Roeping 2017

’n Liggaam van geloofsgemeenskappe in Namibië wat uitdrukking gee aan die lewe van God Drie-enig

Oor God

Die Lewende God se Gees en Woord roep en leer mense om te leef in geloofsgemeenskappe wie se aard, voorkoms en praktiese lewe is soos die unieke andersheid van God self:

  • God ontmoet en help ons om die Heilige Drie-eenheid van Vader, Seun en Gees te leer ken soos hulle in diep Persoonlike verhouding in en met mekaar leef.
  • God Drie-enig is aktief teenwoordig in die wêreld deur getrou, liefdevol, genadig, vermanend, regverdig, vergewend, verlossend, vernuwend, dienend, self-opofferend, versorgend en gemeenskap-vormend met mense te leef.
  • Ons roeping op aarde is om beelddraers van God te wees, deel te neem aan God se unieke gemeenskapslewe en konkreet uitdrukking te gee aan God se liefdevolle aard.

Oor gemeentes en  dissipels

Daarom wil ons voor en met God wandel as geloofwaardige geloofsgemeenskappe en mense wat:

  • weet dat ons nie aan onsself nie, maar aan God Drie-enig behoort;
  • God alleen aanbid in onverdeelde trou;
  • met oorgawe en toewyding leef soos God self leef omdat God se liefde in ons teenwoordig is;
  • onsself aan die leiding en regering deur die Heilige Gees van Christus oorgee om aan God alleen gehoorsaam te wees;
  • gevorm word tot dissipels wat die Opgestane en Lewende Jesus volg deur vir God en nie vir onsself te leef nie sodat andere ook sy dissipels kan word;
  • daagliks deur innige geestelike omgang en gemeenskap met God Drie-enig self verdiep en verander word om al hoe meer die Beeld van Christus te vertoon;
  • as gestuurdes saam met God in Namibië beweeg en dien om God se wil en regering te bevestig;
  • geloofsgenote is wat in liefdevolle en genesende verhoudings met mekaar leef;
  • so leef en dien dat mense sal sê: “ons wil met julle saamgaan omdat ons sien dat God by julle is.”

Oor leierskap

Ons streef na die ontwikkeling van dienende gemeente begeleiers:

  • met ’n helder kyk na die toekoms waartoe God ons roep in Namibië;
  • wie se identiteit gewortel en gegrond is in die liefde van God Drie-Enig self;
  • wat oefen en aanhou om saam met mekaar en hulle geloofsgemeenskappe God se wil en roeping vir hulle konkrete omstandighede te onderskei;
  • wat koers aandui en selfopofferend die evangelie uitleef wat hulle van harte glo en verkondig.
  • wat persoonlik en in spanne daagliks hulle krag put uit ’n steeds verdiepende verhouding met die Lewende Drie-enige God

Oor verband

Ons wil groei tot ’n verband van reformerende geloofsgemeenskappe in Namibië:

  • wat as Liggaam van Christus ruimtes en geleenthede skep vir alle gelowiges om die Here God, mekaar en Namibië te dien met ontginning van die rykdom van gawes wat God in sy goedheid aan ons gee;
  • met soepel en aanpasbare organe, patrone en prosesse wat mense in staat stel en ondersteun om hulle roeping in al die unieke kontekste in Namibië uit te leef;
  • met eenvoudige, ooreengekome orde-reëlings wat dit moontlik maak om met integriteit verhoudings en verbande tussen geloofsgemeenskappe te stig en so Christus se Liggaam help en vrymaak om op organiese wyse te groei en God se regering in Namibië te bedien.