Windhoek-Eros

NG Kerk Eros het in 2007 hul 50ste bestaansjaar gevier. Hier volg die verhaal van hoe die gemeente in die 1800’s as deel van die Windhoek Moedergemeente begin het, later afgestig het en onder leiding van 6 verskillende predikante tot vandag toe ontwikkel het.

Uit ‘n versameling plattelandse gemeenskappe wat gereeld bystand en besoek van Suid-Afrika ontvang het, is Windhoek Moedergemeente as die eerste Nederduits-Gereformeerde stadsgemeente gestig, maar dis eers in 1940 dat die eerste Nederduits-Gereformeerde geboue in Windhoek in gebruik geneem is. Dis vanuit hierdie gemeente wat NG Kerk Eros op 26 April 1957 gestig is. Ds. PL Scholtz word op 13 Junie 1957 as eerste leraar ontvang en bevestig. Op 10 Mei 1958 word die eerste kerkgebou ingewy. In Mei 1961 neem die gemeente afskeid van Ds. Scholtz.en na 4 maande sonder ‘n leraar word Ds. PA du Toit in September onvang & bevestig en in Maart 1967 tydens die tien jaar fees word daar afskeid geneem van Ds. du Toit.

Ds. PC van Rooyen word op 28 Mei 1967 ontvang en bevestig. ‘n Mede-leraarspaar, Ds. en mev. AS Benecke, is op 13 Junie 1971 in Eros gemeente ontvang en bevestig. Afskeid van Ds. PC van Rooyen vind op 8 Augustus 1971 plaas. In 1974 op 12 Maart, besluit die kerkraad om ‘n nuwe kerkgebou op te rig en 3 Jaar later op 15 April 1978 vind die inwyding van die nuwe kerkgebou plaas. In 1983 op 23 Januarie word Ds. GJ Engelbrecht by Eros gemeente verwelkom. Na agtien jaar diens aan Eros Gemeente veraat die Beneckes Windhoek op 30 September 1989. In Januarie 1990 word Ds. Serfontein as mede-leraar bevestig en hy trou op 6 April, die volgende jaar, met Betsie Smit.  Na 13 jaar in Eros verhuis die Engelbrecht gesin in 1996 na Suid Afrika en op 20 September 1997 word Ds. Van den Berg as 6de predikant van Eros verwelkom.

Eros begin in 1998 ‘n jeugbediening: Christelike Aksie TienerS of CATS en open die Cats Café in September van hierdie jaar. Hierdie groep maak dan ook hul eie CD die daaropvolgende jaar. Tans is Ernst Coetzee die Jeugwerker (sel: 0813873114 of epos: [email protected])

In April 2000 hou Eros hul eerste Oesfees. Dit vervang die ou bekende kerkbasaar en terselfdertyd neem Eros ook hul nuwe logo en missie “Christus alles in almal” in gebruik.

 Telefoonnommer van die Kerkkantoor: + 264 61 226157 of [email protected]. Besoek ook www.ngeros.com