Header

Jaargang 17 - Uitgawe 20/2020 - Donderdag  28 Mei 2020

ngkn@ngkn.com.na

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Familie-nuus

• Op die radio...

• Publikasies

• Voorbidding

• Vakatures en ander advertensies

• Giggel

Nuusbrokkies

---

PROGRAMME TREK SWAAR

Die effek van Covid-19 op inkomstes tref die kerk in al haar sektore.

Die programme wat die swaarste getref is, is ons dienswerk en sending / missionale programme soos Huis Maerua, Wildernis Terapie, Kunene vir Christus, Degnos en Erongo Social Services.

Op tehuise vir bejaardes is die effek minder, maar steeds voelbaar.

Die moderatuur het ‘n taakspan op die been gebring om aandag te gee aan die deel van ons kerk se werk, met Zack Pienaar (foto) aan die stuur. Zack het wye ervaring in die werk en is tans die hoof van Imago Dei, ‘n program van Windhoek-Eros gemeente wat befondsing vir sulke diensgetuienis aksies en programme vind en koördineer.

Zack het begin werk om sy Taakspan te beman- en vrou.

Ons hoop dat dit die kerk nader sal bring aan die diensgetuienis aksies wat oor tyd tot stand gekom het en histories deel was van die NGK in Namibië.

Die werk wat die programme doen, vul die missionale werksaamhede van gemeentes aan – en is ook gerig op werk wat net in netwerke geslaagd gedoen kan word as gevolg van die omvang daarvan.

Pensioenfonds gee verligting

Die bestuur van die Namibiese Ekumeniese Group – die pensioenfonds waaraan die NGKN deelneem, het aangekondig dat die fonds op ‘n bydrae vakansie geplaas is.

Dit beteken verligting vir werkgewers wat noustrop trek agv die verlies aan inkomste, maar beïnvloed ook die werknemers se spaarplan op pad na aftrede.

Die besluit is geneem op grond van gemeentes en programme wat navraag begin doen het of daar op ‘n manier ‘n besparing gemaak kan word aan oorhoofse kostes. Die bestuur het besin daaroor en daarna aansoek gedoen om ‘n reëlwysiging by NAMFISA om dit moontlik te maak.

Die Pensioenfondsbestuur het in hul kommunikasie met werkgewers gevra om te poog om ten opsigte van die pensioene van werknemers sover moontlik voorsiening te maak om dit later te vergoed, aangesien dit ‘n byvoordeel is wat nou verbeur word. Dit raak dus die vergoeding van werknemers direk.

Hoewel die reëls voorsiening maak vir ‘n tydperk van ‘n jaar, is dit die bestuur se hoop dat dit veel korter sal duur.

Die versekering is gegee dat werknemers steeds verseker bly vir doodseise en ongeskiktheidseise.

Oupa moet vir Ouma medisyne daarmee koop!

Johannes Maritz van Okahandja gemeente en ondervoorsitter van die Namibiese Sinode se moderatuur se vrou Mariaan is ernstig siek.

Sy het van erge hoofpyne gekla en toe sy vinnig begin agteruitgaan, het Johannes haar hospitaal toe geneem in Windhoek waar dit geblyk het sy het 'n massale infeksie in die brein. Twee shunts in sjirurgies geplaas om die vog op die brein te dreineer. Sy was vir 'n paar dae in die intensiewe sorgeenheid maar is ondertussen oorgeplaas na hoë sorg.

Sy is verlede Donderdag van die ventilator afgehaal, teen Sondag kon sy met hulp skuifel-stap na die badkamer; Dinsdag is die dreineringspype wat die brein moes dreineer, uitgehaal.

Johannes getuig van die ondersteuning van oraloor wat hom gedra het en sê Baie dankie daarvoor. Hy sê hy het ervaar hoe die geloofsfamilie hulle gedra het en steeds dra.

Hy vertel dat sy kleinseun verlede Woensdag die hek vir hom oopmaak op pad hospitaal toe en vir hom sê: “Oupa moet in daai sak kyk.”

In die sak ontdek hy dat die kleinman (9) en sy kleiner sussie hul spaargeldjies – klomp munte en ‘n honderd dollar noot in die sak gesit het en in sy motor neergesit het. Toe sê die kleinman: “Oupa moet maar vir ouma medisyne daarmee koop!”

Ons is saam met hom, haar, die kinders en klein kinders bly oor die vordering.

Sewe verandering wat kerke moet maak weens die Coronavirus

Tony Morgan, die Hoof Strategiese Beampte en stigter van The Unstuck Group sê hy sien op die oomblik twee soorte kerkleiers.
Die een soort kerkleier wag net dat dinge weer na normaal terugkeer, sodat ons weer kerk toe kan gaan soos ons altyd kerk toe gegaan het. Die vraag wat hulle vra is: “Wanneer dink jy sal kerke weer kan ‘oopmaak’?”
Tony sê dat jy waarskynlik na die volgende stelling sal ophou om verder te lees. “Ek hoop dat ek verkeerd is, maar ek dink dat kerkleiers ’n volle jaar moet beplan voordat groot sosiale byeenkomste regdeur die land sonder beperkinge kan plaasvind. Is jy daarop voorbereid?”
En dit bring Tony by die tweede soort kerkleier wat hy teëkom. Hulle is nie so besorg oor wanneer alles weer soos normaal sal aangaan nie, want hulle besef wat ons tans beleef... en wat ons nog baie maande sal ervaar... gaan die kerk dwing om te verander. “Normaal” gaan nie terugkom nie. Die vraag wat hulle eerder vra, is: “Hoe moet die kerk verander vir ’n nuwe normaal?”
Hulle is gereed om nou veranderinge aan te bring. Hulle wag nie dat kerkdeure weer heropen nie. Veranderinge soos:
· van analoog na digitaal
· van onderrig tot toerusting
· van byeenkomste na verbintenisse (verhoudings)
· van globaal na plaaslik
· van oorbesteding na vrygewigheid
· van kompleksiteit na eenvoud
· eerder as om die deelnemers/aanwesiges (en nou kykers) te tel,na betrokkenheid te beweeg
Jy kan verder lees wat Tony Morgan hieroor te sê het, ook oor sy gedagtes oor Hoe hierdie nuwe normaal lyk? deur op die volgende skakel te klik: 7 Shifts Churches Need to Make Because of the Coronavirus

Gids vir netwerkvorming

In dieselfde week wat die blitsnavoring in die Wes-Kaap gedoen is, het die Algemene Sinodale Taakspan vir Missionale Diakonaat en die KMDR (Kerklike Maatskaplike Diensraad) ’n gids saamgestel wat die vestiging van netwerke aanmoedig. Die gids gee ’n eenvoudige riglyn met praktiese wenke wat gemeentes en gemeenskappe kan help.
Klik hier om die gids af te laai

---

COVID-19 ruk teologiese opleiding in Afrika tot stilstand
Jurgens Hendriks, verbonde aan die Departement van Praktiese Teologie en Missiologie (Emeritus), Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch en programkoördineerder van NetACT, ‘n netwerk van meer as 50 teologiese kolleges en universiteite in Sub-Sahara Afrika, skryf hier oor hoe COVID-19 hierdie instellings raak. 

Familie-nuus

Hulle verjaar

• Anita Jooste, Otjiwarongo 30/05 067-304339 hectorjooste@otjiweb.com

 Feldmuis wens haar van harte geluk!

 Ds Lukas Coetzer se kolostomie omkering was 'n sukses - ons is saam met hom dankbaar dat dit nou gedoen kan word. Ons bid vir spoedige herstel.

Feldmuis wens ons moderator van harte geluk! 

Die byskrif het navrae ontlok - ons bieg: Dit was 'n fout! Maar hier's iets waarop hy baie trots is - sy nuwe Bonsmara bul wat verlede week op die plaas aangekom het! My Hartbul is hoe hy na die dier verwys!

---

Op die radio...

Maak dit asseblief bekend in die gemeente?

Onder die Kameelboom

Thijs kuier die week saam met dr De Wet Strauss van Academia en prinsipaal van NETS. Hulle gesels oor Drie-Eenheidsondag met Genesis 1:1 - 2:3 in gedagte. Luister eerskomende Sondag om 12:00 (of Dinsdag 2/06 om 09:30) en kuier saam met ons weer op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303; OF op Potgooi

https://www.k7.com.na/potgooi/#1479900125305-ea521c4e-ddb7 

Nuwe Publikasies

Aflaaibare PDF-boeke vir Pinkster NOU beskikbaar.

Hierdie week fokus ons op Boek 3 van die Perspektiewe op die koninkryk-reeks. Hierdie reeks bestaan uit vier boeke met agt studies, of gespreksgeleenthede, elk. Elke gespreksgids gaan oor een spesifieke tema wat met God se koninkryk verband hou. Hierdie reeks daag gelowiges uit om elke dag met ’n nuwe perspektief te leef – ’n koninkryksperspektief.

Boek 3: Beelde van die koninkryk

Jesus het gelykenisse of stories gebruik om die mense te help om die koninkryk beter te verstaan: hoe die koninkryk werk, hoe dit op aarde teenwoordig is, hoe dit in ons lewe ’n werklikheid word en hoe Hy in die koninkryk regeer. Jesus se beelde van die koninkryk help ons vandag om nuut en anders te dink oor God se ryk en die implikasies daarvan vir ons lewe op aarde. Lees meer...

Nou in PDF en gedrukte-formaat beskikbaar. Aflewering sal vanaf 1 Junie 2020 plaasvind.

Klik hier vir die volle reeks.

KERKBODE-NUUS

'Wees agente van hoop, nie draers van die virus'

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het op 26 Mei klem gelê op die verantwoordelikheid van kerkleiers en lidmate om binne die nuwe bepalings (wat wel klein eredienste tydens Vlak 3 sal toelaat) verantwoordelik op te tree en te help verhoed dat die koronavirus versprei. Lees meer...

VIDEO: Pandemie bring vrae oor ekologie, lyding en kerkwees

Vele Christene sukkel nie net met hoekom iets soos die koronavirus soveel lyding veroorsaak nie, maar ook watter geloofslesse te leer is uit die ekonomiese verwoesting wat tans gesaai word, skryf Marli van Eeden. Lees meer...

Lees en luister: Wie is Ivor Swartz? 

Ivor Swartz is ’n man met ’n groot storie, die soort storie wat vandag oral in Suid-Afrika mense se lewe verander, skryf Jaco Strydom in dié profiel-onderhoud met ’n podsending daarby. Lees meer...

Nog 'n manier om Kerkbode elektronies te lees:

Terwyl eredienste steeds verbied word, versprei ons Kerkbode ook in gedrukte formaat as e-koerant by hierdie skakel: https://kerkbode.christians.co.za/e-koerant/

LiG-NUUS

In LiG se Junie-uitgawe – wat tans te koop is – kry ons inspirasie en bemoediging uit mense se verhale.

LiG se digitale platform wemel van lesers se getuienisse tydens grendeltyd. Die stories bemoedig, inspireer en bring lig in dié vreemde tyd.

Van jaag en oorleef na rus en leef

“Ons dae is nie meer gevul met ’n gejaag en paniek nie, maar eerder met lag, die Woord, gebed, lang gesprekke, kook, kuns en kamp in die agterplaas …

“Ons gebed vir almal rondom ons in hierdie onseker tyd is dat almal dié tyd sal gebruik om nader aan God te beweeg en liefdevolle herinneringe saam met hulle gesin te skep,” skryf Michelle Lemmer van Irene, Pretoria. Lees meer... 

“Bejaardes hanteer moeilike situasie met grasie”

“Ek kan eerstehands die innerlike krag van ouer persone beleef. Dit stem my nederig om te aanskou met hoeveel grasie hulle hierdie moeilike situasie hanteer. Die oorgrote meerderheid gaan onversteurd voort met hulle lewe. Daar is ’n groep wat help met huishoudelike take. Ons koperware is met Brasso blink gepoets, handrelings word ’n paar keer per dag met ontsmettingsmiddels afgewas en suiker, meel, vullissakke en seeppoeier word in kleiner pakkies verpak,” vertel Yvonne Booysen, Silwerkruin-tehuisbestuurder. Lees meer...

CLF se aanlynwinkel is oop

Ons is baie bly om u mee te deel dat ons aanlynwinkel oop is!
En, u kry 20% afslag op al ons produkte gedurende die grendeltydperk!
Besoek ons aanlynwinkel vandag nog en kry Christelike boeke wat u geloof sal groei en versterk, veral gedurende hierdie ongekende tye en reg vir die winter.
Rus uself en u kinders toe met geloofsvormende materiaal, Bybels en nog baie meer.
Besoek ons aanlynwinkel hier - https://clf.co.za/shop/

Voorbidding

Bid vir die Irak

Egipte is ’n sterk Islamitiese nasie. Net minder as 90% van Egipte se bevolking is Soennitiese Moslems. Hier ly Christene onder vervolging op verskeie maniere as gevolg van godsdienstige diskriminasie. Die Islamitiese kultuur vuur hierdie diskriminasie aan en skep ’n omgewing waar die staat onwillig is om die basiese regte van Christene te respekteer en te handhaaf.

Klik hier om meer te lees, en om nuttige gebedskyfies af te laai, sodat jy saam met ons kan bid vir ons broers en susters in Egipte.

Vakatures en Ander Advertensies

Lewensreg Woonstelle in Schanzenoord beskikbaar

Lewensreg op 2 slaapkamer woonstel op 6de vloer te koop teen 1 miljoen NAD of naaste aanbod.

Kamers beskikbaar in Schanzen – Oord se Sorgeenheid vir versorging van belệende of ander persone wat versorging nodig het. 

Ons bied 24 uur per dag volle versorging met 3 maaltye, tee en koffie per dag ingesluit teen N$15 000 per maand. 

24 uur per dag kontak met verpleegpersoneel per interkom met CCTV kamera in elke kamer en gange vir veiligheid van pasiёnte.  

• Kontak Frans du Toit by 081 261 7405 of fdutoit321@gmail.com vir besonderhede 

• Kontak ons gerus as u gemeente of bediening 'n vakature wil adverteer. Thijs van der Merwe by 081 124 3641 of alg.sekr@ngkn.com.na vir besonderhede 

Pos: Hoof uitvoerende beampte Bybel-Media

Bybel-Media is ’n Christelike Media-bediening sonder winsoogmerk. Dit verskaf en versprei inhoud vir geloofsontwikkeling en -ondersteuning. Die maatskappy fokus op drie areas: Publikasies, Bediening en Ondersteuningsdienste.
Bybel-Media onderneem tans ’n digitale transformasieproses ten opsigte van sy media-uitsette. Ons ontwikkel ’n geïntegreerde, veelkantige digitale platform. Die platform sal die behoeftes van ’n breë Christelike mark aanspreek deur middel van relevante inhoud, geestelike belewing en produkte om Christelike transformasie en dissipelskap te dien. Hierdie sakemodel verteenwoordig ’n beweeglike (“agile”) en buigsame benadering.
Die suksesvolle aansoeker sal aan die direksie rapporteer. Verantwoordelikhede sluit in: · strategiese leierskap en bestuur · oorhoofse operasionele bestuur van Bybel-Media se dienste en werksaamhede · digitale platform bestuur (ontwikkeling, sekuriteit, data-analise) · korporatiewe bestuur en voldoening aan wetlike vereistes · inhoudskepping · finansiële bestuur · verkope en bemarking · fondswerwing · uitbou van nasionale en internasionale verhoudings · logistieke bestuur · personeelbestuur · navorsing en ontwikkeling.
Vereistes: · relevante tersiêre kwalifikasie · bewese leierskap- en bestuursvaardighede · die vermoë om verandering te bestuur · strategiese insig in en begrip van die kerklike en Christelike omgewing · toegang tot ’n wye netwerk strategiese vennote, insluitend kerklike en Christelike instellings · kundigheid rakende funksionering en gebruik van digitale platforms met toepassing in ’n media-omgewing · goeie operasionele begrip van IT en / of webwerf-ontwerp, ontwikkeling en programmering · gereformeerde teologiese posisionering (begrip, toleransie en insluiting van diverse standpunte en kerkgroepe) · uitstekende interpersoonlike en kommunikasievaardighede (geskrewe en gesproke) in Engels en Afrikaans · sterk besigheidsin · ervare onderhandelaar met bewese bemarkings- en / of fondswerwing ervaring en oorredingsvermoëns · etiese en waardegedrewe lewensbeskouing en handhawing van Christelike waardes.
Om aansoek te doen, registreer asb. u aansoek by https://www.dittojobs.com/jobs/view/3817878424

---

Giggel

---