Sinodale Kollektes

Huidige Sinodale Kollektes

Die sinode het gemeentes versoek om elke jaar ‘n spesiale offer op te neem vir die volgende werksaamhede:

  1. Namibia Evangelical Theological Seminary  (NETS)
  2. Stranddienste
  3. Hendrik Nell Studiefonds
  4. Salaris Ondersteuningsfonds
  5. Christelike Alkoholiste Diens (CAD)
  6. Huis Maerua (NG Kerk Kinder-huis)
  7. Bybelgenootskap van Namibië
  8. Biblia Walvisbaai
  9. Ecumenical Social Services (EcSOS)
  10. Hugenote Kollege
  11. Teologiese Fakulteite
  12. Christelike Lektuurfonds (CLF)
  13. Kerklike Maatskaplike Rade (KMR)
  14. Jeugbediening

Sinodale Kollektes: Doel van begunstigdes

  1. Namibia Evangelical Theological Seminary (NETS): NETS bestaan sedert 1991 en die NG Kerk het van die begin af nou bande met die inrigting. Hulle missie is om Christene toe te rus met kennis en vaardighede om toegewyde lewens te lei terwyl hulle die kerk en breër gemeenskap dien. Hulle bied beide residensiële kursusse en teologiese opleiding deur afstandsonderrig aan.
  2. Stranddienste: Die gemeente Hentiesbaai is die voog van hierdie jaarlikse dienswerk aan die weskus van Namibië. Hulle koördineer verskillende spanne dienswerkers wat tydens die Desember-vakansie by verskeie plekke aan die kus diens lewer. Die plaaslike kerkraad is verantwoordelik vir die bestuur van die fondse hiervan.
  3. Hendrik Nell Studiefonds: Die Fonds staan onder die beheer van die Sinode en bied beurse aan teologie en maatskaplike werk-studente of lenings aan enige ander voorgraadse student aan ’n erkende tersiêre instelling. Slegs lidmate van die NG Kerk mag aansoek doen om hulp.
  4. Salaris Ondersteuningsfonds: Die Fonds staan onder beheer van die Sinode en het ten doel om gemeentes te subsidieer waar die bediening as noodsaaklik geïdentifiseer is en die betrokke gemeente nie finansieel in staat is om ’n predikant te onderhou nie.
  5. Christelike Alkoholiste Diens (CAD): Die geld word in ’n Fonds gestort wat onder beheer van die Sinode staan en waaruit persone gehelp word om rehabilitasie vir middel-afhanklikheid te deurloop.
  6. Huis Maerua (NG Kerk Kinderhuis): Huis Maerua het ten doel om voorskoolse en skoolgaande kinders van beide geslagte wat deur ’n Kinderhof sorgbehoewend bevind en na ’n Kinderhuis verwys, is op te neem en te versorg binne ’n Christelike etos. Verder poog die Program om kinders in werkkringe uit te plaas as die vereiste standaard en opleiding bereik is en beoefen gereelde nasorg.
  7. Bybelgenootskap van Namibië: Die Bybelgenootskap van Namibië is lid van die wêreldwye gemeenskap van Nasionale Bybelgenootskappe en dien Namibië deur die mees effektiewe en bekostigbare verspreiding van die Bybel in plaaslike tale. Hierdie taak verrig die Bybelgenootskap in vennootskap van alle Christelike kerke.
  8. Biblia Walvisbaai: Die bediening staan onder beheer van die gemeente Walvisbaai en verrig hawesendingwerk onder seelui. Daar word veral gekonsentreer op seelui uit die ou Oosblok lande. Biblia funksioneer uitsluitlik op donasies, wat veral vir die aankoop van Russiese Bybels aangewend word.
  9. Ecumenical Social Services (EcSOS): Dit is die NG Kerk se maatskaplike dienste-organisasie waaronder die kerk se ouetehuise, kinderhuis en kerklike maatskaplike rade funksioneer.
  10. Hugenote Kollege: Die Kollege is nou geassosieer met die NG Kerk. Kursusse in Maatskaplike Hulpwerk, Vroeë Kindontwikkeling en Gemeenskapsontwikkeling word ontwikkel terwyl Maatskaplike Werk en Gemeenskapsontwikkeling na verwagting weer binnekort op graadvlak aangebied sal word.
  11. Teologiese Fakulteite: Die totale bedrag geïn word gelykop verdeel tussen die Teologiese Fakulteite van onderskeidelik die Universiteite van Pretoria, Vrystaat en Stellenbosch. Die onderskeie kuratoria wend die geld na goeddunke aan ten bate van die opleiding van predikante.
  12. Christelike Lektuurfonds (CLF): Die Christelike Lektuurfonds is ‘n nie-winsgewende organisasie wat gratis en bekostigbare Christelike leesstof, meestal in die vorm van pamflette aan verskillende taal- en bevolkingsgroepe in Suider-Afrika verskaf. Benewens die verskeidenheid Christelike pamflette het CLF ook ‘n aantal Christelike boeke met ‘n missionêre fokus en bedieningsmateriaal vir kerke in Afrika. CLF se bediening vind in vennootskap met individue, gemeentes, bedieningsorganisasies en uitreikaksies plaas. Daar word jaarliks meer as 1.5 miljoen pamflette versend – lektuur wat lewens verander met Bybelsgefundeerde antwoorde op die vrae van die lewe.
  13. Kerklike Maatskaplike Rade (KMR): Hierdie opbrengs word verdeel tussen die gesinsorgprogram in Walvisbaai (bekend as KMR-Walvisbaai) en Wildernis Terapie Windhoek (voorheen bekend as KMR-Windhoek).
  14. Jeugbediening: Fonds onder beheer van die Sinode wat ten doel het die befondsing of subsidiëring van jeugaksies van gemeentes wat ’n wyer teikengroep as net die eie gemeente het.