Header

Jaargang 18 - Uitgawe 03/2021 - Donderdag  28 Januarie 2021

ngkn@ngkn.com.na

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Uit die annale

• Uit ander oorde

• Familie-nuus

• Op die radio...

• Opleidingsgeleentheid

• Publikasies

• Voorbidding

• Vakatures en ander advertensies

• Giggel

Nuusbrokkies

Verlede jaar was daar lelies in Leliepan naby Maltahöhe - vanjaar kan mens nie die water sien nie - soveel blomme was daar!

Die suide jubel oor die reën.

In die noordweste - waaroor ons verlede week berig het oor die uitmergelende droogte en kleinvee wat nou ook vrek na bykans alle bees reeds gevrek het - was daar darem al die eerste neerslae.

ROL DIE MOUE OP Sê EROS GEMEENTE! 

Windhoek en ander dorpe en selfs hoofpaaie het sleg deurgeloop onder reënskade – Fourie van den Berg van NG Eros wil iets daaraan doen en nooi mense om mee te doen.

Ons kla altyd oor alles wat verkeerd is, dalk is dit tyd om iets positiefs te doen sê Fourie. Dalk kan ander gemeentes ook die soort aksie op die platteland loods word nou in die wandelgange gehoor.

Die volgende is 'n artikel uit die pen van Tanja Bause wat Woensdag in Die Republikein verskyn het:

In ’n video wat tans op sosiale media platforms versprei word, doen dr. Fourie van den Berg van die NG Eros-gemeente ’n beroep op Windhoekers om saam te staan en te help om die slaggate in die stad te herstel.

“Ek hardloop elke oggend en het al weens die swak straatligte in een of twee slaggate getrap. Ek het ook opgemerk die gate word al hoe groter en kry voertuig bestuurders jammer wat dalk deur dit ry en bande verloor,” het hy gesê.

Van den Berg het besluit om iets aan die saak te doen. Hy het die munisipaliteit geskakel en sy hulp aangebied.

“Die man wat in beheer van die paaie is, was ingenome met die voorstel. Hy het gesê dat hulle wel van hulle kant af ’n voorman saam met elke span sal stuur vir kwaliteitsbeheer.”

Volgens Van den Berg gaan hulle probeer om soveel slaggate as moontlik te herstel en gaan by die paaie wat die meeste verkeer dra, begin.

“Ons sal die eerste week in Februarie begin en ná my versoek in die sosiale media het ek al sewe spanne met vyf lede elk wat hulle hulp aangebied het.”

“Ons het mense nodig wat met bakkies, pikke, grawe, besems en stampers kan help. Die munisipaliteit sal al die materiaal verskaf. Ek doen ’n beroep op mense om net 2 uur van hul tyd te gee en te help sodat ons as Eros-gemeente vir die stad kan wys dat ons nie net kla en kritiseer nie, maar dat ons ons hande vuil kan maak en regmaak wat stukkend is.” - tanja@republikein.com.na Foto: Erkenning aan Republikein

---

Predikante / Groei-konferensie uitgestel

Twee oorwegings het die mense wat gister deelgeneem het aan ‘n werkwinkel vir sinodale Taakspanne genoop om die konferensie uit te stel van einde Februarie na 23, 24 & 25 Maart by Atlantic Villas in Swakopmund.

Die tydsbestek om van nou tot by die beoogde datum van 23 Februarie voor te berei en om moontlike konferensiegangers daaroor in te lig is net te kort. Die ander oorweging is die beperkinge wat in die Covid-19 maatreëls opgeneem is oor tydsduur van saamwees in groter byeenkomste.

Die organiseerders beoog om gemeente leiers van vakante gemeentes, predikante, die Degnos San Standplaasleraars en Taakspan lede saam te trek.

Die program word binnekort uitgestuur saam met die uitnodigings wat gestuur sal word. Klik hier om die video te kyk.

---

DEGNOS

In 2020 het ons op 'n Dinsdag aand as Veritas groep bymekaar gekom oor die lug tussen Mariental - Hentiesbaai - Windhoek - Grootfontein. Hierdie naweek sal ons die geleëntheid hê om in persoon op Mariental Veritas se 2de Module af te skop. Kloksgewys van Links Bo is - Elfrieda Kirsten, Andries Gous, Donette Beukes, Jeanette Lubbe, Johanna Meyer, Oom Freddie Faul en onder Karla-Mari Lubbe. 

Van Vrydag middag af tot Sondag oggend bied ons die tweede module van Veritas se program aan op Mariental as deel van die Lidmaatbemagtigings opleiding van Degnos.

Ons gaan saam werk deur die Verhalende Literatuur in die Bybel en so bietjie fokus op Karakterbou, Bedieningsvaardighede ontwikkeling en Kennis toename vir die groepie in Mariental. 

Hierdie is die eerste gedeelte van ‘n studie program wat sal strek oor die volgende 20 weke of so, en waarvan die res, na die “in persoon klasse” van die naweek, sal oorgaan in Zoom klasse een keer per week.

Daarna is dit Koës waar ons saam met ons Suster Organisasie Karas Christie se Koos en Amanda Engelbrecht gaan besin oor die pad vorentoe vir die twee opleidings instansies.

Jufrou Cornelia Jona is een van die Degnos Kleinskool onderwysers op Mkata. Sy sal nou ook begin verantwoordelikheid opneem vir die skooltjie op Mangetti Duin as "cluster" verteenwoordiger. Bid asseblief dat die Here haar sal toerus met wysheid en dienende leierskap op hierdie nuwe en uitdagende pad.

---

Pietertjie se stem het stil geword…

Pietertjie. 

My erenaam vir ds Pieter Wouter de Wet, in lewe predikant in diens van die Algemene Sinode met opdrag Sending onder Kommuniste. Soms het ek hom ook Petja genoem. Dis die Russiese weergawe vir “klein Pieter”. Vir my was Pietertjie of Petja die ekwivalent van “Oom Pieter” - iets wat hy nooit wou gehad het ek hom moes noem nie. 

Vanweë sy werk het hy ook soms bekend gestaan as Piet-Kommunis.

Ons paaie het op nerf na vir 50 jaar lank saam geloop. Hy het ‘n sterk persoonlikheid gehad, wat soms gegrens het aan die eksentrieke. Wie hom nie geken het nie, is armer.

Humor

Hoe kon Pietertjie nie ‘n stuitigheid geniet nie! Dan het hy sy hande met genoegdoening teen mekaar gevryf en uit sy maag gelag. Hy vertel hoe hy en klasmaat Johan Heyns op ‘n keer by ‘n troue was. Daar was net druiwesap op die tafel en Prof Heyns was gefasineer deur die bottels. Nadat almal al gaan sit het, het hy nog gestaan, besig om so ‘n bottel te bestudeer. Dis toe Pietertjie afhaak: “Sit Johan, jy sal dit nie in wyn verander kry nie.” (Storie gevolg deur vryf-hande en giggel.)

Hy was baie bedagsaam en sy sekretaresse in die kantoor het altyd geweet waar hy is. Eenkeer lol sy motor toe hy na ‘n vergadering wou terug kantoor toe. Hy moet ‘n werktuigkundige kry om te help, en besef toe hy gaan laat wees. Getrou het hy vir Rita geskakel om te verduidelik. “Hou net moed, Rita, ek kom,” sê hy. “Ag dominee,” kom die antwoord, “ons hou mos maar altyd moed!” Sy het die eksentrieke streep in gedagte gehad, wat Pietertjie deeglik besef het. Wanneer hy hierdie storie vertel het, is dit altyd opgevolg met ‘n hande-vrywende giggel.

Belese en gekultiveerd

Ek dink nie ek ken iemand wie se algemene kennis beter is as Pietertjie s’n nie. Hy het wyd gelees. Wanneer hy op ‘n plek gekom het, het hy alle beskikbare koerante gekoop en behoorlik gelees. In Windhoek was daar een koerant wat hy nie as lesenswaardig beskou het nie, maar my mond is gesnoer… (By gesê, dit was in die vorige eeu.)

Ons, ek en Marieta, het ‘n keer saam met hom die operette Student Prince gaan kyk in Pretoria se Staatsteater. Hoe verrassend was dit dat hy nie net die dialoog uit sy kop geken het nie, maar ook die musiek!

Pietertjie was ook baie lief vir sy seëlversameling, iets waarmee hy hom na sy aftrede goed besig gehou het totdat hy nie meer so goed kon sien nie.

Berese

In die meeste van die wêreld se lande sal jy PW de Wet se spore kry.  Italië was egter sy gunsteling. Nie verbasend nie dat Italiaanse komponiste en musiek ook sy witbroodjies was.

Hy kon onderhoudend vertel van sy ervaringe tydens besoeke aan die Vatikaan, ‘n plek wat hy gereeld besoek het as hy in Rome was.

Sendinghart

Pietertjie het sy bediening in Nigerië begin waar hy onder die Tiv gewerk het. Hy kon met entoesiasme praat oor Church of Christ in the Sudan Among the Tiv, ‘n kerk wat deur die sending van die NG Kerk tot stand gekom het. Hy was lief om die kerk by sy inheemse naam te noem: Nongo u Kristu u ken Sudan hen tiv.

Hy vertel dat ‘n fiets die eerste “westerse voertuig” is wat die Tiv gesien het. Hulle het wel rivierbote geken, wat ‘n tjrr-tjrr-geluid gemaak het. Toe word die fiets ‘n tjrr-tjrr-van-die-land en ‘n rivierboot die tjrr-tjrr-van-die-water. Later het vliegtuie die tjrr-tjrr-van-die-lug geword.

Dit was vir hom belangrik om die plaaslike taal aan te leer in Nigerië. Op ‘n keer neem ons hom saam na die Windhoek Skou waar ons op ‘n Nigeriese stalletjie afkom waar vrouens die mooiste materiale verkoop. Dadelik het Pietertjie met hulle in hul eie taal begin kuier. Dit het later amper geweld gekos om hom daar weg te kry. (Pietertjie was lief vir gesels!)

Dit is gepas dat hy sy aktiewe bediening afgesluit het in ‘n sendingpos. Deur die Kantoor vir Sending onder Kommuniste was Pietertjie aktief betrokke by die werksaamhede van die verskillende Biblia Kiosks op hawens. Ook by die een in Walvisbaai.

Vriendekring

Soos wat Pietertjie in bykans elke land van die wêreld was, het hy in elk van daardie lande ook vriende gehad. Met almal van hulle het hy deurlopend kontak behou. Dit het my verstom en ek het meermale vir hom gesê: you never cease to amaze me. Dit is telkens begroet met vryf-hande en ‘n groot glimlag!

Hier in sy heimat, het hy nie sonder sy Jaarboek gereis nie. Daar is min dominees in die NG Kerk wat hy nie geken het nie!

Met sy klasmaats het hy ook kontak gehou. Nog ‘n bekende een, was Murray Janson. Pietertjie vertel van Prof Murray se huishulp in Pretoria wat geskool was en graag die telefoon beantwoord het as die Moruti nie by die huis was nie. Dan was haar standaard woorde: “Hallo, dis die Moruti se girl wat praat.”

Totsiens

Wanneer iets hom welgeval het, het Pietertjie graag gesê: dit gaan nie ongesiens verby nie. Of: Pietertjie is bly!, laasgenoemde gewoonlik met ‘n genoeglike vryf van die hande en ‘n breë glimlag om die mond.

Pieter Wouter de Wet het geléwe. Voluit gelewe. En Pieterjie was baie kere bly. Want hy het die lewe geniet. 

Maar hy het meer aan die lewe gegee as wat hy daaruit geneem het.

Petja, jou plek is leeg. Maar ons sien weer...

                                                                                     - Clem Marais

Uit die annale

• Daar was 'n tyd dat 'n retoer treinkaartjie tussen Windhoek en Walvisbaai rondom R50 gekos het - uit notule van destydse Ring van Walvisbaai - Clem Marais (Argivaris)

Uit ander Oorde

Eerstejaarskamp: Universiteit van Pretoria

Beste voornemende Tukkie Eerstejaar, Universiteitsoord NG Kerk nooi jou om deel te word van die beste studentegemeente in die land!

Die beste plek om jou studente-jare te begin is by ons Eerstejaarskamp van gedurende die week van 1 - 5 Maart 2021.

Jy sal verseker nie spyt wees nie! Ons hou al vir amper vyftig jaar lank Eerstejaarskampe! Die doel van die kamp is om jou te help om jou universiteitsloopbaan op die regte noot te begin.

Kom ontdek jouself, maak wonderlike nuwe vriende, ontmoet jou seniors, die HK van jou koshuis/daghuis of dalk die liefde van jou lewe en bowenal begin jou student-lewe saam met die Here. Vir hulp met inskrywings kontak admin@universiteitsoord.co.za  Vir meer inligting Kliek hier

Familie Nuus

Lief en leed

• Dr Dirk Louw (Windhoek) wat herstel van die effek wat Covid-19 op hom het. Hy skryf gisteroggend: Ek was vanoggend vir  intense long toets. Geringe skade wat so 3 maande kan vat om te herstel Maar die dokter is happy veral toe ek 6 minute gestap en my suurstof vlak is op 96%. 

• Ds Dries Coetzee (emeritus Keetmanshoop) wat worstel met Covid wat ook organe aangetas het.

• Ds Berrie Holtzhausen stigter van Alzheimer-Dementia-Namibia (AND) wat jare lank die stem vir demensie en Alzheimer se siekte is en einde verlede jaar self gediagnoseer met Alzheimer’s.

• Dr Manus Olivier van Swakopmund is weer terug uit die Kaap waar hy net voor Kersfees sy laaste bestralingsessie ter behandeling van die gewas in sy sinusse.

• Met Mariaan Maritz gaan dit ook algaande beter, maar die herstelpad is maar lank en steil.

Ons dink aan hulle in ons gebede 

Hulle verjaar 

• Elida du Toit, Suiderhof  04/02 081 4013261 dbtoit@gmail.com

• Marietjie Poggenpoel, Walvisbaai Meersig 08/02 064-04426 pgpoggenpoel1@gmail.com

Feldmuis lesers wens die verjaardagmaats geluk!

Opleidingsgeleenthede

Excelsus

African Public Theology

• Datums: 4, 11, 18, 25 Februarie

Neem asseblief kennis dat die datum vir registrasie tot 1 Februarie verleng is. Registreer gerus vir die volgende VBO geleentheid: Kliek hier Kyk gerus na die uitnodiging en dan ook Inligting rakende die boek: Kliek hier

 

Hugenote Kollege (VBO Forum):

Uitvoerende kortkursusse van die Skool vir Sosiale Innovasie

• Mensgesentreerde Ontwerpdenke vir Sosiale Innovasie en Entrepreneurskap

Datum: 10 Februarie

• Leierskap vir Sosiale Innovasie en Entrepreneurskap

Datum: 10 Maart

• Mentoring en Afrigting, Persoonlike Meesterskap en Emosionele Intelligensie vir Sosiale Besigheid

Datum: 19 Mei

Inligting/inskrywing is aanlyn beskikbaar: Kliek hier

*Practices of faith in times of national and global crises

The world is in the wake of a global health crisis at the time that we prepare this conference call. This crisis came whilst there were already many other global and national crises facing us, including poverty, inequality and corruption, immigration and xenophobia, gender-based violence, homophobia and more. In the light hereof, the Gender Unit of the Beyers Naudé Centre and Department of Practical Theology and Missiology of the Faculty of Theology, Stellenbosch University, is hosting a conference on 15-17 March, 2021 at the Faculty of Theology, Stellenbosch University.

Excelsus Navrae: Rika van Rensburg [excelsus@up.ac.za; 012-420 6738] 

* Kliek hier vir volledige inligting. v VBO-Forum [Hierdie is ‘n gesamentlike inisiatief van Excelsus, Communitas en al die sinodes.] Verskeie kursusse wat aanlyn aangebied is, is steeds toeganklik. Navrae: Rika van Rensburg by excelsus@up.ac.za of Bridget Leibbrandt, / bleibbrandt@sun.ac.za

Op die radio...

Maak dit asseblief bekend in die gemeente?

Onder die Kameelboom

Thijs kuier die week saam met Clem Marais onder die Kameelboom oor veteraan sendeling Piet de Wet en Markus 9:29 - 39. Luister eerskomende Sondag 31 Januarie om 12:00 (of Dinsdag 02/02 om 09:30) op Kanaal 7. Kanaal 7 saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303; OF as jy selfs ouer opnames wil luister kan jy gaan na Potgooi

https://www.k7.com.na/potgooi/#1479900125305-ea521c4e-ddb7 

Nuwe Publikasies

• Christelike Lektuurfonds (CLF)

‘n Nuwe werkboek “Die Kerke in Suid-Afrika, COVID-19 en die Toekoms”

Dit is ‘n elektroniese “praktiese werkboek” waarin gemeentes gehelp word om te besin oor kerkwees en die bediening in die voortgang en nadraai van die ontwrigting wat die pandemie veroorsaak het. Dit is saamgestel deur ’n studiegroep van Suid-Afrikaanse kerkhistorici uit die vier grootste gereformeerde kerke in Suid-Afrika asook ander kerklike verteenwoordigers – Prof Hoffie Hofmeyr (NGK), prof Rikus Fick (GKSA), dr Frikkie Labuschagne (NHKA) en prof Nico Botha (VGKSA) (Eindredakteurs). · Die elektroniese “praktiese werkboek” word GRATIS beskikbaar gestel en kan afgelaai word. [Kliek hier]

VOORBIDDING

Gelowiges ly onder aanvalle

Dit was skokkend vir menige gelowiges in Suidelike Afrika om Mosambiek weer op die Wêreld Waarnemers lys in die 45e posisie te sien, nadat dit sedert 1993 nie op die lys was nie. Die land is ‘n gewilde vakansie bestemming vir baie en tuiste van ongeveer 17 miljoen Christene.

Vervolging het verskerp in die noorde as gevolg van Moslem ekstremiste en kerke word gereeld aangeval in die streek. Baie het nog nie herstel van die trauma wat veroorsaak is deur die tallose aanvalle deur Al-Shabaab sedert 2017 nie.

Furaia* is een van baie gelowiges wat geaffekteer is deur die aanvalle. Sy was ooggetuie van die wrede moord op haar man en broer toe die groep die provinsie Cabo Delgado aangeval het. Dit is steeds vir haar moeilik om daaroor te praat. Maar sy het ook min tyd gehad om oor die gebeure na te dink of terapie daarvoor te kry sedert die verskriklike dag nie – sy is nou alleen versorger en broodwinner vir 14 kinders.

Sy onthou hoe “die aanvallers het ons bymekaar gemaak en in geforseer in ‘n oop spasie in langs ‘n smal paadjie deur lang gras en bosse. Ek kon tussen die lang gras wegkruip… Hulle het my nie gesien nie… Maar ek moes alles aanskou wat gebeur het.

“Ek het gesien hoe hulle my man se hande vasbind en hom martel terwyl hulle skree: ‘Allahu Akbar! Allahu Akbar!’ waarna hulle sy keel afgesny het. Ek het gesien hoe hulle my broer en ander mans op dieselfde manier doodgemaak het. Daarna het hulle weggegaan, terwyl hulle my susters en ander vroue met hulle saamgevat het. Ek het nie weer van hulle gehoor sedertdien nie. Ek weet nie of hulle nog leef en of hulle ook doodgemaak is nie.” het Furaia aan Geopende Deure se vennote vertel terwyl die trane vlak lê.

Dis hartseer, maar sy het nie ‘n kans gehad om haar man of broer te begrawe nie. Nadat sy seker was dat die terroriste weg was, het sy teruggegaan huis toe en die 14 kinders: haar eie en die van haar broer en susters s’n bymekaar gemaak.

Hulle het ‘n paar dae weggekruip voordat hulle na die stad Nampula, ‘n groot stad in die naburige provinsie gevlug het. Hulle het met niks gevlug, want die rebelle het al hul besittings verbrand.

Furaia het al haar beskikbare fondse geneem en ‘n plek in die nuwe stad gehuur. Hulle het daar vir die eerste keer in weke weer veilig gevoel, maar hulle het nie veel gehad om te eet nie. In die tyd het Geopende Deure se hulp program toegetree en hulle met kos, eet en kookgerei asook beddegoed gehelp. Noudat hul mees basiese behoeftes vervul is, kry Furaia bietjie tyd en geleentheid om haar verliese te beween.

“Ek dank God vir die hulp wat gekom het. My kinders en ek het nou iets om te eet. Sonder die hulp sou ons van honger omgekom het. Baie, baie dankie vir alles wat ons ontvang het! Sê vir die wat gegee het ek wil graag dankie sê en mag God julle seën,” sê sy.

Daar is nog talle sulke gesinne en gevalle wat hulp en ondersteuning nodig het.

Span saam met Geopende Deure om ons broers en susters in Mosambiek te help. klik hier om seker te maak dat, al word hulle vervolg, hulle nie alleen is nie.

*Foto Kopiereg: IMB

*Naam aangepas vir sekuriteitsredes.

Vakatures en Ander Advertensies

 Aftree verblyf by Schanzen Oord

Lewensreg te koop op 1 slaapkamer woonstel op grondvlak, gelyk area, te Schanzen – Oord teen N$800 000 of naaste aanbod.  Kontak Frans du Toit, sel 081 261 7405 vir navrae.

Giggel

      Desperate tye vra deeglike planne om werk te kry!

---