Header

Jaargang 15 - Uitgawe 6/2018 - Woensdag 14 Februarie 2018

ngkn@ngkn.com.na

---

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Nuut by Bybelkor

• Nuut by CLF

• Konserte en so...

• Gholfdae

• Radioprogramme

• Familie-nuus

• Voorbidding

• Giggel

Nuusbrokkies

Kom plant saam aan Namibië se Lutherbos-boom op 28 Februarie...

Namibië se "NG-Engelse Plataan" in Wittenberg kry DV op 28 Februarie sy plaaslike maatjie in Windhoek.

Die NG Kerk Namibië het in Oktober 2016 'n boom in die Luthergarten in Wittenberg geplant met die 500-jarige herdenking van die Reformasie in 2017. Die boom, 'n Platanus hispanica (Engelse Plataan), is deur personeel van Luther World Federation Center geplant.

Vir elke boom in die Luthergarten word daar 'n "vennoot-boom" geplant in die land van waar die betrokke Luther-boom geborg is. Die Moderamen het verlede jaar besluit dit moet 'n Witgat wees wat op die perseel van Windhoek-gemeente geplant sal word.

Kom beleef 'n stukkie geskiedenis wat gemaak word wanneer Namibië se Lutherbos-boom se "maatjie" DV in Windhoek geplant word. Die seremonie begin DV om 18:00 by Windhoek Moedergemeente.

* As jy meer wil weet van ons Engelse Plataan in Wittenberg, gaan loer in by www.luthergarten.de  – kies die Engelse opsie, gaan na “List of all trees” en soek vir nommer 283. 

Foto: Pastor Hans W Kasch, Direkteur van die LWF Center in Wittenberg, en Annette Glaubig, die projek-assistent van dieselfde Sentrum, plant Namibië se boom nr 283 in die Luthergarten in Wittenberg op Saterdag 8 Oktober 2016

---

Lees in die jongste Kerkbode ...

Kerkbode van 16 Februarie 2018 het twee sterk verhale waarin versoening ’n sentrale tema is. Die een kom uit Coligny in Goudland-sinode, en die ander uit Graaff-Reinet in die Oos-Kaapse sinode.

Lees ook hoe dominee Nico Swart wonderlike kollegas tydens  sy pelgrimstog gedurende sy Sabbatsverlof ontdek het.

Daar is verhale oor ’n groentetuin op ’n sypaadjie, ’n beloofde land in Ga-Rankuwa en ’n leesprojek vir kinders.

Lees verder oor die kerk se reaksie op die droogte, oor die jongste verwikkelinge in die hofsaak oor die kerk se besluite oor selfdegeslagverhoudinge, oor die Teologiese Dag op Stellenbosch, oor die NG Kerk se verhoudinge met die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika – en nog heelwat meer.

---

Lees in die Maart-uitgawe van LiG ...

In die Maart-LiG vloei ons harte oor van hoop! Ons ry saam op ‘n boeke-bus wat hoop vir kinders bring. En vertel van ‘n ouma wat deur haar seun se dood en haar eie kanker steeds sê: “God is goed!”

Hanna Grobler en Liza Brönner vertel dat hul vriendskap ‘n seën van God is. Predikant, Jaco Strydom, inspireer ons om te lééf soos ons glo.

Vir ouers is daar uitstekende raad oor hoe om vir jou kind ‘n emosionele woordeskat aan te leer; oor die verhouding tussen jou en jou kind se onderwyser; en hoe om jou tiener met jou te laat praat.

Ons ondersoek hoe om depressie by bejaardes te hanteer. En kyk wat God se idee met die huwelik is.

Lees ook van hoopgewers deur die geskiedenis, en van Jesus – ons “Lewende hoop”.

---

Nuut by Bybelkor

Volhoubare Missionale Kerkwees Gespreksbord

Hierdie gespreksbord is die ideale hulpmiddel vir die leierskap in gemeentes wat nuut oor volhoubare missionale kerkwees wil dink.

Eerstens help dit deelnemers om bewus te raak van die huidige funksionering van hulle gemeente en die bedieningskeuses wat daaragter lê.

Tweedes sluit dit vir hulle moontlikhede oop wat binne ons huidige kerkreg aanvaarbaar is. Dit maak gelowiges se verbeelding los oor hoe hulle hulle as ʼn plaaslike gemeente nuut kan posisioneer om aan God se groot beweging in die wêreld deel te neem.

Let daarop:

• Hierdie produk vorm deel van ʼn gefasiliteerde proses. Dit is ontwikkel saam met Communitas se fasiliteerders.

• Ons beveel aan dat gemeentes wat die gespreksbord wil aankoop eers met Communitas skakel om seker te maak dié hulpmiddel sal vir hulle bruikbaar wees.

Prys: R250,00 (BTW en posgeld in SA ingesluit.

Inligting, Navrae en Diensverskaffing:

• Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8210

• Of stuur jou bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za

• Of koop met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.org.za , klik dan op winkel, óf tik die produknaam in.

---

Nuut by CLF

Silence and Solidarity - Celebrating 30 Years of the Centre for Christian Spirituality

Onder redaksie van Laurie Gaum, Sally Argent, Anne Hahn en Louise Cull

Hierdie publikasie gee aan 'n mens ’n kykie in die 30 jaar wat die Centre for Christian Spirituality / Sentrum vir Christelike Spiritualiteit reeds bestaan.

Die sentrum met sy Anglikaanse wortels, het as die “Institute for Christian Spirituality” ontstaan. Die verlange van die destydse aartsbiskop Desmond Tutu, wat diep betrokke by die stigting was, was dat iets van “the church at prayer” in die sentrum weerspieël moes word. Die instituut wou in moeilike tye in ons land aan geestelike leiers ruimte gee vir stilte en gebed.

Klik hier om die volledige resensie te lees.

Moenie die kans laat verbygaan om hierdie boek in die hande te kry nie. Kontak CLF by (021) 873 0396 of epos order@clf.co.za

---

Konserte en so...

Fresh Namibia bied aan: Nostalgie

• 16 Februarie

• Lemon Tree - Liliencronstraat, Windhoek

• 18:00

• N$200 per persoon

• Kaartjies: 081 6021394; gebaardewaarheid@gmail.com

---

Adam Tas - Windhoek-Wes

---

Gholfdae

Fresh

---

Kanaal 7

---

Radioprogramme

Maak dit asseblief bekend in gemeentes?

Onder die Kameelboom

"Geloof is parasities van aard en leef van en teer op die genade van God."  Dit is 'n opmerking wat Clem Marais maak in sy gesprek met Jan Woest oor Romeine 4. Dit is die Leesrooster se fokus-teks vir Sondag 25 Februarie. Paulus het dit daar onder andere oor die versoening met God wat deur die geloof kom en nie deur die voldoening aan die wet van Moses nie. Kuier gerus saam Onder die Kameelboom op Kanaal 7, Sondag om 12:00 of Dinsdag om 09:30. Die stasie saai ook op die web uit by www.k7.com.na asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303

Godsdiensaktueel op Hartklop FM

Luister elke Sondagmiddag om 16:30 na Godsdiens Aktueel op Hartklop FM, voorheen bekend as die Afrikaanse Diens van die NBC. Dr Jan Woest is gedurende Januarie en Februarie die aanbieder en hy gesels met Nicolene Woest oor geestelike verdieping.

Familie-nuus

Hulle verjaar tot volgende week...

• Peet Poggenpoel (Walvisbaai-Meersig): Donderdag 15/02; 081-128-5902; pgpoggenpoel@gmail.com 

Oud-leraar van Tsumeb sterf

Dr Darius Botha, van 2008 tot 2010 predikant op Tsumeb, is Maandag in die ouderdom van 62 in die RSA oorlede. Hy het 'n lang stryd met kanker gehad.

Darra, soos hy onder sy studente-vriende bekend gestaan het, het sedert 2014 maagkanker gehad. Nadat dit vroeër in remissie gegaan het, het dit einde 2017 weer uitgeslaan.

Sy tweelingkinders, Carine en Tobie, is onderskeidelik op 6 en 18 jaar oud aan kanker oorlede.

Feldmuis onthou 'n kollega en vriend met deernis!

Voorbidding

Ons bid vir Argentinië

Versorg deur Thijs van der Merwe – aan die hand van Patrick Johnstone en Jason Mandryk se Operation World

Oppervlak 2 780 092 km2 op die suidoostelike kus van Suid Amerika.

Bevolking: 43 miljoen, oorwegend mense van Europese afkoms - 84,5%. ‘n Fusie van verskeie nasionaliteite Mestiso; Ameridiane; Midde Oosterse mense dra tot ryke verskeidenheid by.

Onafhanklik van Spanje in 1816. Peron se wanbestuur en die linksgesinde terreur veldtog teen die bewind, lei tot 1976 se militêre bewindsoorname.

‘n Tyd van menseregteskendings volg waarin duisende spoorloos verdwyn, en derduisende gemartel en summier tereggestel word. Die Falklande oorlog teen Brittanje en genoemde vergrype lei tot die herste van demokrasie in 1983.

Die twee opvolgende presidente van die afgelope dekade, Kirchner en Fernandez (eggenotes) het sake gestabiliseer en ‘n platform geskep vir ontwikkeling, maar hulle isolering van die ekonomie lei uiteindelik tot stagnasie. Met die verkiesing van Mauricio Macri in November 2015, begin ’n periode van hervorming.

Ekonomie: Ryk aan natuurlike hulpbronne en goed geskoolde werksmag. Landbou produkte soos beesvleis, soja, koring en mielies vorm 'n groot deel van die ekonomie.

Teen 1900 een van die wêreld se rykste lande – maar ‘n eeu van wanbestuur bring die land op die rand van ekonomiese ineenstorting. Weghol inflasie wat tot in die duisende persentasiepunte groei en verbreide armoede is die resultaat hiervan.

In 1989 kom Menem aan bewind en bring ‘n dramatiese wending ten goede mee.

Die land is nou besig om stelselmatig terug te keer na ekonomiese stabiliteit en groei sedert 2001 was sterk maar kon nog nie die middelklas herstel nie en groot armoede heers steeds.

Die era van Kirchner en Fernandez lei tot stagnasie en eers sedert die bewindsoorname van Macri in 2015 het sake verbeter en nuwe stimulasie van die ekonomie gegee. 

Godsdiens: Vryheid van godsdiens heers, maar met die Roomskatolieke kerk as Staatskerk.

Nie-godsdienstig 8.68% - die segment wat die meeste groei toon; Jode: 0,55%; Muslim: 0,75%; Animiste: 0,3%; Christene: 89,28%, met 0,7% groei pj.

Loof die Here vir:

• Dramatiese geestelike groei, herlewings wat standhoudend is en ‘n impak het op die gemeenskap; die groei in evangeliese kringe was dramaties, maar die Katolieke kerk het getaan;

• Die oplewing bring ook mee dat die land van die grootste evangeliste oplewer oor die afgelope paar dekades; sendingvisie groei ook geweldig en die land stuur groot getalle sendelinge die wêreld in.

• Evangelisasiewerk in gevangenisse het die effek gehad dat die land se gevangenisse getransformeer het

Tree in vir:

• Eenheid tussen gelowiges, en dat skadelike verdeeldheid opgelos sal word;

• Welvaartsteologie het begin blom, met baie negatiewe gevolge.

• Opgeleide leiers, die tekort aan diesulkes lê die verdere groei van die kerk in die wiele aan bande;

• Laagland Ameridiane wat tot geloof kom groei steeds, maar hulle is geneig om terug te val in animisme - veral as sake skeef loop in hulle lewens;

• Die ekonomiese agteruitgang in die 20e eeu het groot dele van die bevolking nadelig geraak – hulle het verarm en baie leef in kritieke armoede – bid vir uitreike na die stedelike armes wat ‘n enorme uitdaging is

• Bid dat die sendingvisie in die Argentynse kerk sal voortduur en dat hulle sal voortgaan met die werf en oplei van sendingwerkers om beide binnelands en buitelands te gaan werk – binnelands veral in die arm gemeenskappe waar die nood hoog is, maar ook onder inheemse groepe wat min of onbereik gebly het.

---
Bid saam vir die #5 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Pakistan.

Bid saam vir die #5 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Pakistan.

Daar is verskeie groepe van Christene in Pakistan wat vervolging ervaar. Historiese Christen-gemeenskappe bestaan openlik, maar is ... Klik om verder te lees >>

Read more.

---

Giggel

Die laaitie in graad 10 (Pieter de Wet) die dag wou stokkiesdraai. Sy stem het al gebreek. Hy bel die skoolhoof en sê dat Pieter de Wet met 'n geweldige hoofpyn wakker geword het en nie by die skool sal wees nie.

Die hoof kry snuf in die neus en vra: Wie praat nou?

Antwoord Pieter: Dis my pa wat hier praat, meneer.

---

Hartlike groete uit die Sinodale Kantoor in Windhoek,