3 maaltye, tee en koffie per dag ingesluit teen N$15 000 per maand. 

24 uur per dag kontak met verpleegpersoneel per interkom met CCTV kamera in elke kamer en gange vir veiligheid van pasiёnte.  

• Kontak Frans du Toit by 081 261 7405 of fdutoit321@gmail.com vir besonderhede 

• Kontak ons gerus as u gemeente of bediening 'n vakature wil adverteer. Thijs van der Merwe by 081 124 3641 of alg.sekr@ngkn.com.na vir besonderhede 

Pos: Hoof uitvoerende beampte Bybel-Media

Bybel-Media is ’n Christelike Media-bediening sonder winsoogmerk. Dit verskaf en versprei inhoud vir geloofsontwikkeling en -ondersteuning. Die maatskappy fokus op drie areas: Publikasies, Bediening en Ondersteuningsdienste.
Bybel-Media onderneem tans ’n digitale transformasieproses ten opsigte van sy media-uitsette. Ons ontwikkel ’n geïntegreerde, veelkantige digitale platform. Die platform sal die behoeftes van ’n breë Christelike mark aanspreek deur middel van relevante inhoud, geestelike belewing en produkte om Christelike transformasie en dissipelskap te dien. Hierdie sakemodel verteenwoordig ’n beweeglike (“agile”) en buigsame benadering.
Die suksesvolle aansoeker sal aan die direksie rapporteer. Verantwoordelikhede sluit in: · strategiese leierskap en bestuur · oorhoofse operasionele bestuur van Bybel-Media se dienste en werksaamhede · digitale platform bestuur (ontwikkeling, sekuriteit, data-analise) · korporatiewe bestuur en voldoening aan wetlike vereistes · inhoudskepping · finansiële bestuur · verkope en bemarking · fondswerwing · uitbou van nasionale en internasionale verhoudings · logistieke bestuur · personeelbestuur · navorsing en ontwikkeling.
Vereistes: · relevante tersiêre kwalifikasie · bewese leierskap- en bestuursvaardighede · die vermoë om verandering te bestuur · strategiese insig in en begrip van die kerklike en Christelike omgewing · toegang tot ’n wye netwerk strategiese vennote, insluitend kerklike en Christelike instellings · kundigheid rakende funksionering en gebruik van digitale platforms met toepassing in ’n media-omgewing · goeie operasionele begrip van IT en / of webwerf-ontwerp, ontwikkeling en programmering · gereformeerde teologiese posisionering (begrip, toleransie en insluiting van diverse standpunte en kerkgroepe) · uitstekende interpersoonlike en kommunikasievaardighede (geskrewe en gesproke) in Engels en Afrikaans · sterk besigheidsin · ervare onderhandelaar met bewese bemarkings- en / of fondswerwing ervaring en oorredingsvermoëns · etiese en waardegedrewe lewensbeskouing en handhawing van Christelike waardes.
Om aansoek te doen, registreer asb. u aansoek by https://www.dittojobs.com/jobs/view/3817878424

---

Giggel

---