HULDEBLYK AAN DR JAN WOEST
Dr Gustav Claassen, Algemene sekretaris van die Algemene Sinode bring hulde aan wyle Jan Woest:
Om die gedagtes van kollegas te lees oor herinneringe aan Jan Woest maak sy ontydige heengaan elke keer van vooraf opnuut ‘n pynlike onwerklikheid. Dit is duidelik dat Jan met sy innemende persoonlikheid, elkeen van ons en ander op vele terreine van sy lewensreis, diep aangeraak het. Die paar sinne wat ek graag wil bydra is geensins ‘n poging om heiligheidskrywing te pleeg nie, dit sou immers waarvoor Jan gestaan het skade aandoen.
'n Opregte mens
Jan Woest se onopgesmukte persoonlikheid het enige gespreksgenoot in ‘n pretensielose ruimte ingenooi waar enige iemand net hom of haarself kon wees. Die respek wat hy by almal afgedwing het, het ten diepste voortgevloei uit die inherente respek wat hy vir elke mens gehad het. In die skrywe oor Jan deur kollegas is woorde soos opreg, opgewek, blymoedig, lewensbly, lewenslustig, gasvry en behulpsaam wat telkens gebruik word om iets oor hom te sê. Dit is beskrywende woorde maar in sekere opsigte te min. Jan moes ervaar word, en ek het altyd tydens ons saamgesels die ervaring gehad dat ek hom baie langer ken as net die sowat tien jaar wat ons vriendskap geduur het.
Hartsmens
Ontmoetings met Jan was telkens geleenthede van vieringe oor die vele aspekte van die lewe wat vir Jan na aan die hart was. Die temas wat gereeld aan die orde was: sy gesin, die plaas en sy geliefde Savanna bokke, liefde vir die kerk en sy mense, die teologie en bo alles God se genade en sy liefde vir ons almal. Oor hierdie hartsake kon hy met passie gedagtes deel. Dit was aspekte wat hom na aan die hart gelê het en sy lewe sinvol en gelukkig gemaak het.
Ryke nalaatenskap
Maar Jan was meer as ‘n mens vir mense. In sy geliefde kerk, op elke vlak, het hy ‘n enorme bydra gemaak. Sy ryk nalatenskap aan die NG Kerk in Namibië en in die algemene verband sal nog vir ‘n lank ‘n bron wees waaruit diep geskep sal word.
Jan se teologie was ‘n deurleefde teologie met sy ankers diep in die denke van sy leermeesters, Willie Jonker en Dirkie Smit. Dit het Jan in staat gestel om soomloos die abstraktheid van die dogmatiek aktueel te laat weerklink in die kerklike debatte van ons tyd en die lewe in die algemeen. Hiermee het Jan ons baie gehelp. Hy het hom egter nie net afgesonder vir die hoëre teologie nie. As mentor van kollegas en veral jong predikante het hy ‘n onskatbare bydra gelewer. Sy spore lê diep en wyd in kollegas se lewens.
Waardering
So praat kollegas van die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake, waarvan hy lank ‘n gewaardeerde lid was, oor Jan: Jan het help vorm gee aan baie dinge wat vorentoe vir die kerk rigting gaan gee: ons verstaan van God, van kerk wees, ons roeping, hoe ons die Bybel lees.
Bowenal is dit egter sy karakter, sy kalmte, wysheid, diep insig, liefde vir die Here en vir mense, wat ons sal bybly. Die werking van die Heilige Gees was vir hom nie net ‘n teologiese belangstelling nie, ons het die Gees in sy lewe gesien.
Jan Woest was tussen sy kollegas ’n besonder geliefde mens. Sy voorleggings was deeglik, sorgsaam, vol erns en diepe insig in die Woord. Hy het moeite gedoen om te hoor en te verstaan wat ander se perspektiewe was.
Hy was nie bekend vir akademiese solo-vlugte nie. Die teologie was nie vir hom ʼn doel op sigself nie. Dit het nie oor sy eie stem en opinie gegaan nie. Jan wou dien en ‘n bydrae maak. Ons onthou die geesdrif waarmee hy “dieptepeilings” kon doen van die vrae waarmee ons gekonfronteer word. Hy kon die blywende betekenis van ons geloofstradisie en die uitdaging van die vrae van ons eie tyd met mekaar in verband bring en die rigting aandui waarin gesoek kan word na uitkomste.
Hy laat 'n leemte
Ons eer Jan as ʼn uitdagende gespreksgenoot, lojale kollega en opregte vriend, iemand vir wie die “pelgrims etiek” waaroor hy gepraat het, ʼn egte lewenswyse was.
Jan Woest se gelyke is uiters yl gesaai. Sy heengaan laat ‘n groot leemte wat baie lank gevoel sal word. Ons gaan nog baie van hom praat en sy bydrae koester. Veral wanneer ons dreig om “in die diksand vas te val” ...waarteen hy so dikwels gemaan het.
Jan Woest se heengaan het ‘n reuse leemte in NG Kerk geledere en in ander kringe gelaat. Ons dink met hartseer en verlange aan hom, maar tog ook met mooi herinneringe. Die aard van die herinneringe is dat dit nooit die laaste gedagtes oor Jan kan wees nie. Die dood sal nooit die laaste sê in alle opsigte oor die lewe van Jan Woest hê nie. In die dae wat kom sal gedagtes oor hom ons steeds verryk en sal ons God elke keer dank as ons aan hom dink.
Ons innige meegevoel met die familie, Nicolene en die kinders. Mag julle op besondere wyse getroos word deur die God aan Wie ons behoort. Daar is vele mense oor Suider-Afrika – mense wat julle nie eens ken nie – wat saam met julle treur oor die verlies van ʼn groot gees.