Header

Jaargang 16 - Uitgawe 4/2019 - Woensdag 30 Januarie 2019

ngkn@ngkn.com.na

Roeping 2017 is die roetekaart vir ons kerk-wees die volgende paar jaar in Namibië.

Nuwe publieke kantoorure by sinodale kantoor

Maandag tot Vrydag 07:30 - 13:00

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Seminare

• Radioprogramme

• Familie-nuus

• Voorbidding

• Nuut by CLF

• Giggel

Nuusbrokkies

Aroab bederf pensioenarisse met Kersete

In 'n gesamentlike poging met die Villiage Council, het Aroab-gemeente verlede jaar nagenoeg 200 pensioenarisse in die gemeenskap bederf met 'n Kersete.

Die Boerevereniging het gehelp met tafels en die verskillende kerke het name gegee van bejaardes wat genooi kon word. Verskeie kore uit die Lutherse en Roomse-Katolieke Kerk se deelname het die geleentheid behoorlik 'n koorfees gemaak, sê Christo van Heerden, die plaaslike dominee.

Uiteindelik kon daar selfs etes afgelewer word by verswakte ouer mense wat nie na die ete toe kon kom nie.

Christo vertel hulle is oorval deur positiewe kommentaar uit die gemeenskap. "So iets het nog nie op Aroab gebeur nie," is gehoor. Die reste van ons sosiaal-maatskaplike geskiedenis, blyk uit mense wat sê dat hulle "...net kon sit en die witmense is bereid om ons te bedien, het 'n geweldige indruk gemaak".

Die Aroab-lidmate het die kos voorsien, hier 'n skaap , daar 'n koedoe en daar wors. Hulle was ook verantwoordelik vir die voorbereiding.

Hier is 'n foto-collage van die mooi geleentheid. 

---

Oondoongi Gardens is op dreef...

Die eerste 500 tamatieplantjies (waarvan die opbrengs ten bate van EcSOS se Salarisfonds vir Maatskaplikewerkers verkoop gaan word), is gepot!

Na verwagting sal die eerste oes oor so twee maande mark-gereed wees.

EcSOS benodig nog:

• Beesmis;

• Tuingrond;

• Kompos - enigiets soos grassnysels en boomblare kan werk; trouens, enige vorm van organiese bio-massa;

• Wildwerende heining vir vk meter. Huis Maerua het die stuk grond beskikbaar gestel, maar dit is langs 'n koppie. Daar kom soms wild en ons wil hulle nie voer met die groente nie!

• Skadunet 1100 vk meter

Skenkings kan by Huis Maerua besorg word te Demontestraat 24, Auasblick Windhoek.

Vir navrae, kontak Elario Müller by 081 809 5011, elario@ecsos.org.

Die chaos van voorbereiding het plek gemaak vir tamatieplantjies wat soos soldate op parade staan!

---

Droogte knyp wyd!

In sommige kringe word gepraat van die ergste droogte in 100 jaar hier in Suider-Afrika.

Van regoor die land vertel dominees van lidmate wat swaar kry. Daar is plase wat 7 jaar laas behoorlike reën gehad het.

Behalwe vir die droogte is die landbou-sektor onder hewige druk wat pryse betref - veral die kleinvee-sektor, sê Hanno Visser (Leonard).

Van Mariental laat weet Christo Swarts dit is uitermate warm en geen vog of reën sedert Oktober laasjaar nie. Hy sê dis die droogste wat hy die wêreld gesien het sedert hy 5 jaar gelede daar aangekom het. Een ou praat van 800+ karkasse wat hy al moes oplaai op sy plaas. ‘n Paar boere het opgemerk dat hulle vee nou in ‘n “laaste kamp met kos” ingejaag is. Indien die veld daar op is, is daar net nie meer nie...

Roelf de Wet (Kalkrand) meld dat daar verskeie boere in sy omgewing is met ernstige nood aan voer vir hulle vee. 

Uit die noorde kom berigte van saaiboere wat óf 'n kans gewaag het om te plant in grond wat eintlik te droog is, óf wat glad nie geplant het nie. Die bestaansboere noord van die Rooilyn is ook in krisis. Met dié dat hulle nie kon Mahango plant nie, voorspel dit kosskaarste in die winter.

Die uitsondering blyk die besproeiingsboere te wees. Die manne op die Hardap Skema lei steeds nat vanuit die dam en oes 2-3x per jaar. Dié dam trek egter ook swaar, en Mariental-dorp se ‘rouwater’ word tans beperk. Boonop word steeds meer besproeiingsgrond toegeken. Gevolglik moet die dam, na wat beweer word, twee maal meer voorsien as waarvoor dit gebou en beplan is.

Ook op Noordoewer & Aussenkehr boer die manne voort uit die Oranjerivier, maar is afhanklik van reën in die Oos-Vrystaat en Lesotho. "Die tafeldruiwe-boere hier soek nie reën soek nie, want dan kan die druiwe oopbars,"ds Dirk Coetzee. Hy sê hulle gemiddelde reënval is 75mm verspreid oor ‘n jaar.  "Ek is nou al meer as 3 jaar hier op Noordoewer en ek het nog nie 10mm in een jaar gesien nie," gaan hy voort.

Droogtehulp

Die skakelpersoon vir reëlings oor droogtehulp in Namibië, is Henriette le Grange by +264 81 124 9670.

---

Pinkster 2019 - vraag en aanbod...

Ds Jan Theron van Pionierspark skryf:

"Ons as gemeente nooi 'n plattelandse dominee om hierdie jaar ons pinkster te lei. As jy graag ons pinkster sal wil lei, kontak my by janpionierspark@gmail.com.

"Ek is ook beskikbaar om 'n pinkster iewers te lei, as daar 'n dominee of gemeente is wat so iemand soek. Kontak my by janpionierspark@gmail.com."

 (Nou wonder Feldmuis of hier nie dalk potensiaal vir 'n "kanselruiling" tussen stad en platteland is met pinkster nie?)

---

Koedoe-horings vir maatskaplikewerker salarisse

EcSOS het 'n geleentheid om koedoehorings te smous aan 'n maatskappy wat Shofars maak. Die opbrengs sal in die Salarisfonds vir Maatskaplikewerkers gestort word.

Hulle het 'n stuk of 7,000 horings nodig van 80cm en wat nie gate in het nie.

Horings kan by Huis Maerua, Demontestraat 24, Auasblick besorg word.

Navrae aan Elario Muller by 081 809 5011, elario@ecsos.org.

---

Maak 'n verskil met net N$100 per maand...

EcSOS kan tans net tot April die salarisse van die huidige Maatskaplikewerkers ten volle waarborg. Oondongi Gardens gaan op die lang termyn 'n verskil maak, maar daar is NOU 'n hekkie wat ons moet oor.

Feldmuis pleit onbeskaamd by sy lesers vir 'n verbintenis van N$100 per maand.

Gebruik die vormpie hier onder en besorg dit aan Elario Muller by 081 809 5011, elario@ecsos.org.

---

NG-nalatenskap bevoordeel Malawi

"Dankie vir die ‘inweiding’ wat julle gedoen het in die NG kerk se (sendings-) geskiedenis. Hierdoor het ek nu ’n goeie ingang."

Aan die woord is ds Willem-Henri den Hartog, Koördineerder vir GZB (Gereformeerde Zendingbond) in Malawi. Willem was vroeër ook dosent aan NETS.

Hy vertel daar het uit die NG-verbintenis in Malawi 'n vennootskap ontstaan tussen GZB en die Kaapse Kerk. "Ons het nu 2 sendelinge gestuurd naar Nkhoma in Malawi dit in saamwerking met die NG Kerk," gaan Willem voort. "In die foto sien julle Jaco en Anna Slingerland met hulle voorganger Hennie Smit. Jaco het Hennie se pos  as bestuurder van die waterleidingstelsel oorgevat. Anna gaan werk as fondswerver in die Nkhoma Sendingshospitaal." 

---

Seminare en kursusse

Verstaan die direkte 2020-vertaling van die Bybel

- ‘n Moderne Bybelvertalingskursus (UV)

Wil jy graag meer weet oor die vertalingsmetode agter die direkte vertaling van die Bybel wat in 2020 verskyn?  Die Departement Hebreeus aan die Universiteit van die Vrystaat het ‘n 3de-jaars semesterkursus in Moderne Bybelvertaling vir die tweede semester van 2019 ontwikkel om jou nuuskierigheid te bevredig.   Enige een met minstens Hebreeus 2 kan inskryf, al het jy dit 30 jaar gelede gedoen en is jou Hebreeus verroes. 

Die kursus word virtueel aangebied (ZOOM).  Jy kan dus in jou eie studeerkamer voor jou rekenaar sit en deelneem.  Jou klasmaats, die dosent en die Powerpoint-aanbieding sal op jou skerm vertoon en hulle sal jou en al jou vrae hoor!  Julle gaan oor die invloed van nuwe ontdekkings in die grammatika, literatuur en kultuur op die 2020-vertaling praat, asook die rol wat ideologie hierin speel.  Trouens, verskillende vertalings word uit hierdie hoek vergelyk... en daar is nog baie meer.  Die kursus is so prakties dat dit vir jou Bybelstudie en preekmateriaal in die hand sal gee.  Die koste beloop ongeveer R5 235 (RSA) en R7 625 (ander SADEC-lande).

Sluitingsdatum vir aansoeke is gedurende Maart 2019.  Jy sal as geleentheidstudent moet registreer, maar prof Cynthia Miller-Naudé (millercl@ufs.ac.za), Departementshoof van Hebreeus, sal jou hiermee help - kontak haar so spoedig moontlik.  ‘n Volledige inligtingspamflet is ook by Bertus Celliers (bertus9@mymtnmail.co.za), Barnard Steyn (bicsteyn@ngkvs.co.za) en prof Jacobus Naudé (naudej@ufs.ac.za / 078 458 9982), beskikbaar.  Klik ook hier vir ‘n meer volledige inligtingstuk oor dié kursus.

---

Huwelikseminaar by Pionierspark

Vrydag 8 Maart 18:00-20:30 & Saterdag 9 Maart 09:00-13:00

In die huwelik is man en vrou ’n eenheid: fisies, emosioneel en geestelik.
Maar soms is dit moeilik om prakties hierdie eenheid uit te leef!

Die reeks sal jou help om beter jou maat se behoeftes te verstaan en te vervul. 

Op hierdie manier sal daar dieper intimiteit en meer passie in julle verhouding wees op al die vlakke van eenheid:
Gesig-tot-gesig: Hoe om beter te kommunikeer en bewondering vir mekaar te toon.
Lyf-teen-lyf: Beleef meer seksuele vervulling en teerheid.
Sy-aan-sy: Hoe om die lewe saam te geniet en in julle geloofslewe saam te groei.

Moenie uitmis op hierdie geleentheid nie!

Dit kos R350 per paar (sluit verversings en inhoud in)
Kinderoppasdiens is beskikbaar teen R30 per kind vir die hele seminaar 3-12 jaar
Vir meer inligting kontak vir Jan by 081 850 7409 of janpionierspark@gmail.com
Besprekings: Kerkkantoor | 061 241 537 I ngkpionierspark@gmail.com
RSVP teen 5 Maart 2019

---

Cup of Life by Academia

---

L'Amour Heelword Sentrum

Verskeie kursusse is op die spyskaart vir 2019. Kontak Marna Schimper vir navrae by (sel) +264 81 127 7588, (faks) +264 62 504 486, (e-pos) info@lamourhealing.com

Multi-Level Neuro-Processing (Basiese Beradings Opleiding)

• Datum : 4 – 6 Maart 2019 (Bel-Asprit - Windhoek) en 23 -25 September 2019 (L’Amour – Okahandja)

• Kostes : N$4500.00

• Baie belangrik: Hierdie kursus is ‘n vereiste vir die bywoning van al die ander kursusse, behalwe die Life Coach kursus wat dit insluit.

MLNP Trauma Opleiding

• Datum : 13 – 15 Mei 2019 (L’Amour – Okahandja)

• Kostes : N$4500.00

MLNP and Ego-States

• Datum: 13 – 15 Junie 2019 (L’Amour – Okahandja)

• Kostes: N$4500.00

MLNP & Addictions (Verslawings)

• Datum: 16 – 18 Mei 2019 (L’Amour – Okahandja)

• Kostes: N$4500.00

MLP and Relationship Dynamics

• Datum : 10 – 12 Julie 2019(L’Amour – Okahandja)

• Kostes : N$4500.00

MLP Life Coach

• Datums : 21 – 26 Oktober 2019 (L’Amour Heelword Sentrum – Okahandja)

• Hierdie kursus kan ook oor ‘n jaar gedoen word. Jy doen dan drie fases van 2 dae elk.

• Datums : 7 – 8 Maart 2019 / 5 – 6 Augustus 2019 / 26 – 27 September 2019 (Bel-Asprit - Windhoek)

• Kostes: N$16000.00 (N$5400.00 per fase)

Radioprogramme

Maak dit asseblief bekend in gemeentes?

Onder die Kameelboom

Roeping en gehoorsaamheid bring omwenteling. Dit blyk uit die ervaring van die eerste dissipels wat geroep word. Jan Woest en Clem Marais gesels vandeesweek Onder die Kameelboom oor hierdie verhaal soos opgeteken in Lukas 5. Kuier gerus Sondag om 12:00 (of Dinsdag om 09:30) saam op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303. 

Godsdiensaktueel op Hartklop FM

Luister elke Sondagmiddag om 16:30 na Godsdiens Aktueel op Hartklop FM, voorheen bekend as die Afrikaanse Diens van die NBC. Die Ned Geref Kerk is in Januarie en Februarie verantwoordelik vir die program en dr Jan Woest is die gasheer.

Familie-nuus

Hulle verjaar in die volgende week...

• Elida du Toit (Suiderhof): Maandag 04/02; 081 4013261; dbtoit@gmail.com

Beroepe-nuus

• Ds Peet van Zyl (Gobabis) het 'n beroep ontvang na Hentiesbaai.

• Eros het vir Prop Marco Koch beroep, met opdrag gesins- en jeugbediening.

Onder die mes...

• Erik van Zyl (Kunene vir Christus) herstel goed na sy skouer-operasie verlede week. Hy sê hy het geen pyn nie, maar kla dat die hang-verband waarin die arm vir 6 weke moet bly, hom nogal inperk. Tog weet hy dis vir sy eie beswil dat hy soet is en getrou die fisio se opdragte uitvoer. Jy kan hom kontak by 081 149 3092 of erik@mtcmobile.com.na.

• Thijs van der Merwe (Windhoek) sê sy herstel na 'n knievervanging verlede week, is bietjie op-en-af. Die knie ietwat styf vanweë binneweefsel bloeding, wat mobiliteit inperk. Hy is tans nog in die Kaap en onder die (pynigende) hande van die fisio's. Die dokter is tevrede met sy herstel. Hy is per Whatsapp bereikbaar op 081 124 3641.

Voorbidding

Ons bid vir Europa

Versorg deur Thijs van der Merwe – aan die hand van Patrick Johnstone en Jason Mandryk se Operation World

Oppervlakte 22,978,500 km2 - 17% van die wêreld se oppervlakte en 74% daarvan word beslaan deur die Russiese Federasie. 52 lande - al die lande van Europa en die hele Russiese Federasie (met insluiting van Siberië wat tegnies in Asië is sowel as die eiland Ciprus omrede dit deel van die EU is).

Bevolking (2010) 732,758,546.

Tussen 1500 en 1940 die wêreld se mees dominante handels- en industriële streek.

Die swaai na 'n duur welsynstaat en beperking op handel en industrie het ontwikkeling begin inperk.

Die Marxistiese ekonomiese beleid in sentraal Europa het selfs ‘n erger impak gehad en veral ‘n negatiewe effek gehad op infrastruktuur, menslike hulpbronne en die ekologie.

Die politieke omwentelinge na 1990 en gepaardgaande veranderinge veral in die ekonomie het gelei tot geleidelike herstel van die oud kommunistiese lande se ekonomieë.

Die sterk EU, die stabiliteit en welvaart wat dit tot gevolg gehad het, maak Europa tans aantreklik vir mense in minder gegoede dele en daar word in instroming van wettige en onwettige immigrante beleef.

Die ineenstorting van die wêreldekonomie in 2008 het die Euro baie geknou en verskeie lande is op die afgrond van bankrotskap, veral Griekeland was erg getref en is steeds nog nie op 'n pad van herstel nie; ook Italië en Portugal en in mindere mate Spanje is werklik in die knyp.

Die Brexit proses waarin Brittanje aan die EU onttrek, bring spanning oor hoe die verhouding tussen die EU en Brittanje vorentoe sal lyk en bestuur sal word.

Die Muslim invalle van 8e eeu het Christendom uitgewis in die midde ooste en vir lank Europa afgesny van Afrika en Asië en sodoende evangeliese kontak afgesny.

Eers in die Reformasie het die kerk weer ‘n evangelisasie krag geword.

Ten spyte daarvan dat Europa in ‘n sekere sin die bakermat van die Christendom was het die kerk oor die afgelope jare agteruitgegaan in Europa sodat slegs ongeveer 10% vandag meelewend is.

Die tempo van agteruitgang is ook aan die toeneem.

Christene 71.34%; Nie godsdienstig 21.45%; Muslim 6.07%; Boeddhiste 0.35%; Jode 0.29%; Ander 0.19%; Hindoe 0.14%; etniese godsdienste 0.08%; Sikhs 0.07%; Ba’hai 0.01%; Chinese godsdienste 0.01%

Loof die Here vir:

• Die relatiewe vrede oor die afgelope 60 jaar het bygedra tot groei en stabiliteit.

• Die ineenstorting van Europese kommunisme wat lande oopgestel het en nuwe groei in die kerk gebring het. Die aanbreek van godsdiensvryheid op ongekende skaal. Die vervolging onder kommunisme was op ongekende skaal en het geweldige impak gehad, onder Stalin in die 1930s is 12 miljoen Christene tereggestel.

• Die versterking in die evangeliese teenwoordigheid en getuienis in Europa sedert 1990; die nuwe patrone van aanbidding wat mense trek; jeug netwerke wat besig is om te blom; Post-modernisme se bevraagtekening van die verlede wat groter openheid en selfs ‘n soeke na spirituele oplossings  meegebring het.

Tree in vir:

• Die Balkan state met hulle geskiedenis van etniese geweld waar daar steeds spanninge is;

• Kaukasië met etniese en godsdienstige diversiteit, geskiedenis van oorloë, geweld en onderdrukking wat gestel is in die olieryke area en die stryd om dominansie in die area;

• Die politieke toekoms van Rusland  bly onseker, Putin se sterkman houding maak dat buitelandse sowel as binnelandse beleid vinnig besig is om te lyk soos onder kommunisme en dreig om destabiliserend te raak;

• Die instroom van vlugtelinge uit die Midde-Ooste en Afrika plaas geweldige druk en bring spanning mee tussen verskillende lande in Europa; rassisme en etniese konflik is aan die oplaai; daar was nou in meeste EU lande terreur aanvalle uit Muslim geledere en die weerstand teen Midde-Oosterse immigrante laai op – bid vir ‘n nuwe weg, versoening en dat die Muslim bevolking beter sal assimileer,

• Areas van konflik:bid vir vrede en versoening in Noord Ierland, die Masque streek van Spanje, Tsjetsjnië in die Russiese Federasie. 

• Vir die Kerk: Tree in vir:

1. Nuwe vitaliteit en egtheid in ‘n tyd waar mense nuwe oplossings soek vir die lewe en sy uitdagings;

2. hoofstroom kerke om hulle evangeliese wortels te herontdek en egte getuies te word

3. die unlikened kerk in die lande wat uit kommunisme gekom het.

Nuut by CLF

Bybels vir kinders met kanker

Gedurende 2018 het CLF se Een miljoen Bybel-projek tydelik die fokus verskuif om Bybels in te samel vir kinders met kanker. Dit was ʼn groot sukses en CLF het skans van R95 000 se donasies ontvang vir hierdie veldtog.

Sedert die ontstaan van die Bybelprojek in Augustus 2010 tot einde 2018, het CLF 91,549 kinders geseën met hul eie Kinderbybel en bly ons harte droom om aan een miljoen kinders Bybels te gee.

Ons skop 2019 af met ʼn nuwe uitdaging aan al ons geloofsgemeenskappe. NG Kerk Ceresvallei het die inisiatief geneem om ʼn uitstalling van die Storieboekbybels in hul liturgiese ruimte te doen en soos fondse geïn word om Bybels te skenk, word die Bybels dan in hul gemeenskap versprei. So sien die gemeente hoe die Bybelpiramiede krimp en die kinders van hul gemeenskap geestelik versterk word. Op Sondag 27 Januarie het die NGK Ceresvallei-gemeente die projek aangegryp en ds Jandré Viljoen se uitdaging om die Bybels binne 40 dae geborg en te versprei en woeker nou om God se woord op hierdie manier by kinders uit te kry.  

CLF maak nou die Bybels wat deel is van die projek, teen ʼn spesiale afslagprys beskikbaar. God se Kinders kos nou slegs R70, Vertel my meer R35 en die Ja!Kleuter reeks R75 vir vyf boekies.

NG Kerk Ceresvallei daag alle Christelike kerke en families uit om dieselfde te doen!

Kontak ons by +264 21 873 6964 of stuur ʼn e-pos aan order@clf.co.za om jou besending vandag nog te bestel. Hou ons asb op hoogte van julle vordering met fotos en verhale waar kinders met Bybels geseën word.

Giggel

Die dief breek in en soek in die sitkamer rond vir waardevolle artikels. Skielik kom daar 'n stem: "Jesus hou jou dop!"

Hy skrik hom tot stilstand en staan vir 'n wyle doodstil. Toe daar niks verder gebeur nie, begin hy versigtig die TV ontkoppel. Toe kom die stem weer: "Jesus hou jou dop!"

Die keer lig hy vervaard met sy flits in die kamer rond om te sien wie praat. In die hoek sit 'n papegaai hom en dophou.

"Het jy dit gesê?" vra hy. "Ja," sê die papegaai, "ek probeer jou net waarsku dat jy dopgehou word."

Verontwaardig vra die boef: "Gmf, waarsku? Wie op aarde is jy?" "Moses," antwoord die papegaai. "Ha," sê die boef, "watter stupid mense noem hulle voël Moses?" "Dieselfde stupid mense wat hulle Rottweiler Jesus noem," antwoord die papegaai.

---

Hartlike groete uit die Sinodale Kantoor in Windhoek,