Header

Jaargang 18 - Uitgawe 10/2021 - Donderdag  25 Maart 2021

ngkn@ngkn.com.na

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Covid en ons

• Uit die annale

• Uit ander oorde

• Familie-nuus

• Op die radio...

• Opleidingsgeleentheid

• Publikasies

• Voorbidding

• Vakatures en ander advertensies

• Giggel

Nuusbrokkies

Covid tref die sinodale kantoor....

Met ‘n breë glimlag en vol lewensvreugde het Francis Cloete kom aanmeld vir diens verlede Oktober. Sy was ‘n vars briesie wat die spinnerakke weggewaai en die twee manne netjies in rytjies kom organiseer het.

Soveel arbeidsvreugde het mens nog min gesien.

Om in die sinode kantoor te werk was ‘n roeping vir Francis en sover sy gegaan het, het sy brue gebou.

Goed wat ons voorheen weke geneem het om deur die sale van ministeries te voer het Francis sommer gou met weke verkort. Want sy het vriendelik gaan gesels, verhoudings gebou sover sy gegaan het en mense op haar hand gekry het.

En toe die skokkende nuus Maandag verlede week – Francis is net skielik  êrens Saterdag die 14e oorlede. Die verhuurders het haar eers Maandag aangetref toe mense onraad begin merk.

Ons is verslae.

Francis word Vrydag 26 Maart op Mariental waar sy grootgeword het en die grootste deel van haar lewe deurgebring het. Ds Zack Pienaar met wie sy al oor die 30 jaar kom as leraar en mentor neem die diens waar.

Mag sy in vrede rus!

• Francis Cloete soos ons haar sal onthou - altyd aan die werk!

Dieselfde dag is ds Thijs van der Merwe Covid Positief getoets nadat hy ook reeds voor die naweek siek begin word het. Hy het reeds ver gevorder op sy herstelpad.

Ons sê dankie vir begrip dat ons kantoor nie op die oomblik alle navrae kan hanteer soos dit moet nie.

---

• KUNENE VIR CHRISTUS

Damaraland swik in die droogte 

Chris Bedeker het die fotos gestuur – oor die eerste een skryf hy: Hierdie is nie ’n foto wat Perseverence op Mars geneem het nie, dis op Fonteine, Jantjie Rhyn se plaas in die weste van Damaraland.  Daar het nog nie ’n dooi druppel geval nie.  As my statistieke reg is gaan ons nou vir die negende jaar sonder ordentlike reën daar. 

Daar’s niks oor nie, nie eens meer grassade as jy die klippe omrol nie.  Die wild is al’s weg of vrek.  Jy ry vir dae sonder om ’n lewende wese te sien. 

Daar is nêrens meer ’n bees te sien nie.  Op die plaas Witwatersrand se werf lê daar agt geraamtes van die laaste bees wat vrek is.  Dié vier het by op ’n bondel gevrek. 

Meeste plase staan leeg.  Die mense het dorp toe getrek, na die laaste bokke vrek is.  Ek weet nie waarvan oorleef hul nou nie.  Seker maar ’n ouma se pensioentjie.

Met die wild wat weg is is die roofdiere nou ook net aangewese op die laaste paar bok en skaap wat oor is. 

By Fina Waterboer op Fonteine-pos het die leeus in die kraal gespring en dertien bok en skaap vrek gebyt.  Gertruida Adams op Vrede wys ons haar enigste oorblywende drie bokkies. 

Immanuel Gowaseb van Betanie-pos het niks oor nie, die leeus het dié kom vat wat die droogte nog nie gevat het nie.  Hy bly sit maar op die plaas, want hy sê hy wil nog boer.  Hoe begin jy weer as jy reeds niks het nie?

---

DAN KOM DAAR DROOGTEHULP

Versteende woud opstal,Versteende woud pos, Rooiberg, Bloukrans, Vrede, Fonteine pos, Fonteine, De Riet en Betanie pos is van die klein plekkies/plase in Damaraland waar die Riemvasmakers bly.

Chris Bedeker, sy vrou Emmie en Erik van Zyl was Jesus se hande en voete om droogtehulp bestaande uit 1.5 ton gras bale en 1 ton mieliemeel vir die Riemvasmakers te bring wat steier voor ’n vernietigende droogte.

Die reën het gestop by Khorixas waar dit groen is.

Die klippe, die niks en amper woestyn vlaktes van Damaraland herinner aan die onlangse fotos van Mars. COVID-19 het baie Lodges in Damaraland gesluit en die werkers moes terug huis toe. Die Bedekers se fotos en opname het mens geruk.

Olifante vertrap hul tuine en die beeste wat nie deur leeus gevang is nie, het gevrek. Baie bokke en selfs honde is ook deur die leeus gevang en jong lammers vrek daagliks van honger

Ons dank die Here vir donateurs, oorsee en plaaslik, wie se harte en beursies oop is vir die mense in nood! Oom Daan Holtzhausen het Dinsdag die gras gebaal het sodat ons Woensdag vroegoggend kon ry.

Meeste opstalle staan leeg, daar is niks en die mense het weggetrek dorp toe. Daniël en Gertruida Adams, Ouma Hannie, Jantjie Rhyn, Fina Waterboer en Rebekka Adams is van die vasbyt bittereinders. Die grasbale is ’n groot uitkoms, veral vir die lammers om hulle net deur te haal. “Bêre die gras asseblief tog waar die Olifante van die Huab-rivier dit nie kan ruik nie, anders vernietig hulle alles.”

Die mieliemeel is soos manna.

Ons beloof dat nog voer oppad is, hierdie is nie die laaste nie. Dankbaar teenoor die Here, lees en bid ons saam. “Hou vas aan ons Hemelse Vader, want Hy sorg vir sy kinders!” (Psalm 37:25) Onthou Jesus se woorde, “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid.” (Johannes  6:51)Ons is dankbaar dat ons Jesus se hande en voete kon wees vir die Riemvasmakers in hul eenvoud en nood, hul dankbaarheid is ons beloning!

---

• Kunene vir Christus

KAOKOLAND

’n Doodskaduwee van droogte, hongersnood en dood hang oor mens en dier in die Noordweste van Kaokoland! Net God kan uitkoms gee, net God kan lig gee in hierdie duisternis! Maart-reënseisoen is nog nie verby nie, SMEEK DIE HERE saam met ons vir uitkoms! 1.6 ton mieliemeel is ’n druppel in die emmer wat die Here menigvuldig kan gebruik soos vyf broodjies en twee vissies! Dank die Here vir donateurs in die VSA! Vetuambavi en Uanyanekua van Omuravarava help die kos die kerkie indra, as geestelike leiers sal hulle dit uitdeel.Te midde van die doodskaduwee skyn die lig van die evangelie steeds in mense se harte; groei daar ’n honger na God! Uanyanekua se 7-jarige kind het gedroom, “Muhonge het gekom!” Hulle het gewag vir ons! Ons gee 2 “Himba Oral Bibles” en 2 Herero Bybels. Die Jesus-film (26 mense) en die Woord van God die volgende môre word ingedrink! God is besig om hulle geloof te louter! (1 Petrus 1)

Ondije se dam is leeg, die mense het weggetrek na waar daar nog bietjie gras is! Mnr Tjambiru by die Ondije skool ontvang met dankbaarheid ons mieliemeel donasie. By die Okondjombo mobiele skool wys ons die Jesusfilm vir 26 kinders en 9 volwassenes. Na die hartkaart boodskap by die skool, gee ons twee Hererobybels vir Ottilie Festus (vrou) en Veyaterako Tjiningire (man), geestelike leiers in die gemeenskap, en een Himba Oral Bible vir Kaipuire Tjivinda. Juffrou Jataamwe Kuvare by die skool ontvang met dankbaarheid ons mieliemeel donasie.

Oppad na Sesfontein reël die Here ’n afspraak vir my by Marius Steiner, wat my gasvry ontvang by Aussicht, bo in die berge. 12 jaar gelede het ek een keer daar oornag. Marius koop 20 Himba Oral Bibles deur Kunene vir Christus vir OvaHimbas, onder andere vir ’n Himba-oumagrootjie wat meer as 100 jaar oud is.

Bettie Swanepoel, geestelike leier op Warmquelle, inspireer my.

Haar bakbrood-winkeltjie moes sluit vanweë COVID19, maar toe begin sy met ’n groentetuin by haar huis! Aartappels in sakke, patats, rissies, pampoene, beet, wortels, eiervrug en  soetrissies. Bettie verkoop ook aan die skoolkoshuis.

Die mieliemeel donasie aan haar deel sy uit vir die armes in die gemeenskap. Bettie is ’n lig vir die Here! Met vreugde gee ek haar ’n nuwe Herero-Bybel, want die bok het “Genesis” opgevreet! Jan Gasupi vergesel my na Karupuka en Mavehitimo Kasaona (Tjise se dogter),’n paar kilometer buite Sesfontein waar hul kamp, op soek na weiding in die berge. Presies ’n week gelede het sy gedroom ek kom hulle besoek en ook dat sy die Look & Listen prenteboeke sal ontvang wat ek vir haar sou gee! 2 Himba Oral Bibles wat opgeluister is, word vervang met nuwes en dankbaar kon ons ook vir hulle mieliemeel gee. Ons wys die Jesusfilm en bemoedig hulle om die Here heelhartig te vertrou! Dankbaar ry ek terug, wetende ek was maar net soos een van God se kraaie wat vir Elia kos gebring het! (1 Konings 17).

---

Dis gaan die eerste keer wees dat ons in Namibië Kinderbybels het in Oshikwanyama, Oshindonga, Herero en Khoekhoegowab (ook Engels).

Die Kinderbybel bevat 101 Bybelstories wat elke kind moet weet.

Nie net in skriftelike formaat nie, maar ook in oudio formaat op son-aangedrewe spelers.

Ons openingsaanbod is N$200 vir ‘n Kinderbybel (nét tussen 26 Maart en 16 April); en ons stel dit op die 26ste en 27ste Maart in Swakopmund en Walvisbaai bekend.

• Op die 26ste in Swakopmund: Woermann Brock Supermarket Main EN Food Lover’s Market Shopping Centre.

• Vanaf die 27ste aan die Kinderbybels ook beskikbaar wees by Cornerstone Walvisbaai en Buchhandlung Swakopmund.

• En natuurlik by ons Bybelwinkels.

Mense kan ook deelneem aan ons BORG 'N KINDERBYBEL VIR 'n MINDERBEVOORREGTE KIND projek en N$200 by te dra om ‘n Kinderbybel in die hand te sit van ‘n minder-bevoorregte kind.

Mense kan inskryf om te hardloop vir 101 Bybelstories!

Op die 10de April.

‘n Span van 3 wat saam deelneem maak dit moontlik om ‘n son-aangedrewe speler in die hande te sit van ‘n minder-bevoorregte kind wat nie kan lees/ skryf nie.

Hier is die elektroniese skakel na die inskrywingsvorm:

https://drive.google.com/file/d/1hgbuhgr5Vg5heInF9izh6JFZaBeOsl0C/view?usp=sharing

---

COVID-19 en ons

Uit die annale

WAT NOEM ONS HOM?

Op 12 April 1958 vergader die Ring van Windhoek te Okahanda. Die vergadering beraadslaag oor hoe die voorsitter aangespreek moet word. Ds Leon Steenkamp (Windhoek-Wes) teken die uitkoms soos volg in die notule aan:

...die algemene gevoele is dat dit ‘Weleerwaarde Heer’ moet wees. In hierdie verband word egter die volgende voorstel van die ouderling en predikant van Windhoek-Wes aangeneem: ‘Die aanspreekvorm van die voorsitter van die Kerkraad, Ring en Sinode word na die Permanente Regskommissie verwys om ‘n beskrywingspunt na die eersvolgende Sinode te stuur.’

Clem Marais (Argivaris)

Uit ander Oorde

Familie Nuus

Lief en leed

• Ons dink aan die agtregeblewenes van ons administratiewe Beampte me Francis Cloete wat op 14 Maart aan Covid verwante oorsake oorlede is. Haar begrafnis is Vrydag 26 Maart 08:00

• Teresa Olivier en haar kinders na Manus se oorlye - ons dink aan hulle in hul leed en dra hulle in ons gebede.

• Dit gaan weer minder goed met Lukas Coetzer (Emeritus van Outjo) nadat sy kanker weer opgevlam het. Hy het op15 Maart weer ‘n behandeling gekry. Hy moet elke 3 weke ingrypende chemo terapie kry.

• Ons dink aan ds Thijs van der Merwe wat aansterk na hy Covid-positief getoets is verlede week.

Ons dink aan hulle in ons gebede 

Hulle verjaar 

 

• Dirk Louw, Windhoek 25/03 081-124-3824 dirkl@iway.na

• Theresa Olivier, Swakopmund 26/03 081 664 6151 - so tussen die aanpas deur by 'n lewe sonder Manus!

• Elma van Zyl, Gobabis 26/03 81-1247745 elma.eden@gmail.com

• Ons Feldmuise sê Baie geluk!

Opleidingsgeleenthede

Werkswinkel: Opleiding van Begeleiers van ’n Bedieningsdiagnose in Gemeentes

Excelsus gaan in die volgende jaar ’n reeks werkswinkels op verskillende plekke aanbied waar predikante en ander gemeenteleiers opgelei word as begeleiers van ’n Bedieningsdiagnose in gemeentes.
Die werkswinkel berus op die werkboek “Bediening in en van Missionale Gemeentes” wat in 2016 deur Malan Nel en Kennon L Callahan gepubliseer is.
Prof. Malan Nel wat die aanbieder van die werkswinkel is, gee die volgende agtergrond:

Sedert 1991 was dit my voorreg om by ongeveer 150 gemeentes in verskillende denominasies, maar hoofsaaklik in die NG Kerk, prosesse in die ontwikkeling of opbou van missionale gemeentes te fasiliteer. Deel van hierdie fasilitering was groep- dinamiese diagnoses van bedieninge en funksionering in hierdie gemeentes.
Ek is op n stadium in my lewe en bediening dat ek graag plaaslike pastors wil oplei om sodanige diagnoses te begelei.
My oortuiging is dat gemeentes wat trots is op hulle geskenkte identiteit in Christus byna logies begin vra: hoe gaan dit met ons? Die bedieningsanalise en diagnose waarmee ek werk, help gemeentes om te soek na die sterkpunte in hulle bedieninge.
Die nuwe werkboek (Nel en Callahan 2016) is gebou op ’n teologies gemotiveerde nadenke oor wie ons is en wat ons doen. Daar is by my ’n besliste keuse teen ’n bestuur-wetenskaplike, leier gedomineerde, verskraling van die gemeente tot ’n organisasie wat met beplanning ‘reg gemaak’ kan word.
Dit gesê: hoe beter ons ons God gegewe identiteit besef, hoe meer noukeurig onderskei ons waar ons is, hoe dit gaan en soek ons saam waarheen ons op pad is. Dit is nie ’n leier-gedomineerde evaluering van gemeentes is nie, maar ’n diagnose deur die gemeente self, ’n gemeente wat weet dat die bediening hulle s’n is. Die verwagting is dat minstens 20% van die gemiddelde erediensbywoning aan die diagnose deelneem.

Jy word hiermee uitgenooi na ‘n volgende werkswinkel vir die opleiding om as fasiliteerder self sodanige diagnoses te begelei.
Datum: 13 - 14 April 2021. Dag 1 09:30 – 17:00; Dag 2 08:30 – 12:30
Plek: Gemeente Sentrum, NG Gemeente Stellastraat
Koste: R 390-00 wat die volgende insluit:
· Werkboek: Bediening in en van Missionale Gemeentes. Gemeente Diagnose (word by die werkswinkel beskikbaar gestel).
· Drie verversings en ete
Inskrywing geskied deur middel van Google Forms: https://forms.gle/ZAN2J7ioymLjv59o9Aanbieder: Malan Nel
VBO-punte: 10
Bankbesonderhede: Teologiese Studente en ander Opleidingsfonds, ABSA, Rek: 1420830463, Tak: 632005, Tipe: Tjek, Verw: VBOnaam en van
Sluitingsdatum: 8 April 2021
(Rika van Rensburg – Sekretaresse: Excelsus)

Churches, Channels of Hope Facilitator Training

Stillebosch Retreat, Anathoth Farm, Stellenbosch

Datums:  29-31 Maart EN 3-5 Mei 2021

30 VBO Punte vir NGK predikante.

Doel

Om geestelike leiers toe te rus met die toepaslike houdings, kennis en vaardighede om kanale van hoop te word en om gemeenskappe te begelei tov HIV/Vigs.

Die kursus Kerke, Kanale van Hoop program bied ook gereedskap aan wat gemeentes en gemeenskappe help om te reageer op die nood wat HIV en Vigs meebring.

Lees meer en Skryf in

Vind hierby aangeheg agtergrond tot en die aansoekvorm vir die Kerke, Kanale van Hoop Fasiliteerdersopleiding wat einde Maart afskop by Anathoth.

•  Dit is ‘n gesamentlilke inisiatief tussen Diaconia (Vigstaakspan) en CABSA.

• Laai die dokument hier af

• Hugenote Kollege (VBO Forum):

Uitvoerende kortkursusse van die Skool vir Sosiale Innovasie

• Mentoring en Afrigting, Persoonlike Meesterskap en Emosionele Intelligensie vir Sosiale Besigheid

Datum: 19 Mei

Inligting/inskrywing is aanlyn beskikbaar: Kliek hier

---

Op die radio...

Maak dit asseblief bekend in die gemeente?

Onder die Kameelboom

Thijs kuier die week saam met dr De Wet Strauss onder die Kameelboom oor die uitkomste van die saamtrek van predikante die week in Swakopmund. Luister eerskomende Sondag 28 Maart om 12:00 (of Dinsdag 30/03 om 09:30) op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303; OF op Potgooi 

https://www.k7.com.na/potgooi/#1479900125305-ea521c4e-ddb7

Publikasies

---

 

Bybels en gebedeboeke vir oud en jonk

Bybellees en gebed gaan hand aan hand. Dit vorm deel van ons daaglikse bestaan as gelowiges. Hieronder is Bybels en gebedeboeke vir jou en jou kinders om julle te help om geestelik te groei en vir julleself en ander mense te bid.

’n Versameling gebede om ons te help om verder as ons eie gesinne en gemeenskappe te bid 

 

Saam bid ons Wyer, Dieper en Kragtiger

PRYS: R220.00

’n Dieper gebedslewe is die hartsbegeerte van talle Christene, maar waar begin ’n mens en hoe hou jy dit vol? Die 365 gebede in Saam bid ons wyer, dieper en kragtiger is geskryf met die uitsluitlike doel om ’n kragtige gebedslewe te vestig. Verdeel in 12 maande, is hierdie teksverse en gebede ontwerp om ons te help om verder as ons eie gesin, gemeenskap, stad en land te bid.

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

VOORBIDDING

Eitrea

Christene kan gearresteer word en sonder ʼn verhoor in die tronk gegooi word. Talle Christene word in onmenslike omstandighede in tronke aangehou weens hul geloof, en hulle geliefdes weet dikwels nie waar hulle is en of hulle selfs nog lewe nie.

Sluit by ons aan in gebed vir ons broers en susters in Eritrea deur jou gebedskyfie hieronder af te laai.

Christene van nie-tradisionele denominasies staar die swaarste vervolging in die gesig in Eritrea, beide van die regering en van die Eritrese Ortodokse Kerk (EOK). Die EOK is die enigste Christen-denominasie wat deur die regering erken word en word streng deur die owerhede beheer.

• Die regering se veiligheidsmagte monitor telefoonoproepe, fynkam aktiwiteite en voer tallose klopjagte uit wat Christene teiken, beslag lê op Christelike materiaal en huiskerke beskadig. Christene kan gearresteer word en sonder ʼn verhoor in die tronk gegooi word. Talle Christene word in onmenslike omstandighede in tronke aangehou weens hul geloof, en hulle geliefdes weet dikwels nie waar hulle is en of hulle selfs nog lewe nie. In Junie 2020 het die Verenigde Nasies (VN) gerapporteer dat daar geen noemenswaardige verbeteringe in Eritrea is wat menseregteskendings aanspreek nie.

Nie-EOK-Christene en Christene vanuit ʼn Moslemagtergrond ervaar uiterste teenstand van hulle families, gemeenskappe en die staat, en word dikwels noodsaaklike maatskaplike dienste en ander hulpbronne geweier.

Ontmoet vir Musse* 

“In die tronk was een van my belangrikste doelwitte as ʼn Christen om te evangeliseer. Dis verbode om dit openlik te doen, maar ons het dit in die nag gedoen wanneer almal geslaap het. Mense in die tronk ervaar verskeie frustrasies en is depressief. Dié mense was versot op wat ons hulle geleer en met hulle gedeel het. Sommige van hulle het ons selfs probeer beskerm. Ons het baie bekerings gesien. Die Evangelie kan nie vasgeketting word nie!”

Musse* het jare in die tronk spandeer – en die Evangelie met ander gedeel. As daar een ding is wat Ruth en Musse deur die jare wat hulle die Here en Sy Kerk in Eritrea dien geleer het, was dit dat die Evangelie nie geboei kan word nie. Ongeag hoe donker dinge mag lyk, God se lig oorwin altyd. Musse het jare in die tronk spandeer, maar selfs daar kon hy die goeie nuus van die Evangelie deel. Ruth het getrou vir hom gewag en deurentyd God se goedheid en genade ervaar.

Bid vir ERITREA

• Bid dat gelowiges se geloof sal groei, dat hulle liefde sal toeneem en dat hulle geloof ondanks vervolging en onderdrukking standvastig sal wees.

• bid dat Eritrese Christene en kerkleiers wysheid en geleenthede sal hê om in gesprek met hul regering te tree oor die onderwerp van godsdiensvryheid.

• Bid vir dié wat in ondraaglike toestande in die tronk ly weens hul geloof, en vir die Christenvroue en -kinders wie se mans en pa’s in die tronk is. Bid dat die Here Sy genade aan hierdie families sal bewys en in hulle geestelike en fisiese behoeftes sal voorsien.

Vakatures en Ander Advertensies

Aftree verblyf by Schanzen Oord - lewensreg 

Lewensreg te koop op 1 slaapkamer woonstel op 3de vloer in toringblok @ N$700 000 of naaste aanbod. 

Kontak Frans du Toit, sel 081 261 7405 vir navrae.

Giggel

Feldmuis sê: 'n Ander manier van jou sin kry.... 

---