2016-getuienis oor die Bybel

2016-getuienis oor die Bybel

In ’n tyd en omstandighede waarin mense binne en buite die kerk ervaar dat:

  • baie bekende en aanvaarde standpunte bevraagteken word en verander,
  • daar ’n toename in onsekerheid, lewens-risiko’s en sosiaal-maatskaplike verval plaasvind,
  • gesonde en positiewe verhoudinge tussen mense versplinter en breek, en
  • onsekerheid en vaagheid oor die Christelike geloof se boodskap en getuienis in die wêreld en samelewing toeneem,

wil die NGKN getuig dat sy die volgende omtrent die Bybel bely:

  1. Die NGKN bely, as ’n kerk wat in die Gereformeerde tradisie staan, dat die Bybel die Woord van God is en dat die Bybel daarom:
  • Gesag het oor ons hele lewe, omdat dit aan ons betuig en ons daarvan verseker dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan die Here, sodat ons geroep word om in vertroue op Hom en in gehoorsaamheid aan Hom te lewe;
  • Betroubaar is, omdat God werklik is soos wat Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak, naamlik as Vader, Seun en Gees wat uit genade en in liefde ons mense se God is en Hy ons van harte oortuig om vas op Hom te vertrou;
  • Duidelik is, omdat die kerk hierin die helderheid van die evangelie van God se liefde en genade hoor, asook van die regverdige oordeel van God;
  • Voldoende is, omdat die Heilige Gees ons deur die Bybel alles leer wat ons mense nodig het en hoef te weet om in die Lewende God te glo en om sy wil te gehoorsaam (vgl. NGB Art. 7)

Daarom bely ons steeds gelowig dat hierdie waarheid omtrent die Skrif alleen, as God se openbarende Woord, vir ons bo alles is.

  1. Soos nog altyd vir die Gereformeerde tradisie, beteken hierdie belydenis vir ons:
  • Dat die Bybel nie vereis dat ons ons menslike denkvermoë, wat ’n wonderlike gawe van God is waarmee ons Hom dien, moet opoffer, ophef of nie gebruik nie;
  • Dat die Bybel nie gesien en hanteer kan word as ’n eksakte handboek vir historiese, etiese of wetenskaplike kennis in die moderne sin en opvatting van hierdie begrippe nie;
  • Dat die Bybel nie so direk en maklik is om met die verstand alleen te verstaan dat sommer enige mens op sy of haar eie, onmiddellik sonder enige deelname aan die groter christelike gesprek en ook die leiding van die Heilige Gees alles daarin volledig kan begryp en eiesinnig kan verklaar nie;
  • Dat die Bybel nie vir ons mense die volledige, feitelike en finale kennis oor alle aspekte van die lewe en werklikheid gee, sodat enige verdere menslike ondersoek, nadenke, gesprek of wetenskaplike navorsing nie nodig is nie.
  1. Ons bely verder ook dat God deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord lei. Dit beteken vir ons dat ons die Skrif as die lewende Woord van God hoor, ontvang en daarmee omgaan in gemeenskap met die Heilige Gees en met mekaar in die verwagting dat ons in en deur die lees en interpreteer van die Skrif God se openbaring van Homself en sy wil vir die lewe ontdek. Daarom was die kerke in die Gereformeerde tradisie nog altyd oortuig van die belangrikheid van ’n verantwoordelike luister na en interpretasie van die Skrif waardeur die kerk as geloofsgemeenskap, onder die leiding van die Heilige Gees, soek na die waarheid, geregtigheid en barmhartigheid wat God deur die werking van sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie oortuiging dat die kerk die Skrif moet interpreteer, blyk onder meer uit:
  • Die klem wat van die begin af gelê is en nog steeds word, op ’n goeie kennis van die oorspronklike tale (Hebreeus, Grieks en Aramees) waarin die Bybeltekste aanvanklik geskryf is, asook die voortgaande soeke na die beste benaderings en maniere vir verantwoordelike Bybelvertaling en Skrifuitleg;
  • Die beklemtoning dat die hele Skrif altyd gelees moet word in die lig van die kontekste waarbinne die tekste ontstaan het, sodat die tyd- en kultuur-betrokkenheid daarvan in ag geneem kan word met die interpretasie en uitleg;
  • Die voortgaande soeke na en gesprekke oor uitgangspunte, riglyne en reëls vir gesonde, geloofwaardige en helder eksegetisering en uitleg van die Skrif. Voorbeelde van sulke eksegetiese riglyne uit ons tradisie behels onder andere:
    • Dat die Skrif as geheel en konsekwent gelees moet word en nie slegs as enkele uitsprake of losstaande tekste wat buite verband verabsoluteer word nie;
    • dat Skrif met Skrif vergelyk moet word omdat die Bybel op ’n eienaardige manier ook as sy eie uitlegger funksioneer en die leser help om te verstaan;
    • dat die moeiliker dele van die Bybel in die lig van die makliker en duidelike dele vertolk moet word en
    • dat die Skrif altyd vanuit die hart daarvan, naamlik die evangelieboodskap van Jesus Christus, beluister, verduidelik en uitgelê moet word.
  • Die onderskeid wat in die uitleg van die Bybel gemaak is tussen verskillende dele van die Skrif wat ’n verskillende soort gesag en gewig dra (byvoorbeeld die onderskeid tussen die historiese en normatiewe dele van die Skrif, asook die onderskeid tussen die godsdienstige en morele wetgewing in die Skrif);
  • Die dankbare, maar ook kritiese luister na die (baie) manier(e) waarop die Bybel reeds in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en nog steeds in ons eie tyd deur medegelowiges in ons eie tradisie en kerk asook in ander tradisies en kerke uitgelê word;
  • Die vestiging en handhawing van kerklike praktyke vir die lees, interpretasie en verduideliking van die Skrif, soos veral in die prediking, maar ook in kategese, gemeentelike Bybelstudie, teologiese studie en akademiese navorsing;
  • En veral ook in die daarstel van belydenisskrifte waarmee die kerk daarna streef om die hart van die Skrif-boodskap duidelik te vertolk, helder te verwoord en gehoorsaam te aanvaar.
  1. Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oordeel oor wat die beste benaderings, riglyne, reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg is, bly dit vir die NG Kerk ’n basiese oortuiging dat die belydenis van die Skrif as Woord van God, nooit teenoor verantwoordelike Skrifuitleg staan nie. Die belydenis roep ons juis op om onsself, in gemeenskap met mekaar en met al die gawes wat God vir sy kerk gegee het, toe te lê op die soeke na die waarheid.
  2. In die lig van hierdie belydenis glo ons dat God ook in die uitdagende pluralistiese tye waarin ons vandag leef, sy kerk deur sy Woord en Gees in die waarheid sal lei. As Gereformeerdes verbind ons ons daartoe om, ook wat die ingewikkelde leerstellige sake en etiese kwessies van ons tyd betref, in hierdie oortuiging saam te soek na waarheid, geregtigheid en barmhartigheid. Ons glo dat hierdie soeke ’n ekumeniese strewe is, in verbondenheid met die kerk van alle eeue en die kerk regoor die wêreld. Waar ons van mekaar verskil, glo ons dat ons in gesprek met mekaar moet bly, in die gebed dat God ons liefde al meer sal laat toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. (Fil. 1:9-10)