Header

Jaargang 15 - Uitgawe 10/2018 - Woensdag 14 Maart 2018

ngkn@ngkn.com.na

Roeping 2017 is die roetekaart vir ons kerk-wees die volgende paar jaar in Namibië.

Let asseblief daarop dat Feldmuis volgende week eers op Donderdag 22 Maart sal verskyn vanweë die vakansiedag op 21 Maart.

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Jongste Bybelkor-publikasies

• Nuut by CLF

• Radioprogramme

• Familie-nuus

• Voorbidding

• Vakatures vir predikante

• Giggel

Nuusbrokkies

Vrienskapsevangelisasie - Malan Nel

Ons is almal briewe deur God geskryf aan die mense om ons, oor die hoop wat in ons leef.  So vertel Paulus ons.  Dikwels voel ons onbekwaam, dom, skaam en onbeholpe as ons dit hoor.  Erger nog as ons uitgedaag word om lewende getuies te wees!

Tog sal ek en jy graag wil hê dat mense om ons ook die liefde van die Here sal ervaar en die vrede sal leer ken wat mens kry as jy weet jy kan vrymoedig voor God leef.

So, hoe getuig ek Jesus se liefde op ‘n praktiese wyse teenoor my nie-christen buurman en kollega?

U word hartlik uitgenooi na Windhoek Moedergemeente se Getuienisnaweek op 8 April 2018 om 08:30 (Engelse diens), 10:00 (Afrikaanse diens) en 18:00 (gekombineerde diens).

Spreker:    Prof Malan Nel van Pretoria (foto aangeheg)
Tema:     Vriendskapsevangelisasie

Vir ‘n meer in diepte bespreking oor die beginsels en praktiese leiding oor Vriendskapsevangelisasie, is u ook welkom by Saterdagoggend se sessie, 7 April 2018, vanaf 08:00 - 10:00. 
Alle geestelike leiers en belangstellende gemeentelede is welkom.
RSVP asb. voor 2 April 2018 by ngkw@iway.na

*Malan Nel is verbonde aan die Universiteit van Pretoria en ‘n buitengewone professor in Praktiese Teologie.  Hy spesialiseer in Missionale Gemeentebou, Evangelisasie, Jeugbediening en Christelike Opvoeding.

---

NG Kerk Greyton eeufees

---
Voorblad: Lig April 2018

Die April-uitgawe van LiG vertel ...

Ons vier Paasfees in LiG se April-uitgawe! Lees hoe ons God se omgee by die kruis beleef, en hoe jy jou oorvloed in Jesus kan vind. Daar is ook 'n mooi krans wat jy met lap en knope kan maak.

Ons gesels met Rina Hugo oor haar loopbaan en haar huwelik van byna 50 jaar. En hoor Hykie Berg se inspirerende storie waar hy Jesus se liefde gesien en gevoel het.

Ons gee raad oor hoe om met jou kind oor geweld in die Bybel te praat, en wat jy kan doen om jou kind se geestelike gawes te ontdek.

Lees die verhaal van 'n vrou wat deur haar kuns genesing vind, en 'n gewone man wat die wêreld verander deur stories voor te lees.

Ons wonder ook oor genadedood, en wat ‘n gelowige daarvan moet dink.

Jongste Bybelkor-publikasies

Voorblad: Kinder-kategese, Laat die kindertjies na My toe kom.

Kinderkategese

Hierdie ses aktiwiteitsboeke bied aan jong kinders selfdoen-aktiwiteite gegrond op sleuteltekse in die Ou Testament (boeke 1 – 3) en die Nuwe Testament (boeke 4 – 6) van die Bybel.

Deur hierdie aktiwiteite leer ken die kinders op ʼn prettige manier 90 stories uit die Ou en die Nuwe Testament wat ʼn belangrike rol in ons geloofsvorming speel.

Prys: R35,00 elk (BTW en posgeld in RSA ingesluit). Reeds beskikbaar.

Hierdie reeks van ses aktiwiteitsboeke is ook in Engels beskikbaar.

Inligting, Navrae en Diensverskaffing:

•           Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8210

•           Of stuur jou bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za

•           Of koop met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.org.za , klik dan op winkel, óf tik die produknaam in.

Nuut by CLF

Sien hoekom daar soveel verskeidenheid in teologiese denke is...

Christianity in Eurafrica is 'n formidabele boek, noukeurig nagevors en goed geskryf deur 'n professionele geleerde.

In die eerste gedeelte volg die boek die geskiedenis van die kerk in Europa, wat die oorsprong van teologiese diversiteit tot vandag toe verduidelik.

In die tweede gedeelte van die boek vertel die skrywer hoe die Christelike geloof suid beweeg het, wortel geskied het in Afrika en onafhanklik gegroei het, maar altyd in verhouding tot die wêreldwye liggaam van Christus. Baie prente en illustrasies dien om die gebeurtenis verder te verlig.

Steven Paas was vir baie jare dosent in Malawi; Hy skryf vanuit 'n grondige kennis van en liefde vir die Here se kerk, veral in Afrika. Christianity in Eurafrica word sterk aanbeveel vir studente en geleerdes en almal geïnteresseerd in die geskiedenis van die kerk van God.

Kontak CLF by +2721 873 6964, epos info@clf.co.za of besoek ons webwerf www.clf.co.za

Radioprogramme

Maak dit asseblief bekend in gemeentes?

Onder die Kameelboom

Die manier waarop Markus die verhaal van Jesus se kruisiging vertel, stel 'n verskeidenheid van deelnemende karakters voor. Dit wys onder andere dat die lyding en sterwe van Christus niemand uitsluit nie. Clem Marais en De Wet Strauss neem Markus 15 onder die loep wanneer hulle saam Onder die Kameelboom kuier. Kuier gerus saam op Kanaal 7, Sondag om 12:00 of Dinsdag om 09:30. Die stasie saai ook op die web uit by www.k7.com.na asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303

---

Godsdiensaktueel op Hartklop FM

Luister elke Sondagmiddag om 16:30 na Godsdiens Aktueel op Hartklop FM, voorheen bekend as die Afrikaanse Diens van die NBC. Die Gereformeerde Kerke is hierdie maand verantwoordelik vir die program.

Familie-nuus

Hulle verjaar tot volgende week...

• Jacolet de Koning (Tsumeb): Dinsdag 20/03; 081 622 7756; tjdekoning@iway.na

Voorbidding

Ons bid vir Namibië

Stuur asseblief gebedsversoeke aan clem@ngkn.com.na. Bydraes moet hom weekliks teen Woensdagoggend 10:00 bereik.

• Reën: die seisoen verloop ontstellend tot dusvêr...

• Grietjie Combrinck (pastorie-ma van Warmbad) kry DV van 20 Maart af 'n nuwe soort chemo-terapie.

• Manus Olivier (Swakopmund) het gehoor dat die kankergewas in sy sinusholte na 7 jaar hervat het. Die het 'n oogsenuwee aangetas en plaas drukking op die breinstam. Hy word DV op 20 Maart in Kaapstad geopereer. 

• Okahandja is in die proses van beroeping. Keerdatum vir bekendstelling is Maandag 16 Maart. Bid vir die regte nuwe dominee?

• Bekostiging van maatskaplike werkers: EcSOS het reeds 15 poste vir maatskaplike werkers in die land geïdentifiseer wat gevul kan word as daar geld vir salarisse was. Daar is tans vyf-en-'n-half poste aktief in die land.

• Huis Maerua matriek-dogters

Huis Maerua het 2 pragtige dogters wat albei hierdie jaar in Matriek is.

Ons staan saam met hulle voor die groot besluit oor hulle toekoms. Ons wil vra dat almal saam met ons sal bid vir hierdie kinders en in die besonder vir leiding met die keuse van n beroep. 

Ons wil bitter graag dat albei verdere studies onderneem en het ook hier leiding en finansies nodig. 

Ons weet dat hulle baie spesiaal is en wil graag hê, watter rigting hulle lewens na 2018 gaan inslaan, dat God vir altyd hulle leidsman sal wees.

---

Ons bid vir Brasilië

Versorg deur Thijs van der Merwe – aan die hand van Patrick Johnstone en Jason Mandryk se Operation World

Oppervlak:  8 512 000 km2 geleë aan die noordoostelike kus van suid Amerika.  Onafhanklik van Portugal sedert 1822, en word in 1889 ‘n federale republiek. Bevolking: 195,423,252 (2010) 

Outoritêre militêre regering tussen 1964 en 85 se nalatenskap van staatseienaarskap van groot dele van die ekonomie, sosiale ongelykheid en oneffektiewe burokrasie kniehalter ontwikkeling. Demokrasie is in 1985 herstel.

In 1992 word die president uitgeskop vanweë sy korrupsie.

Die toekenning van die 2014 FIFA Wêreld Beker & die 2016 Somer Olympiese Spele, die eerste ooit op die kontinent word beleef as simbolies van die land se opgang.

Sedert 2013, beleef die land 'n kwynende ekonomie, groeiende werkloosheid & stygende inflasie. Politieke skandaal en klagtes van korrupsie lei tot die afsetting van President Dilma Rousseff in  Augustus 2016; haar visepresident, Michel Temer, sal nou tot 2018 dien as president.

In Februarie 2018 het die President Federale Troepe in Rio ontplooi om die geweld geassosieer met die dwelm handel en bende oorloë in die arm woonbuurte – die Favelas. 

Ekonomie: Geweldige inflasie gedurende die 1980’s het die ekonomie groot skade berokken.

In 1989 was die inflasiekoers 1 386% p.j! Dit is onder beheer gebring en die land in een van die ontluikende ekonomiese reuse.

Die korrupsie, staatsoorspandering en staatsbeheer wat die ekonomie gekneihalter het is omgekeer.

Die groeiende ekologiese krisis in die Amasone en Pantanal streke verg aandag.

Sterk groei deur 2007 / 2008, toe die wêreld ekonomiese krisis tref – tog hanteer die ekonomie dit goed en is dit een van die eerste ekonomieë wat begin herstel.

Teen 2010 bereik groei 7.5%,  maar begin daarna geleidelik afneem agv oorafhanklikheid van kommoditeite wat 'n volitiele mark is; lae produktiwiteit, hoë produksie koste & hoë inflasie.

In Oktober 2014 wys Rousseff 'n nuwe finansiële span se besparingsmaatreëls kry die wind van voor en die resultaat is dat die ekonomie in die moeilikheid is.

Godsdiens: Godsdiensvryheid met ‘n streng skeiding tussen kerk en staat.  Nie-Godsdienstig 2.24%; Spiritiste: 5,4%; Boeddhiste: 0.26%; Muslim: 0.29%; Jode: 0.06%; Christene: 91,4%, groei van 1,1%

Loof die Heer vir:

• Geweldige en voortdurende groei in evangeliese kerke maak die land een van die grootste evangeliese bevolkings ter wêreld; 

• Die Goias streek was bekend vir spiritisme, intersessie is besig om die mag te verbreek;

• Die Brasiliaanse sendingbeweging se volgehoue groei

• Suksesse met die herstel van die ekonomie; omkeer van korrupsie, nepotisme; en tree in dat diskriminasie teen armes en inheemse bevolkingsgroepe beëindig sal word; * Bid dat die huidige afswaai aangespreek kan word

Tree in vir

• Armoedeverligting, die BIG inisiatief het goeie vrug afgewerp aanvanklik maar lyk of dit nie volhoubaar die gewenste uitwerking het nie – diep armoede bly 'n uitdaging!

• ‘n Antwoord op die geweldige dwelmsmokkelary en -misbruikprobleme wat geweldige negatiewe impak op die gemeenskap het

• Uitdagings vir die Evangeliese kerke. Om relevant en profeties te wees in die gemeenskap. Evangelisasie-ywer word bykans nooit gerugsteun deur ‘n soeke na geregtigheid in de samelewing nie.  Die gemeenskap gaan gebuk onder armoede, Vigs, geweld, misdaad, ens. * Bid dat hulle hul invloed sal gebruik om antwoorde vir die uitdagings te vind.

• Geestelike diepgang. ‘n Suksesmentaliteit oorskadu die werk en die resultaat is dat daar oormatig aandag gegee word aan ‘n soort welvaartsteologie - genesing en finansiële voorspoed word beloof i.p.v. dat aandag gegee word aan ‘n heilige lewe voor God en saam met mekaar. Die gevolg is dat baie ontnugter raak met nie net godsdiens nie, maar met God.

• ‘n Terugkeer na God onder leiers - baie soek selfverheerliking, invloed en mag. Dit het verwoestende gevolge vir die Koninkryk!

• Effektiewe opleiding vir bediening.

• Eenheid onder gelowiges - verdeeldheid is diepliggend.

• Katolieke kerk is in krisis. Ongeveer 10% van alle RK gelowiges woon in Brasilië. Slegs 13% is egter aktief in hul uitlewing.

• Ander algemene uitdagings: Amerindiaane en ander armes val maklik terug op spiritisme.

• Sendelinge - veral mense wat vertalingswerk kan doen;

• Uitreik na die stedelike armes – hulle is die meeste blootgestel aan sosiale euwels, dwelms 

---
Bid saam vir die #9 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Jemen.

Bid saam vir die #9 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Jemen.

Die meerderheid gelowiges wat nog oor is in Jemen, is Christenbekeerlinge van Islam, omrede gemeenskappe van buitelandse Christene (van die Weste, Afrika en Asië) die land verlaat het, vanweë... 

Read more.

Vakatures vir predikante

NG Gemeente Stellenberg


Vakature: Voltydse leraar

Gemeenteprofiel:

Stellenberg-gemeente is ’n makrogemeente in die noordelike voorstede van Kaapstad en bedien woongebiede soos Stellenberg, Eversdal, gedeeltes van Durbanville en ook verskeie areas buite die tradisionele grense van die gemeente. Daar is ongeveer 5500 lidmate betrokke by die gemeente en word bedien deur vyf voltydse leraars en een pastorale hulp. ’n Voltydse kinderwerker is ook in diens van die gemeente.

Leraarsprofiel:

• Gelegitimeerde predikant van die NG Kerkfamilie.

• ’n Leraar wat die Here liefhet, dien en ook lojaal is teenoor die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

• Die breë spektrum van gemeentebediening (multi-bediening) is belangrik in dié pos. Dit sluit in alle vorme van pastoraat, prediking, gemeentebestuur, dissipelmaking en familiebediening.

• Bewese ervaring in gemeentebediening is ’n vereiste en spesifieke ervaring en vaardigheid in die bediening van kleingroepe en familiebediening is ’n sterk aanbeveling.

Belangstellendes word versoek:

• om ’n volledige CV met die name en kontakbesonderhede van drie persone wat as verwysing gekontak kan word, te voorsien.

• indien versoek word, moet die aansoeker bereid wees om ’n onderhoud by Stellenberg te kom voer met lede van die pre-advieskommissie.

• Leraars wat op die kortlys kom, sal versoek word om ’n opname van ’n preek wat gedurende die afgelope drie maande gelewer is, te voorsien.

Vergoeding:

Vergoeding volgens sinodale riglyne word aangebied.

Sluitingsdatum:

6 April 2018

Rig aansoeke aan:

Die Voorsitter Diensverhoudinge

E-posadres: stellenberg@stellenberg.co.za

Giggel

As jy op aarde 90 kg weeg, sal jy op Mars net 34 kg weeg.

Jy's nie oorgewig nie; jy's net nie op die regte planeet nie.

---

Hartlike groete uit die Sinodale Kantoor in Windhoek,