Header

Jaargang 15 - Uitgawe 18/2018 - Woensdag 30 Mei 2018

ngkn@ngkn.com.na

Roeping 2017 is die roetekaart vir ons kerk-wees die volgende paar jaar in Namibië.

In the moment of crisis, the wise build bridges and the foolish build dams.

Nigerian proverb.

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Radioprogramme

• Familie-nuus

• Voorbidding

• Giggel

Dominee, onthou om in te skryf vir die Predikante-konferensie, hoor!

Nuusbrokkies

OPWINDENDE NUUS! Bybel-Media is op pad na Namibië.

• 4 Junie in Mariental by NG Kerk Mariental.

• 5 Junie in Windhoek by NG Kerk Windhoek-Oos.

• 6 Junie in Otjiwarongo by NG Kerk Otjiwarongo.

Elke dag van 12:30 – 13:00 sal daar ‘n kategese praatjie wees by die onderskeie gemeentes. Hierdie praatjie sal meer inligting verskaf van watter kategese produkte tans beskikbaar is en watter produk die beste vir jou gemeente en jeug sal werk.

Van 13:00 tot 14:00 sal daar ‘n uitstalling van Bybel-Media wees om produkte sowel as kategese materiaal te verkoop. Gemeentes wat meer as R300 se bestelling plaas, sal ‘n GRATIS 2018 Jaarboek van die NG Kerk ontvang.

Ons nooi graag predikante, gemeentelede, boekwinkels en die publiek om ons uitstalling by te woon.

Vir meer inligting of enige navrae, kontak asb vir Ds Faani Engelbrecht by +27 83 856 1951 of musiek@bmedia.co.za

---

Bid saam vir die ekologie

• Dr Gustav Claasen

Alan Paton, die gevierde skrywer en filosoof, het gesê: “Die grond is heilig. Dit kom immers van die Skepper self. Onderhou dit. Beskerm dit. Sorg daarvoor, want dit onderhou die mens, beskerm die mens, sorg vir die mens. Vernietig die grond, en jy vernietig die mens.

Dié aanhaling en talle gedeeltes in die Bybel maak dit duidelik dat die welsyn van die skepping en die welsyn van die mensdom onskeibaar is. Hoe mense leef, het ʼn direkte impak op die skepping en wat met die skepping gebeur. Om hieroor na te dink word die eerste Sondag in Junie elke jaar as Biddag vir die Ekologie ingeruim.

Klik hier vir ʼn pragtige preekskets met liturgie vir dié geleentheid.

---

Die Hemelse Hofsaal - Gebedseminaar 7 Junie

• Ds Johannes Maritz

Elza Meyer was voorheen predikant in Moreleta Park en is tans die hoofuitvoerende beampte van Turn2God Bedieninge. Sy bied vanjaar die Pinksterdienste in Suiderhof en Okahandja aan.

Sy bied op 7 Junie 'n gebedseminaar, Die Hemelse Hofsaal, in Windhoek aan.

In die seminaar fokus Elza baie sterk op die blye nuus en geweldige effek wat die verlossing in Christus vir ons bied. Dit bied nie net vir ons sekerheid van ‘n lewe na die dood nie, maar open ook vir ons die weg tot ‘n lewe van intieme gemeenskap met God. In sy genade maak die Vader ons een met Christus (1 Kor. 6:17) en gee vir ons nou reeds saam met Christus ‘n plek in die hemel. (Ef. 2:6).Hebr. 4:16 bied vir ons op grond van hierdie waarhede ‘n wonderlike uitnodiging: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

In die seminaar gebruik Elza hierdie uitnodiging om lig te werp om die gebed van Daniël en die gebeure daar rondom. (Sien Dan. 7-10). God tree op as Regter en in Dan. 7:10 word gepraat van die hemelse hofsitting. Die seminaar wil gelowiges nooi om met vrymoedigheid as verlostes in Christus die hemelse hofsaal in te gaan en deur hulle gebede God vertrou om groot dinge te doen vir die koms van sy koningkryk op alle terreine van die lewe.

Plek: Suiderhof gemeente

Tyd:    10:00-16:00

Koste: N$40.00

Kontak: Sandra van Rooyen 0811248190; Joy Maritz 0811290597

---

Opknapping by sinodale kantoor

Die sinodale kantoor in Windhoek benodig bietjie opknapping. Dit sluit in verf aan die binnekant sowel as ‘n klein verandering aan die ingeboude werkoppervlak in die ontvangskantoor.

Kontrakteurs / nutsmanne wat kans sien vir hierdie werk word versoek om hulself van die omvang daarvan te vergewis deur ‘n besoek aan die kantoor te bring by Schanzenweg 46A, Windhoek. Op grond daarvan kan hulle dan ‘n kwotasie aan ds Clem Marais voorlê.

Navrae kan ook gedurende kantoorure gerig word aan 061-374350.

---

Pinksterfees NG Suiderhof

Suiderhof herinner aan hulle Pinksterontbyt en -reeks in Windhoek. 

---

Begin ‘n gesprek, met ‘n CLF pamflet, wat ‘n lewe kan verander!

Tydens die Junie/Julie-vakansie gebruik baie Christene die geleentheid om die boodskap van die evangelie met ander te deel. Soms as deel van 'n kerk of jeuggroep-uitreik, gemeenskapsprojek en ander tye op 'n meer informele manier – op roete by 'n diensstasie of by die vakansiebestemming.

CLF se pamflette is Bybelgefundeerd, Jesus-gesentreerd en lewensveranderend! Deel jou geloof met ander en laat hulle met 'n pamflet wat jou boodskap sal versterk selfs nadat jy weg is.

CLF se wye reeks *gratis pamflette en bekostigbare boeke kan jou uitreikaksies ondersteun om ‘n lewenslange impak te maak.

• CLF se “Gemeente uitreike” – pamflet bied waardevolle leiding oor hoe om voor te berei vir ʼn uitreik, te besin oor die doel van die uitreik, die rol van verhoudinge tussen uitreikspan en gemeenskap, praktiese wenke tydens die uitreik en ook na die uitreik.

• Nog pamfletonderwerpe wat van hulp kan wees is: “Hoe vertel ek vir iemand van Jesus?” en “Reik uit na ander met ʼn pamflet?”, “Die pad na God”, “Die goeie nuus van die evangelie”, “Hoe praat ek met my bure wat nie Christene is nie?”, “Seven Biblical guidelines”.
Ander evangelisasie en geloofsgroei-pamflette sluit in “God se besondere boodskap vir jou…”, “‘n Verhaal van twee broers”, “Geloof groei”, “ABC vir geestelike groei”, “Here, leer ons bid” (almal beskikbaar in Afrikaans, English, Xhosa, Sotho, Tswana en Zulu).

• Benewens CLF se evangelisasie pamflette, is daar ‘n wye reeks pamflette wat handel oor baie relevante maatskaplike kwessies soos bv. dwelm-en alkohol misbruik, geweld, depressie, HIV, ensovoorts.

• Taal kan baie maal ʼn struikelblok wees en die feit dat CLF se pamflette in soveel verskillende tale beskikbaar is – selfs Frans, Chinees, Portugees en Arabies – kan help om hierdie struikelblok te oorbrug.

• Geestelike leesstof in ons inheemse tale is skaars en daarom is ʼn uitreik die ideale geleentheid om ʼn predikant of gemeenteleier te seën met ʼn preekbundel in sy of haar eie taal. Sotho, Zulu, Tswana en Xhosa preekbundels is beskikbaar teen baie bekostigbare pryse.

• Geloofsgroei-materiaal vir kinders in hul moedertaal is belangrik om ʼn sterk geloofsfondasie van vroeg af te lê. CLF se drie pragtige en bekostigbare Kinderbybels in sewe van ons inheemse tale het al meer as 87 000 kinderharte (en ook diegene wat saamlees) oor ons hele land aangeraak. Ervaar self die vreugde om ogies te sien blink as kinders hul eerste storieboekbybel in hul moedertaal ontvang!

Vir verdere navrae of bestellings, skakel +27 21 8736964, besoek ons webtuiste by www.clf.co.za of besoek ons kantore in Oude Pont straat 19, Wellington Nywerheidspark, Wellington. *Posgeld uitgesluit.

CLF literatuur nou elektronies beskikbaar

Laai vandag nog CLF se gratis toepassing (app) af om ons pamfletinhoud gemaklik te kan lees, boekmerk en deel. Jy het nou die unieke geleentheid om verskeie kwaliteitpublikasies gratis op jou slimfoon of tablet af te laai. Die app sal jou ook toegang gee tot verskeie ander hulpbronne en aanvullende produkte. Hierdie is ʼn unieke geleentheid wat jy nie mag misloop nie! Besoek gerus jou aanlynwinkel (Google Play of iStore), tik “CLF” in die soekblokkie en laai die app gratis af.

Radioprogramme

Maak dit asseblief bekend in gemeentes?

Onder die Kameelboom

Ons vra verskoning dat die aangekondigde program nie verlede week uitgesaai is nie. Dit was weens omstandighede buite ons beheer.

Liturgies vier Christus se kerk tans die oorgang van Pinkster na die Koninkrykstyd. Boonop staan al die hoofstroom-kerke onwillekeurig ook in 'n oorgangstyd waar "millenials" (kinders gebore tussen 1980 en 2000) al hoe meer afskeid neem van die kerk, sonder om afskeid te neem van Christus. 1 Sam 3 is 'n teks wat in 'n tyd van oorgang (van Rigters na 'n monargie) gebore is. Clem Marais en Jan Woest gesels oor hierdie opwindende teks wanneer hulle Onder die Kameelboom kuier. Kuier gerus Sondag om 12:00 (of Dinsdag om 09:30) saam op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303.

---

Godsdiensaktueel op Hartklop FM

Luister elke Sondagmiddag om 16:30 na Godsdiens Aktueel op Hartklop FM, voorheen bekend as die Afrikaanse Diens van die NBC. Die Ned Geref Kerk is hierdie maand verantwoordelik vir die program. Dr Jan Woest lei die program.

Familie-nuus

Hulle verjaar in die volgende week...

• Sowaar niemand nie!

---

Karasburg kry nuwe dominee

Ds Aldo Liebenberg word DV op Dondag 3 Junie as nuwe predikant op Karasburg bevestig. Sy vorige standplaas was Port Nolloth. (Feldmuis dink nogal die vlaktes van die diep-suide is ietwat van 'n "far cry" van die Weskus af!)

Aldo, mag jou bediening in Namibië vir jou genoegdoening bring. Welkom!

---

Geluk, Hestie Hay-Blaauw!

Windhoek-Oos se ds Hestie is op 25 Mei met Henco Blaauw getroud in Windhoek.

Feldmuis wens hulle die allermooiste toe vir die nuwe hoofstuk saam.

---

Geluk, Dubois en Elida

Dubois en Elida du Toit (Suiderhof) het op 27 Mei die stralende ouers geword van Christiaan Dubois du Toit.

Hartlik geluk aan die nuwe ouerpaar. Mag ouerskap vir julle baie vreugde inhou, selfs te midde van pajama-dril-sessies!

* Intussen het Elida onlangs haar Oupa aan die dood afgestaan. Hy was die bekende Dr Johan van der Merwe wat in 'n stadium pastorale sielkundige hier in Windhoek was.

Voorbidding

Ons bid vir Namibië

Stuur asseblief gebedsversoeke aan clem@ngkn.com.na. Bydraes moet hom weekliks teen Woensdagoggend 10:00 bereik.

Grietjie Combrinck (Warmbad) se tweede chemo-sessie is agter die rug en sy rus tans voor die derde een DV op 7 Junie afskop. Daarvoor moet hulle weer Kaap toe gaan. Haar man, Johan, sê dit gaan goed met Grietjie, hoewel sy net gouer moeg word as waaraan hy gewoond is.

Dries Burger (Pionierspark) het verlede week oog-chirurgie ondergaan nadat daar skeurtjies in sy linker-oog se retina ontstaan het. Dit is dieselfde oog waarin hy 'n klompie jare gelede bestraling gekry het, en die vermoede is dat die huidige probleem dalk met die bestraling verband hou.

By Dienkie Froneman (ex-Lüderitz) is daar op 9 Mei met 'n biopsie kankerselle gevind in 'n letsel agter haar ribbebeen waar in 2014 'n operasie gedoen is. 'n Verdere PET Scan is nodig om meer inligting te kry en administratiewe rompslomp met toestemming, en so, het hierdie skandering tot more (Donderdag 31 Mei) laat sloer. Die uitslag van die PET Scan sal die span in staat stel om oor behandeling te besluit. 

Manus Olivier (Swakopmund) se bestraling is agter die rug. Hy moet nou 'n week in die Kaap bly voor hy terugkom huistoe.

Die foto wys vir Manus met sy spesiale masker op tydens 'n bestralingsessie.

Die tyd sal leer hoe suksesvol die prosedure was.

Gert en Jeanette Lubbe (Veritas Namibië) is van more af weer op pad met Veritas-opleiding, onder andere ook Angola toe. Hulle gebedsversoeke is:

• Bid saam met ons vir goeie gesondheid en beskerming teen malaria.(Malaria is hierdie jaar baie erg in Menongue)

• Bid saam met ons vir veilige paaie en dat ons voertuig teen breke beskerm sal word.

• Bid saam met ons vir die Deelnemers.  Vir ontvanklike harte en helderheid van verstand sodat hulle kan inneem en weer aan ander kan gaan vertel

• Bid vir die tolke wat nuut gaan wees.

• Dankie vir die persone wat finansieel bygedra het vir die leërs en brandstof vir ons besoek aan Angola

 

Onthou van Fresh se gebedsinisiatief Vrydag...

---

Ons bid vir Ghana 

Versorg deur Thijs van der Merwe – aan die hand van Patrick Johnstone en Jason Mandryk se Operation World

Oppervlakte 238,533 vk. km. Grasvelde in noorde, plase en woude in die suide. Die sentrale deel word deur die reusagtige mensgemaakte Voltameer - 520 km lank - gedomineer, die grootste in Afrika.

Bevolking 27.5 milj in 2018. Accra die hoofstad het 2.4 milj inwoners.

Politiek: Onafhanklik van Brittanje in 1957. Nkrumah se sosialistiese eksperiment was ‘n mislukking en dompel die land in armoede.

• Na sy omverwerping in 1965 het 5 militêre juntas en drie swak demokrasieë mekaar opgevolg.

• Rawlings se militêre bewind baan in 1992 die weg vir demokrasie en veelparty verkiesings

• In 2000 het uiteindelik stabiliteit gekom.

John KUFUOR van die opposisie New Patriotic Party (NPP) volg hom op en is in 2004 herkies.

John Atta MILLS van die National Democratic Congress wen in 2008 maar sterf in 2012 en word opgevolg deur John Dramani MAHAMA, wat die verkiesing in Desember 2012 wen. In 2016, word Nana Addo Dankwa AKUFO-ADDO van die NPP president – die 3e verandering van partye wat die volwasse wording van die politieke speelveld bewys.

Ekonomie:

Voer kakao, goud en hout uit en saam met toerisme is dit die grootste ekonomiese drywers.

Oor-spandering, wanadministrasie en korrupsie na onafhanklikheid het die ekonomie geknou.

• Sedert 1984 word daar stadig gevorder op die pad van ekonomiese herstel.

‘n Mensgemaakte meer met 'n hidroëlektriese aanleg aan die westelike grens is ontwikkel.

Ten spyte van rykdom in grondstowwe in vroeër tye, sukkel Ghana tans met armoede.

Die ryk tropiese woude is oorbenut; agv grondverarming en swak reënval verarm boere in die noorde. Tog hou die stabiele politieke toneel belofte in vir ekonomiese herstel.

Die olie industrie wat in kinderskoene is het groei gebring maar na die val in die prys van ru-olie in 2015 het verdienste gehalveer. Die Gas industrie is ook aan die opkom en verskaf elektrisiteit.

Sedert 2017, het die regering baie gedoen om die onderliggende probleme wat die ekonomie kniehalter aan te  spree ken is daar sukses te bespeur.

Godsdiens: Sekulêre staat met beperkte vryheid van godsdiens. Christene: 63.55%; Muslim 21%; Tradisioneel etnies 15.25% Baha'i 0.1% nie-Godsdienstig/ander 0.1%.

Loof die Here vir:

‘n Geestelike oplewing in Ghana.

• Die deursuur van literatuur, Scripture Union in die skole, die New Life for All Campaign van die 1980's en die evangelisasie vuur van verskeie kerke — het duisende ingebring en baie tradisionele Presbiteriaanse en Metodiste kerke laat opleef.

• Verskeie evangeliese, charismatiese en Pentecostal groepe het in die suide ontstaan. 

• Die National Survey van die Ghana Evangelism Committee (GEC) het gehelp met die daarstel van ‘n nuwe visie om vernuwing te bring, kerke te plant en agteruitgang in denominasies teë te werk.

• Gedurende die 1990's was daar ‘n groei in die uitreik na die animistiese en Muslims van die noorde

Beskikbaarheid van die Bybel: In 1965 was die Bybel in slegs vyf tale beskikbaar, teen 2000 was daar in 43 volledige Bybelvertalings, met verskeie projekte vir ander vertalings aan die gang.

Die sendingvisie van die kerk in Ghana het toegeneem en beide agentskappe en sendingwerkers is aan die toeneem.

Jongmense staan aan die voorpunt van die beweging van die Gees. Loof God vir hulle impak op sekondêre skole. Bid dat die invloed van bekeerde jongmense deurslaggewend sal wees in die kerk, sending en nasionale sake. Bid vir die roeping van voltydse bedienaars. Min kerke het effektiewe jeug-programme. Slegs 30% van die kerkgangers in jonger as 15 jaar, hoewel hierdie groep 45% van die totale populasie is.

Tree in vir:

Stabiele regering om verder te verstewig. Bid vir regeerders om God se wil te soek in die begeleiding van die land tot volwassenheid.

Die Christendom was grootliks beperk tot die suide. 64% beskryf hulself as Christene, maar net 40% het ‘n band met ‘n kerk en net 12% woon gereeld dienste by.

• Afrika tradisionele wêreldbeeld en praktyke gaan hand in hand met die aanspraak op Christenskap. Talle het na tradisionele kerke oorgegaan waar daar meestal min van die ware evengelie tereg kom, eerder ‘n sinkretistiese afgodedom word aangehang vermeng met Christus.

Bid dat mense sal breek met fetishisme en die okkulte, ean dat hulle bevryding in Jesus sal vind.

Visie vir die 21e Eeu: Die 1989 GEC konferensie se doelwitte is net gedeeltelik bereik.

Bid vir die uitdagings:

• Om gemeentes te laat toeneem van 22,600 tot 53,000. Teen 2000 was daar 30-35,000 kerke;

• Om 2000 nuwe kerke te plant in die noorde, Ooste en Westelike dele, sowel as onder landelikes in die suide. Dit moet nog bereik word.

• ‘n Aktiewe, getuigende kerk vir elke nedersetting, dorp, stedelike woongebied en landelike gebied. 70% van Ghana se nedersettings het steeds geen Christelike kerk nie.

Volwasse leierskap is ‘n knelpunt en die snelle groei, ekonomiese uitdagings en leer-verwarring maak dit dringend noodsaaklik om goed opgeleide leierskap op te rig!

Bid vir die Bybel skole asook die verskillende Afstandsonderrigprogramme wat dit probeer aanspreek.

---
Bid saam vir die #20 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Laos.

Bid saam vir die #20 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Laos.

Christene maak ongeveer 2% van die populasie in Laos uit. In meer ontwikkelde areas is daar redelike vryheid vir Christene om bymekaar te kom, maar in die landelike gebiede word baie Christene geteister... Klik om verder te lees >>

Read more.

---
Remembering Marawi, Philippines, one year on

Remembering Marawi, Philippines, one year on

Yesterday, 23 May, marked one year since the Islamic State-affiliated Maute jihadists laid siege to Marawi, Philippines, in a bid to expand and form a new caliphate in Southeast Asia. The five-month conflict crippled the city and forced its locals to flee. One of the survivors, Pastor Leo*, recalled what happened, “It was really nerve-wracking. Not a single second did …

Read more.

Giggel

---

Hartlike groete uit die Sinodale Kantoor in Windhoek,