Namibiese Beleidsbesluite soos opgeneem in die Kerkorde (2016)
1. Bevoegdheid van Geestelike werkers (2006).
2. Homoseksualiteit (2016).
3. Namibiese Roepingsverklaring (2003).
4. Namibiseringsbeleid (1991).
5. Verskillende benaminge vir predikantsposte, (2006).
6. Gesindheid by tughandeling (2006).
1. Bevoegdheid van Geestelike werkers (2006)
Die Sinode wys kerkrade en ringe op die moontlikheid om via die Nam. Kuratorium van die Sinode en Algemene Taakspan Regte aansoek te doen vir die legitimasie en ordening van ʼn persoon met ʼn spesifieke opdrag. (2006) (Sien Funks Besluit van die AS pt. 9.1.)
2. Homoseksualiteit (2016)
- Die 17de vergadering van die Namibiese sinode van die NG Kerk (NGKN) neem kennis van uiteenlopende standpunte rakende die beoordeling van selfdegeslag seksuele verhoudings, ook standpunte wat op die Bybel gegrond is. Terwyl ons die integriteit aanvaar van gelowiges wat kan saamleef met die 2015-besluit van die Algemene Sinode, is die getuienis van die meerderheid van afgevaardigdes dat dáárdie besluit nie te rym is met hulle verstaan van die Skrif nie.
- Ons wil graag die teologiese gesprek oor selfdegeslag seksuele verhoudings laat voortgaan en versoek die moderamen om saam met ander Christelike geloofsgemeenskappe ’n gesprek te inisieer waar deelnemers sal oefen in die geloofwaardige lees en helder uitleg van die Skrif ten opsigte van gesagvolle leiding met betrekking tot etiese vraagstukke.
- Ons getuig dat ons etiese lewe oor die volle spektrum van die lewe strek en moedig navolgers van Christus aan om konsekwent te wees in hulle profetiese vermaning oor etiese vergrype in die samelewing. Die sinode is egter hartseer oor die oënskynlike gebrek aan entoesiasme onder gelowiges om etiese uitdagings anders as seksuele sake aan te pak.
- Ons getuig dat ons die Bybel nou só verstaan oor selfdegeslag seksuele verhoudings:
ons vertrekpunt is die bybel en die liefde van christus
- Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor selfdegeslag seksuele verhoudings soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
- Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God, die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense. Ons aanvaar ook in goeie trou mense met ‘n oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings se belydenis van hulle egte saligmakende geloof in God Drie-enig as ‘n geloof wat alleen berus op die genadige soenverdienste van Jesus Christus, ons Here.
Die onverklaarbare werklikheid van oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings vra pastorale sensitiwiteit en begrip
- Ons kan nie anders as om die bestaande werklikheid van mense met ‘n selfdegeslag seksuele oriëntasie te erken nie. Net soos wat daar baie ander werklikhede in die skepping is wat ons nie kan verklaar nie, kan ons ook ten spyte van baie navorsing en studie, nie afdoende verklaar hoekom dit is dat sommige mense se oriëntasie so is nie. Ons getuig dat die Bybel in geen taal praat oor die onverstaanbare werklikheid van hierdie soort oriëntasie by ‘n klein persentasie mense nie. In die Bybel word slegs deurlopend gepraat oor die neiging tot die praktyk van selfdegeslag seksuele verhoudings tussen merendeels mans. Ons besef en aanvaar dat mense met sodanige natuurlike oriëntasie nie bloot afwykende, immorele of sondige keuses maak om op so ‘n manier mens te wees nie.
- Deur die erkenning van die werklikheid van ‘n menslik-onverklaarbare oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings by sommige mense, aanvaar ons die verantwoordelikheid om hierdie mense met ‘n pastorale gesindheid van sensitiwiteit en begrip te aanvaar en respekvol te behandel as medemense voor die aangesig van die lewende God wat hulle as mens geskep het. Mag die Gees van Christus sy gemeente daarvan bewaar om in ‘n gesindheid van onverdraagsaamheid en geestelike hoogmoed, veroordelend, homofobies en verkleinerend aan enige mens te dink of teenoor hom/haar op te tree. Waar lidmate van die NGKN só teenoor mense met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie opgetree het, het ons skromelik in ons roeping tot genadige liefdesdiens in die Naam van Christus gefaal.
Die Bybel wys dade van selfdegeslag seksuele verhoudings af
- Ons besef dat daar in die Bybel eksplisiete vermelding is van ‘n verskeidenheid van seksuele optredes wat afwyk van God se oorspronklike bedoeling met seksualiteit. Praktyke soos buite-egtelike geslagsverkeer, bloedskande, verkragting, egbreuk/huweliksontrou, prostitusie en egskeidings word onomwonde in die Bybel vermeld. Vreemd genoeg word hierdie optredes nie elkeen op presies dieselfde wyse in die Bybel beoordeel en/of afgewys nie. Die twee seksuele optredes wat in die Bybel op die skerpste wyse veroordeel word, is prostitusie en selfdegeslag seksuele verhoudingsgedrag.
- Dat die sondige natuur van die mens se verval uiteraard ook in dade van seksuele aard na vore kom, maak dit nie die goddelike gegewe van menslike seksualiteit as sodanig sondig nie. Dit wat die Bybel ons egter oor die aard en gevolge van sonde leer, is ook van toepassing op praktyke wat in teenstelling tot God se bedoeling met seksualiteit gepleeg word. Sonde vernietig die mens se lewenspotensiaal en lei tot die ewige geestelike dood. Om die gawe van ons seksualiteit uit te leef op ander maniere as wat God daarvoor gewil het, is, soos ook die ondoelmatige uitlewing van enige ander gawe wat die Skepper aan die mens toevertrou het, sonde in die oë van die Here.
- Dit is opvallend dat die Bybel nêrens eksplisiet berig omtrent spesifieke dade van geslagsgemeenskap binne selfdegeslag seksuele verhoudings nie. Daar word slegs op indirekte wyse hierna verwys of oor die neiging daartoe gepraat en dan wel in ernstige veroordelende taal.
- Op grond van deeglike eksegetiese ondersoek is dit op geen manier tans vir ons in ons interpretasie van die Bybel moontlik om selfdegeslag seksuele dade te aanvaar en te regverdig nie. Dit strook volgens die Bybel nie met God se oorspronklike bedoeling vir menslike seksualiteit nie.
- Ons erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor selfdegeslag seksuele verhoudings in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.
Ons getuig dat die Bybel ’n selibate lewe vra van mense met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie
- Ons glo dat die Bybel duidelik is oor die goddelike gegewe van menslike seksualiteit. Ons verstaan dat seksualiteit primêr deur God bedoel is om die menslike geslag te laat voortplant binne die ruimte van gesinne, gegrond op ‘n onverbreekbare egverbintenis en trouverbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat mekaar liefhet. Dit is ook die ruimte waarbinne die mens vreugde vind in die beoefening van sy/haar seksualiteit, omdat die mens daarmee, ten spyte van die gebrokenheid van die skepping, met die hulp van die Gees van Christus tog daarna streef om te voldoen aan die wil van God self. Die kerk het immers deur die eeue heen getuig dat die goddelik-bedoelde uitlewing van die mens se seksualiteit in ‘n verhouding van trou, die een hoedanigheid van die mens is wat hom / haar op die mees lewens-vervullende wyse in verhouding tot ‘n medemens bring.
- Wanneer ons dus mense met ’n oriëntasie tot selfdegeslag seksuele verhoudings in ‘n pastorale gesindheid van aanvaarding as lidmate aanvaar, kan ons nie anders nie as om hulle te versoek om die verantwoordelikheid van die selibate lewe te aanvaar en hulle te weerhou van praktyke van geslagsgemeenskap in selfdegeslag seksuele verhoudings. Ons kies dit nie in eie reg en terwille van selfhandhawing nie, maar omdat ons nie anders kan nie as om sover dit binne ons begrip en vermoë is, getrou te bly aan ons verstaan van God se oorspronklike bedoeling met menslike seksualiteit soos die Bybel daaroor praat.
- Hierdie oproep tot ’n selibate lewe is nie bedoel om mense met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie te na te kom, te veroordeel of te verontreg nie. Eerder word dit gebore uit ‘n eerlike en opregte poging om in ons menslike swakheid, niks anders te wil wees of na te streef as om Christus, ons Here, te ken en aan Hom gehoorsaam te wees uit dankbaarheid vir sy onverdiende en onbegryplike genade in ons lewe nie.
- Ons is dankbaar vir alle lidmate met ’n selfdegeslag seksuele oriëntasie wat selibaat lewe en verseker hulle van ons voorbidding en liefde.
- Ons vra ernstig dat kerkrade die versoek tot ’n selibate lewe met sensitiewe deernis en die nodige berading aan mense met selfdegeslag seksuele oriëntasie sal rig.
Seksuele oriëntasie verhinder nie lidmaatskap nie
- Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap verstaan ons toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug. Ons onderneem om teologie-studente met ‘n selfdegeslag seksuele oriëntasie wat selibaat lewe, tot die predikantsamp toe te laat.
3. Namibiese Roepingsverklaring (2003)
- Ons glo die lewende Here het Hom aan ons verbind. Aan hierdie verbintenis hou ons vas. Net die evangelie van Jesus Christus bring heelheid en vrede. Christus maak ons profete wat hierdie evangelie oral met integriteit verkondig. Ons getuig van hierdie hoop wat in ons leef.
- Jesus het gesê ons moet mekaar liefhê. Soos Christus ons liefhet, moet ons ook mekaar liefhê. As ons mekaar liefhet, sal almal weet dat ons sy dissipels is. In gehoorsaamheid aan ons Koning Jesus, vat ons met alle Christene hande om saam te werk sodat die Koninkryk kan kom.
- God roep ons om hier in Namibië die volheid van Christus se liefde te leef. Dit doen ons as priesters deur daadwerklike aksies van diens en opoffering. Ons is geroep om te wees wie ons in Christus is: Sout vir die aarde en lig vir die wêreld.
- Ons glo in Jesus Christus wat opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel, wat sit aan die regterhand van die Vader, wat weer sal kom in heerlikheid, wie se Koningsheerskappy geen einde sal hê nie. Daarom gaan ons die toekoms hoopvol en met verwagting tegemoet. Ons het ʼn Here. Ons is sy Kerk. Ons het ʼn toekoms. (2003)
4 Namibiseringsbeleid (1991)
- Die sinode beklemtoon die belangrikheid daarvan dat die omvattende Koninkryksgetuienis van die Ned Geref Kerk hier te lande, steeds in die Namibiese konteks homself sal realiseer.
- Die sinode beklemtoon dat dit belangrik is dat veral die poste van predikante in die Ned Geref Kerk in Namibië mettertyd en sover moontlik, deur Namibiese burgers wat aan die toelatingsvereistes vir bedienaars van die Woord van die Ned Geref Kerk voldoen, gevul word. Met die oog hierop versoek die sinode kerkrade om:
2.1 te adverteer in die amptelike tydskrifte wanneer ʼn beroep in ʼn vakante pos vir predikant uitgebring moet word om sodoende NG-bedienaars van die Woord wat gebore Namibiërs is of Namibiese burgerskap verkry het, geleentheid te gee om aansoek in te dien;
2.2 die sinode se Namibiseringsbeleid in gedagte te hou, asook die probleme in verband met toekomstige verkryging van werk of verblyfpermitte vir NG- bedienaars van die Woord wat nie Namibiese burgers is nie.
2.3 in biddende opsien om leiding van die Heilige Gees ernstig te oorweeg om NG-bedienaars van die Woord te beroep wat oor Namibiese burgerskap beskik.
3 Die sinode versoek kerkrade om aansoeke vir werk- of verblyfpermitte vir bedienaars van die Woord via die sinodale kerkkantoor te kanaliseer (1991)
5. Verskillende benaminge vir predikantsposte, (2006)
1 Die Sinode wys daarop dat benamings soos “hulp-leraar” en “tydelike leraar’ asook “kontrakpos” en “emeritus-pos” liewer nie gebruik moet word nie.
2 Die Sinode keur die volgende woord-omskrywings goed:
- Termyn (bepaalde) pos – dit is ʼn pos wat met die goedkeuring van die ring geskep is vir ʼn bepaalde termyn en vir ʼn spesifieke taak en waarheen ʼn predikant beroep en bevestig word.
- Tentmakerpos – dit is ʼn deeltydse pos waar ʼn predikant na ʼn gemeente beroep is en daar bevestig is en vir ʼn vasgestelde gedeelte van sy tyd slegs ʼn gedeelte van sy lewensonderhoud van die gemeente ontvang (Vergelyk Nam KO 2012, Regl’e 15 en 16).
6 Gesindheid by tughandeling (2006)
Omdat ons verklaar dat ons aan mekaar verbind is, doen die sinode ʼn beroep op alle lidmate om nie ʼn amptelike tugpad te begin voor hulle nie die pad van Mat 18 geloop het nie. Die sinode versoek eweneens kerkvergaderinge om in die hantering van tugsake, die beginsels van Mat 18 konsekwent toe te pas. (2006)