Piet Naudé, Stephan Joubert, David Kinnaman en ander in gesprek
"Die vrae wat Job gevra het, vra ons ook nou" - prof Piet Naudé
"Die vrae wat Job gevra het, vra ons ook nou," het prof Piet Naudé tydens Ekerk se maandelikse leergemeenskap op 11 Junie 2020 gesê. Die gesprek is aanlyn beskikbaar.
Verskeie teoloë en kundiges het aan die gesprek deelgeneem, maar veral Naudé en Joubert se bydraes het diep getref.
Van die ander uitstekende sprekers was David Kinnaman, president van die Barna Navorsingsgroep, en prof Stephan Joubert. Dit is net enkele van die hoogtepunte. Klik op die foto hieronder om die opname van die geleentheid te sien. Piet Naudé kom op minuut 55 aan die woord. Prof Stephan Joubert het die gesprek gelei.
Teologies het ons met 'n sinkrisis te doen - Naudé
Prof Naudé, 'n teoloog en hoof van die US-Sakeskool, het gesê (kyk vanaf minuut 55 op bogenoemde skakel) ons beleef tans 'n gelyktydige krisis in die teologie, kerk en ekonomie. Ekonomiese vertroue is op 'n laagtepunt. Dit is 'n enorme krisis, vergelykbaar met Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Aan teologiese kant is daar 'n sinkrisis. Hoe is God betrokke by ons omstandighede. Hoe pas Christus se lyding in by die lyding wat ons tans beleef? Is ons lyding in lock down deel van die Heilige Gees se versugting saam met die skepping?
Hierdie krisis is sleg, maar dit is 'n vrugbare tyd.
Naudé het gesê daar is vyf wesenlike areas wat gelowiges in die toekoms gaan beïnvloed:
• Tegnologie: wat gaan die impak daarvan op kerk en besigheid wees? Dit het 'n impak op bedienings- en sakemodelle, maar op 'n dieper vlak ook oor die etiek en siening van mens-wees van 'n tegnologies-gedrewe samelewing. Data is die nuwe olie. Kerk-wees post-Covid gaan anders lyk.
• Ekologie: Die Covid-pandemie het vervoer (lug, motor en trein) tot stilstand geruk, en vir die aarde 'n bitter-nodige ekologiese sabbat gebring. Die Christelike tradisie in die Weste het groot skuld aan die ekologiese krisis omdat dit gebruik van die natuur deur die verskillende industriële revolusies gelegitimeer het - tot skade van die omgewing.
• Sosiale sekuriteit vir mense wat uit die sisteem geval het. Hy prys die staat wat maandeliks R17-miljoen aan 'n sosiale vangnet vir die armes bestee. God is op 'n besondere manier die God van die weerlose. Dit vra ook 'n teologiese gesprek om seker te maak sosiale sekuriteit bly volhoubaar.
• Globalisering: Covid is globaal en kan net globaal aangespreek word. Lande sal moet saamwerk. Soos die ekologie is dit 'n probleem waaraan alle lande moet saamspan. Die bewegings soos Brexit, "Making America great again", Putin wat Rusland wil opbou, moet teengewerk word. Die opkoms van nuwe nasionalismes is nie goed vir die globale uitdagings wat ons in die gesig staar nie. "Hoë nasionalismes" bring altyd konflik en selfs oorloë. Dit is dus kerke se plig om ekumenies saam te werk ten einde teologies aandag aan die globale probleme te gee.
• Rol van die staat: wanneer die ekonomie in duie stort, verg dit dat die staat sterker op die voorgrond moet tree. Hulppakkette verg staatsintervensie. Deel van ons krisis is die geweldige lae vlakke van politieke vertroue in die regerende party en die staatsapparatuur. Hy bid vir die staat en die regering, ons het betroubare mense nodig wat met eerlikheid met staatsbronne omgaan.
Naudé het gewys op die belangrike rol wat gemeentes het om te speel. Hy sê Suid-Afrika sal in duie stort as die kerk en die burgerlike gemeenskap in die land wegval. "Ons het die hoogste aantal nie-regeringsorganisasies per populasie in die wêreld en dit is enorm."
Hy sê prakties is daar twee maniere wat die kerk op die Koronavirus-krisis moet reageer:
• Eerstens moet kerke soos die Barmhartige Samaritaan op die onmiddellike krisis reageer. Die kerk moet kos gee by skole en sopkombuise oopmaak.
• Tweedens moet die kerk ook gaan kyk hoe ons oor grense heen met mense kan saamwerk. Gemeentes van dieselfde dorp móét saam werk. Die kerk móét ekumenies saam werk. Dit is al hoe ons hierdie krisis gaan oorleef.
Prof Stephan Joubert het in sy bydrae (wat by 1 uur 50 minute begin) gepraat oor die verharding wat wêreldwyd ingetree het. Die nuwe werklikheid vra nie soseer probleemoplossing nie (dit lewer nog nie 'n positiewe bydrae nie), maar daadwerklik opbouende optrede. "Stoot die positiewe op na daar waar God dit wil hê." Ons moet beide groepsdruk en ons voorkeur vir die negatiewe agterlaat. Hy het oor 'n nuwe teologie, een wat met God se kyk kyk, 'n baie waardevolle inset gelewer.