Uit die Hart van die Moderator – kom ons hou mekaar vas; ‘n Stukkie van jou hart vir kinders; Trots NG! …. lees daarvan en meer in Feldmuis eNuus van 16 Oktober 2019

http://namibie.ngkerk.net/?wysija-page=1&controller=email&action=view&email_id=117&wysijap=subscriptions&user_id=461

UIT DIE HART van die Moderator

Die moderator, Dr André Olivier predikant van Aranos skryf:

Die verteenwoordigers van Namibië staan in ‘n kringetjie in Benoni voordat ons terugvertrek –  huistoe!

Elkeen gee terugvoer van hulle verrykende belewenis van die samekoms van die breedste verband van die NG Kerk. Hulle het die teenwoordige Christus daar onmiskenbaar beleef.  Die omvattende aard en wye impak van die kerk het ook getref.

Met ons tuiskoms verneem ons van ons medegelowiges wat ongelukkig is met die uitkoms van die lang debat in die kerk oor selfdegeslag verhoudinge.

As een lid ly, ly ons almal. Dit raak ons diep.

Wanneer ons begin om oor hierdie aangeleentheid te dink en te praat moet ons aan twee dinge vashou. Die “wat” en die “hoe”.

Wat die saak betref het Namibie duidelike leiding in ons land en selfs wyer gegee in 2016, gegrond op 2004 en 2007 se besluite. Dit geld steeds.

Hierdie Sinode het ook die reg, as selfstandige kerk om haar eie besluite te neem en te handhaaf.

Die Algemene Sinode het egter ook  groot tree gegee in terme van “hoe” ons as medegelowiges met mekaar moet werk. Ons leer uit die Here se Woord duidelik hoe ons onder elke omstandheid met mekaar moet werk. Ten spyte van selfs skerp verskille.

Hieroor ‘n woord uit my hart.

In die eerste gemeentes was mense baie verskillend, met nog meer uiteenlopende standpunte as ons wat in Namibie woon. Hulle het dit reggekry om in hulle gebroke wereld ‘n eenheidsband te laat ontwikkel, so’ dat die kerk vinnig en suksesvol gegroei het.

Hulle kon selfs ten spyte van verskille, oor so ‘n ingryoende saak soos doop en besnydenis aan mekaar vashou. In hulle vashou aan mekaar, en wandel met mekaar in die Woord, het die besnydenis uiteindelik gewyk voor die die doop.

Hulle het begryp dat Jesus se hart hulle eenheid begeer het, soos ons dit vandag lees in Johannes 17. Hy verwag nog van ons om aan mekaar vas te hou “sodat die wêreld kan glo”.

Ons gaan ruim geleentheid kry om in gesprek te gaan oor ons verskille, of onsekerhede. Plaaslik en oor verbandsgrense heen. Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir elke ding.

Intussen tier ‘n verskriklike droogte voort. Ons land steier daaronder en die ekonomie wat maar net nie van sy knieë wil opstaan nie.

Kom ons dink in die eerste plek in deernis aan ons lidmate onder hierdie omstandighede, en staan hulle pastoraal by. Ons mag gewoon nie nog meer druk en spanning op vuisvoos mense sit nie. As leiers moet ons nou verstandig en empaties optree.

Dit is net die opgestane, gekruisigde Christus, soos uitgebeeld in Filippense wat vir ons helder koers kan gee oor ons eie optrede. 1 Korintiërs 13 leer ons ook dat alles wat ons doen soos ‘n leë blik sal wees sonder die liefde wat daar in Christus is.

Ek pleit uit my hart dat ons aan mekaar vashou met die liefde van Christus. Laat Hy ons deur die storms neem.

Hy is in die boot.