Header

Jaargang 16 - Uitgawe 6/2019 - Woensdag 13 Februarie 2019

ngkn@ngkn.com.na

Roeping 2017 is die roetekaart vir ons kerk-wees die volgende paar jaar in Namibië.

Rubrieke in hierdie uitgawe...

• Nuusbrokkies

• Tuisverpleërs beskikbaar

• Seminare

• Radioprogramme

• Familie-nuus

• Voorbidding

• Nuwe Bybelkor-publikasie

• Giggel

Nuusbrokkies

Otjiwarongo kry Standplaas-dominee 

Die kerkraad van die NG Kerk Otjiwarongo het op ‘n buitengewone kerkraadsvergadering op 29 Januarie 2019 eenparig besluit om vir broer Gerson Kuvare te beroep as standplaas-leraar te Otjiwarongo met as werksgebied Okakarara, Queen Sophia en die Engelssprekende populasie van Otjiwarongo wat in terme van die gereformeerde belydenis bediening verlang. 

Hierdie beroeping berus op die voorwaarde dat sy pos deur vennootskappe finansier sal word en nie deur die NG Kerk Otjiwarongo as sulks nie.  Die NG Kerk Otjiwarongo verbind haarself daartoe om hom ten volle by te staan in die proses om vennootskappe aan te gaan.

Sal u asseblief die inligting versprei so lank as wat u vlerke is?

Navrae: Bertie Liebenberg, Voorsitter Otjiwarongo Kerkraad, bertuslieb@gmail.com

---

Droogte-uitkoms, maar...

Sedert die afgelope naweek was die milde reën wat oor groot dele van Namibië uitgesak het, die talk of the town. 

Uit Koës skryf ds Pieter Conradie: "Die Here het vir ons geseën met wonderlike reën.  Van ons paaie is nou nog gesluit.  Op heelwat plekke het reënmeters oorgeloop en ander het goeie reën gehad." 

Ongelukkig is dit nie die hele storie nie. Pieter sê daar is ook plase wat so min as 3 tot 10 mm gehad het.  "Hierdie boere se moed is baie laag", gaan Pieter voort.  "My leierouderling, ‘n bekende boer, het gister sy totale vee-uitverkoping geadverteer.

'n Ander boer in dieselfde omgewing, wat 17 swaar-dragtige koeie en agt kalwers deur die weerlig verloor het, sonder dat dit gereën het, het ook besluit om maar sy boerdery op te gee. 

"Daar is nog ander boere in die Koës-omgewing met wie dit baie sleg gaan, veral noudat dit by ander so baie gereën het, maar by hulle nie en dit lyk asof die weer vir eers oor is," sê Pieter. Daar is ook ander dele van die land waar daar nog geen reën geval het nie.

Op sosiale media was ook foto's van boere in die Ariamsvlei-omgewing wat kleinvee verloor het deur verdrinking.

Kom ons bly in ootmoed en afhanklikheid voor die Here God aan wie die vee op 'n duisend berge behoort!

---

Sing saam met Windhoek-Oos

---

Eet Sondag by Schanzen-Oord!

Schanzen-Oord in Windhoek bied Sondagmiddae 'n bekostigbare buffet-ete aan tussen 12:30 en 13:30. Teen net N$70 per persoon (N$35 vir kinders tot 12 jaar oud) is dit 'n winskoop!

Sap en glase word voorsien, maar jy's welkom om jou eie wyn saam te bring.

Kontak Alene by 081 462 2933 vir navrae en bespreking.

Ten bate van Schanzen-Oord.

---

Nuus…maar ook nuttig

Hoe kan Kerkbode nuttig wees en sy lesers help? Dis iets waaraan ons werk hier in die nuuskantoor. Daar was wye reaksie op die jongste NG Kerk-koppetelling, soos berig in Kerkbode, wat ’n afname in doop- en belydende lidmate sedert die vorige jaarlikse se peiling toon.

In ’n soeke na sinvolle reaksies tot die tendense wat die data uitwys, skryf een lidmaat: “Die uitstuur van kinders uit die kerk na “kinderkerk” is geweldig destruktief vir die gemeente se lewe in die erediens”. ’n Ander briefskrywer uit die Noord-Kaap rig toe die volgende vraag oor dieselfde onderwerp: “Ons is ’n plattelandse dorp waar baie uitdagings die hoof gebied moet word soos byvoorbeeld kinders wat Sondagmiddae na koshuise in groter dorpe vertrek, kinders wat slegs by die kategeseklas afgelaai word.” Sy wil weet: Kan Kerkbode help deur by ander gemeentes te hoor hoe hulle dink oor jonges se rol in die erediens? Wat werk en wat werk nie? Natuurlik kan ons probeer help! Daarom publiseer ons vandeesweek ’n peiling by www.kerkbode.co.za presies hieroor. So kom stem en gesels saam in die kommentaarafdeling onderaan die  berig.

http://kerkbode.christians.co.za/2019/02/06/gee-raad-hoe-gemaak-met-kategese/

---

In LiG se Maart-uitgawe leef ons ongekunsteld

Ons dink aan Jesus se laaste dae op aarde. En stap saam op sy lydensweg.

Ons gee raad oor hoe om kinders eenvoudig groot te maak, en gesels met kenners oor die voordele van kaalvoet loop.

Lees hoe om jou eie lewe te vereenvoudig en te laat gaan … En kry raad vir daardie emosionele eet-buie.

‘n Paartjie vertel oor die lewe ná hulle huis afgebrand het. En Marinda Engelbrecht inspireer ons met haar Weskus-hartlikheid en lewenswysheid.

Christia Visser, ons voorbladnooi, gesels haar hart uit.

Die Maart-uitgawe is van 11 Februarie in winkels te koop.

LiG – vir jou en jou mense

Om nog van LiG se puik Christelike inhoud te lees, besoek www.lig.co.za

---

                              Wyse woorde

Eers het ek God altyd gevra om my te help. Toe het ek begin vra of ek Hom kan help. Uiteindelik het ek besef dat gebed net is om te sê: "Hier is ek, Here! Doen u werk deur my." - JAMES HUDSON TAYLOR

(uit Die Groot Gebedeboek deur Piet Naudé)

Tuisverpleërs beskikbaar

• Selma Goses, 081 231 3915

Tuisverpleegster van Swakop soek werk -  tot so ver as Windhoek.  Het bewyse van opleiding as ook goeie verwysings van mense wat sy versorg het.   Tarief  N$30.00  per uur of naaste aanbod.  Navrae ds Hein Schaaf: 081 297 7653.

• Mev Dina !Nuru-//Khoms (nou Koa), 081 341 1219

Privaatverpleegster / caregiver, opleiding by Joanniter Hilfswerk.

Seminare en kursusse

Huwelikseminaar by Pionierspark

Vrydag 8 Maart 18:00-20:30 & Saterdag 9 Maart 09:00-13:00

In die huwelik is man en vrou ’n eenheid: fisies, emosioneel en geestelik.
Maar soms is dit moeilik om prakties hierdie eenheid uit te leef!

Die reeks sal jou help om beter jou maat se behoeftes te verstaan en te vervul. 

Op hierdie manier sal daar dieper intimiteit en meer passie in julle verhouding wees op al die vlakke van eenheid:
Gesig-tot-gesig: Hoe om beter te kommunikeer en bewondering vir mekaar te toon.
Lyf-teen-lyf: Beleef meer seksuele vervulling en teerheid.
Sy-aan-sy: Hoe om die lewe saam te geniet en in julle geloofslewe saam te groei.

Moenie uitmis op hierdie geleentheid nie!

Dit kos R350 per paar (sluit verversings en inhoud in)
Kinderoppasdiens is beskikbaar teen R30 per kind vir die hele seminaar 3-12 jaar
Vir meer inligting kontak vir Jan by 081 850 7409 of janpionierspark@gmail.com
Besprekings: Kerkkantoor | 061 241 537 I ngkpionierspark@gmail.com
RSVP teen 5 Maart 2019

Radioprogramme

Maak dit asseblief bekend in gemeentes?

Onder die Kameelboom

Word soos die Vader - barmhartig in die praktyk. Dit, sou mens kon sê, is die appèl wat uit Luk 6:27-33 tot die leser kom. Jan Woest en Clem Marais gesels hieroor Onder die Kameelboom hierdie naweek.   Kuier gerus Sondag om 12:00 (of Dinsdag om 09:30) saam op Kanaal 7. Die stasie saai ook op internet uit (www.k7.com.na) asook op die DSTV-platform kanaal 825 en Go-TV kanaal 303. 

Godsdiensaktueel op Hartklop FM

Luister elke Sondagmiddag om 16:30 na Godsdiens Aktueel op Hartklop FM, voorheen bekend as die Afrikaanse Diens van die NBC. Die Ned Geref Kerk is in Januarie en Februarie verantwoordelik vir die program en dr Jan Woest is die gasheer.

Familie-nuus

Hulle verjaar in die volgende week...

• Peet Poggenpoel (Walvisbaai-Meersig): Vrydag 15/02; 081-128-5902; pgpoggenpoel@gmail.com

Grietjie Combrinck kry teleurstellende nuus

Johan Combrinck (Warmbad) laat weet dat dit vir hulle 'n teleurstelling was toe die dokter verdere chemo-behandeling vir sy vrou, Grietjie, gestaak het. Hy sê dat hulle nou maar die pad dag vir dag moet neem. Kontak Johan by 081 295 3090 as jy hulle wil bemoedig. Grietjie verjaar ook vandag (13 Februarie).

Voorbidding

Ons bid vir Argentinië

Versorg deur Thijs van der Merwe – aan die hand van Patrick Johnstone en Jason Mandryk se Operation World

Oppervlak: 2 780 092 km2 op die suidoostelike kus van Suid Amerika.

Bevolking: 43 miljoen, oorwegend mense van Europese afkoms - 84,5%. ‘n Fusie van verskeie nasionaliteite Mestiso; Ameridiane; Midde Oosterse mense dra tot ryke verskeidenheid by.

Onafhanklik van Spanje in 1816. Peron se wanbestuur en die linksgesinde terreur veldtog teen die bewind, lei tot 1976 se militêre bewindsoorname.

‘n Tyd van menseregteskendings volg waarin duisende spoorloos verdwyn, en derduisende gemartel en summier tereggestel word. Die Falklande oorlog teen Brittanje en genoemde vergrype lei tot die herstel van demokrasie in 1983.

Die twee opvolgende presidente van die afgelope dekade, Kirchner en Fernandez (eggenotes) het sake gestabiliseer en ‘n platform geskep vir ontwikkeling, maar hulle isolering van die ekonomie lei uiteindelik tot stagnasie. Met die verkiesing van Mauricio Macri in November 2015, begin ’n periode van hervorming.

Ekonomie: Ryk aan natuurlike hulpbronne en goed geskoolde werksmag. Landbou produkte soos beesvleis, soja, koring en mielies vorm 'n groot deel van die ekonomie.

Teen 1900 een van die wêreld se rykste lande – maar ‘n eeu van wanbestuur bring die land op die rand van ekonomiese ineenstorting. Weghol inflasie wat tot in die duisende persentasiepunte groei en verbreide armoede is die resultaat hiervan.

In 1989 kom Menem aan bewind en bring ‘n dramatiese wending ten goede mee.

Die land is nou besig om stelselmatig terug te keer na ekonomiese stabiliteit en groei sedert 2001 was sterk maar kon nog nie die middelklas herstel nie en groot armoede heers steeds.

Die era van Kirchner en Fernandez lei tot stagnasie en eers sedert die bewindsoorname van Macri in 2015 het sake verbeter en nuwe stimulasie van die ekonomie gegee. 

Godsdiens: Vryheid van godsdiens heers, maar met die Roomskatolieke kerk as Staatskerk.

Nie-godsdienstig 8.68% - die segment wat die meeste groei toon; Jode: 0,55%; Muslim: 0,75%; Animiste: 0,3%; Christene: 89,28%, met 0,7% groei pj.

Loof die Here vir:

• Dramatiese geestelike groei, herlewings wat standhoudend is en ‘n impak het op die gemeenskap; die groei in evangeliese kringe was dramaties, maar die Katolieke kerk het getaan;

• Die oplewing bring ook mee dat die land van die grootste evangeliste oplewer oor die afgelope paar dekades; sendingvisie groei ook geweldig en die land stuur groot getalle sendelinge die wêreld in.

• Evangelisasiewerk in gevangenisse het die effek gehad dat die land se gevangenisse getransformeer het

Tree in vir:

• Eenheid tussen gelowiges, en dat skadelike verdeeldheid opgelos sal word;

• Welvaartsteologie het begin blom, met baie negatiewe gevolge.

• Opgeleide leiers, die tekort aan diesulkes lê die verdere groei van die kerk in die wiele aan bande;

• Laagland Ameridiane wat tot geloof kom groei steeds, maar hulle is geneig om terug te val in animisme - veral as sake skeef loop in hulle lewens;

• Die ekonomiese agteruitgang in die 20e eeu het groot dele van die bevolking nadelig geraak – hulle het verarm en baie leef in kritieke armoede – bid vir uitreike na die stedelike armes wat ‘n enorme uitdaging is

• Bid dat die sendingvisie in die Argentynse kerk sal voortduur en dat hulle sal voortgaan met die werf en oplei van sendingwerkers om beide binnelands en buitelands te gaan werk – binnelands veral in die arm gemeenskappe waar die nood hoog is, maar ook onder inheemse groepe wat min of onbereik gebly het.

---
Bid saam vir die #4 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Libië.

Bid saam vir die #4 land op die Geopende Deure Wêreldwaarnemingslys, Libië.

Die burgeroorlog in Libië is alreeds sedert 2011 aan die gang. Georganiseerde misdaad floreer, en Christene word geweldadig... Klik om verder te lees >>

Read more.

---
Elderly women interrogated for 10 days

Elderly women interrogated for 10 days

Last year December, Ruhsari Kamberi (65) was arrested at her residence along with four other female Christians converts by members of Iranian Intelligence. They searched her residence, confiscating mobile phones, Bibles and other Christian materials, then took her to the intelligence offices for questioning. Ruhsari was interrogated from morning until evening for ten consecutive days, then released on a bail …

Read more.

Nuwe Bybelkor-publikasie

PREDIKER - LEWE MOET 'N REDE HÊ

PRYS: R120.00 

Die vrae waarmee die Prediker geworstel het, is ook óns vrae: Waarom leef ek? Waarvoor sloof ek my af? Om hierdie vrae te beantwoord, neem die Prediker ons op ʼn opwindende, maar soms ook worstelende reis. 

Hierdie boek is ʼn poging om, na aanleiding van die Bybelteks soos die Prediker dit eeue gelede neergeskryf het, die vraag na die sin van die lewe te beantwoord, ʼn vraag wat so oud soos die mensdom self is. 

Geniet die ontdekkingsreis saam met die Prediker en medegelowiges. 

SKRYWERS 

Kobus Myburgh het hierdie Bybelstudie oorspronklik in die NG gemeente Wierdapark in Centurion aangebied en Annene Mullins het dit verwerk en verwoord in ʼn Bybelstudieboek.

Johannes Mouton (wat die gespreksvrae opgestel het) is leraar van die NG Kerk Table View, Kaapstad.

KOOP NOU 

Inligting, Navrae en Diensverskaffing:

• Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8210

• Of stuur jou bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za

• Of koop met jou kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.org.za, klik dan op winkel, óf tik die produknaam in.

Giggel

Met erkenning aan The Clergy Coaching Network.

---

Hartlike groete uit die Sinodale Kantoor in Windhoek,